Zarine Roodt

Zarine Roodt

Boeke

Zarine Roodt skryf memoir oor haar lewensreis

Haar lewensreis het nie noodwendig verloop soos sy wou nie en sy het ʼn radikale beroepsverandering gemaak om haar geluk te verseker.

In haar memoir, Enkelreis (Hemel & See Boeke, R180) skryf sy hoe sy ʼn krisis beleef het kort voordat sy 50 sou word. Sy wou graag op haar eie êrens heen reis ter voorbereiding van haar vyftigste verjaardag, maar ook om haar voor te berei vir die tweede helfde van haar lewe. Die reis het haar geneem na Engeland en Griekeland. In Engeland het sy labirinte gaan besoek, omdat sy geglo het dit sou haar kon fokus en sou haar help om helderheid te kry oor haar lewe vorentoe. In Griekeland het sy haarself vir ʼn week afgesonder op die Griekse eiland Alonnisos en daarna het sy ʼn werkwinkel in terapeutiese skryfwerk bygewoon op die dorpie Kissos in die Pelion-streek. Die reis van drie weke was beduidend in haar lewe. Sy vertel meer oor haar boek en haar reis.
enkelreis

Waarom wou jy die boek skryf?
Ek het jare gelede in die kommunikasiekunde begin studeer omdat ek gehoop het om ná my studies vir ʼn tydskrif te skryf, as jy dit wil glo.  (My destydse inspirasie was Wilma de Bruin.)  Ek was naïef genoeg om te dink dat mens sommer so ʼn pos by ʼn tydskrif losslaan.  Maar na my honneursjaar het ek gesukkel om werk te kry en ek het as radiojoernalis by die SAUK in Bloemfontein begin werk.  Ek is ʼn jaar daarna genader om ʼn nuwe skakelpraktyk in Bloemfontein op die been te bring en so het my loopbaan in die skakelwese afgeskop.
Maar in ons middeljare word ons dikwels deur omstandighede “gedwing” om ons ware self op te soek.  En ek het mettertyd tot die besef gekom dat my eerste liefde steeds skryf is. Ná hierdie besef het dit my egter baie lank geneem om my skryfstem te eien … en ek het dit in memoir gevind.
Die groot gawe wat ek uit my oorsese reis van 2008 gekry het, was die konsep vir ʼn boek, my eerste en dit het neerslag in Enkelreis gevind.

Was dit maklik om jou persoonlike gevoelens in boekvorm neer te pen?
Vreemd genoeg, ja.  Ek weet nie hoe anders om te skryf as deur die bril van my eie belewenis van dinge nie.  En die vele kort ervaringstories wat ek oor die jare geskryf het, was goeie vingeroefeninge.

ʼn Deel van die boek gaan oor jou reis wat jy alleen aangepak het om labirinte in Engeland te besoek. Hoe beduidend was hierdie reis vir jou?
Ek dink meer beduidend as enige ander ervaring in my lewe, benewens die geboorte van ons enigste kind en my eerste aanskoue van hom.
Toe ek in Junie 2008 die reis aangepak het, het ek dit as ʼn angstige (een van die menopousale simptome wat ek ervaar het), selfs benepe vrou op die vooraand van 50 aangepak.  Die reis was ongelooflik bevrydend en ek het heelwat psigiese bagasie langs die pad afgeskud.  Die twee groot ervaringsmomente op die reis was die besef én ervaring dat ek nie alleen is op my lewensreis nie, ʼn besef wat ek nooit uit die religieuse onderrig van my kinder- en adolossentejare ontwikkel het nie; die tweede was die sterk wete dat ek sielkundig gesproke ʼn Rubikon oorgesteek het.

Jy noem in die boek jy is ʼn introvert. Hoe moeilik was dit om hierdie reis alleen aan te pak?
Glad nie moeilik nie.  En dis hoegenaamd nie bedoel om blasé te klink nie.  As introvert is my natuurlike keuse om tyd op my eie deur te bring.  Ek ervaar meer en prosesseer beter as ek nie weggelok word deur iemand anders se belewenis nie, selfs dié van iemand so na aan my as my man.  Wat dit wél moeilik gemaak het, was my swak navigasievaardighede en die feit dat dit doodgewoon op ʼn praktiese vlak makliker is om saam met iemand te reis.

Wat het jy uit hierdie reis oor jouself geleer?
Dat ek ʼn sterk kern en ʼn ongeskonde kern het.  En dat dit wat ek in die voorafgaande vyftien jaar op akademiese én praktiese vlak geleer het alles meewerk op hierdie punt van my lewe.

Hou jy ʼn dagboek?
Ek hou ‘n weekjoernaal.  Ek sit gewoonlik Vrydagmiddae stil by my huis en werk hieraan … vir my is dit die ideale manier om die week se gebeure te prosesseer en myself psigies in balans te bring.  Wanneer ek of ons op reis is, hou ek ʼn reisjoernaal – die dae loop gewoonlik so vinnig dat ek nie andersins die detail sal onthou nie.

Jy het ʼn radikale beroepsverandering gemaak. Was dit maklik of neem dit baie moed om so ingrypende verandering te maak?
Dié is nogal ‘n vraag waaroor ek die afgelope jare baie nagedink het.  En ek verstom my dikwels aan die stories in veral tydskrifte oor vroue wat oënskynlik maklik van een beroep na ʼn ander verwissel het.  Ek besef egter dat nie almal se prosesse so lank en stadig as my eie is nie.
Ek het besef iets is “verkeerd” lank voor ek die skuif gemaak het.  Die psigiese ongemak wat ek ervaar het, het my as’t ware genoop om uit die skakelberoep en alles wat daarmee gepaard gaan, te klim.  Die skuif self het vinnig gebeur en is deur heelwat sinchronisiteite gekenmerk.  Wat moeilik was, is die jare wat daarna gevolg het.  Dit het my baie, baie lank geneem om my pad te vind, en ek het dikwels op afdraaipaaie beland.  Ek glo in die waarde van terapeutiese ondersteuning en Jungiaanse analise en dit was van die wyses waarop ek op koers gebly het.

Waarmee hou jy jou nou besig?
Sedert die bekendstelling van Enkelreis aan goeie vriende in Januarie vanjaar, het ek ʼn paar ander boekbekendstellings gedoen en is ek genooi om oor die boek en my ervaring te gesels.  Ek geniet dit baie, en die soort vrae tydens die bekendstellings asook die terugvoering van mense wat die boek gelees het, laat my toenemend besef dat daar baie vroue is wat aanklank vind by my ervaring en uitklaring van “The Middle Passage”.
Ek is ʼn navorsingsgenoot by die Departement van Kommunikasiewetenskap aan die Vrystaatse Universiteit en ek werk op die oomblik aan ʼn artikel vir ‘n akademiese joernaal.  Ons het ook pas uit ons huis van 25 jaar getrek en is in ʼn oorgangsproses na ʼn nuwe huis wat heelwat van my tyd vereis. 
Ek hoop om die tweede semester, wanneer dinge rustiger is, voort te gaan met die konsep vir ʼn rétraite/werkskool wat ek graag op spesiale plekke met labirinte soos Temenos op McGregor vir vroue in dieselfde oorgangstyd as ek wil aanbied. 
En in my agterkop werk ek aan ʼn tweede boek, een oor droomwerk vanuit ʼn Jungiaanse oogpunt, alhoewel dit nog ʼn entjie in die pad af lê.