5._ek_soen_die_sphinx
Lewe + Liefdes

Brief uit Kaïro

Ek en my verloofde, JJ Gericke, bly in Kaïro, Egipte.  Ons woon al vir bietjie langer as ‘n jaar hier en ons is onderwysers by ‘n internasionale skool.  Ek gee klas vir graad 1 en JJ gee rekenaar en wiskunde vir die hoërskoolleerlinge. Ons gee skool vir Arabiese kinders, maar alles word in Engels aangebied.  Ek het gou baie lief geword vir die kinders en geniet dit vreeslik baie. Die skoolweek is van Sondag to Donderdag omdat Vrydag hulle heilige dag is.  Dis  ‘n wonderlike geleentheid om die wêreld te sien en internasionale werksondervinding op te doen.

Kaïro is ‘n groot, baie besige en vuil stad, maar gevul met vriendelike mense.  Die verkeer was iets om aan gewoond te raak, jy kan vir ure in rye staan.  Ek het nog nie een verkeerslig in Egipte gesien nie. Daar bestaan nie iets soos om in ‘n baan te ry nie en dis glad nie vreemd om ‘n gesin van vyf met ‘n baba op ‘n klein motorfietsie te sien ry nie.  Maar in Egipte help dit nie om ongeduldig te wees nie.  Jy pas maar aan en begin soos die Egiptenare bestuur en lê die heeltyd op die toeter.  

Kaïro is VUIL.  Gelukkig het ons vriende wat hier woon wat ons goed voorberei het wat om te verwag voor ons gekom het.  Dit was nogtans ‘n skok, maar dis iets wat glad nie die Egiptenare pla nie.  Soos alles anders word mens gewoond daaraan.  

Hulle het heerlike kos en ons eet graag by Egiptiese restaurante, alhoewel hier ook baie westerse restaurante en groot winkelsentrums is, net soos in Suid-Afrika. 

Hier is ‘n groot Suid-Afrikaanse gemeenskap en ons kuier gereeld saam en speel selfs op Vrydae saam ‘touchies’.  Daar is ook baie expats van ander lande waarmee ons gou vriende geword het.

Dit kan BAIE warm word, maar gelukkig is daar baie strande waar ons oor naweke en vakansies kan ontspan.  Die Rooisee is nie te ver nie, waar mens kan duik en snorkel, watersporte doen en in die heerlike water swem.  Daar is ook ‘n hele klomp ander strande net so 2 uur se ry van Kaïro af met hotelle en oorde. Ek  het Egipte nooit voorheen geassosieer met mooi strande nie, net woestyn.

Ons het al op ‘n Nylvaart gegaan en al die tempels besoek tussen Luxor en Aswan.  Ons was ook al Alexandrië  toe waar ons die biblioteek en ou ligtoring besoek het.  Natuurlik het ons ook al voor die piramides gestaan, ons aan die sfinks verstom, die museum met die mummies besoek, in die ou paleis (Citadel) geloop, en in die Egiptiese markte geskenke gekoop vir familie en vriende.

Ons skool het tans sy lang somer vakansie en ons kuier nou in Suid-Afrika by ons familie. Ons geniet elke oomblik van ons lewe in Kairo, maar dis darem lekker om weer bietjie in Suid-Afrika te kom kuier!

Groete

Jeanne-Mari de Villiers en JJ Gericke