federico_fellini_
Lewe + Liefdes

Die Towerkrag van rolprente

Ek word onmiddellik in my kop verplaas van die werklikheid na die wonderwêreld van die rolprentteater as ek springmielies ruik. Dis of dit my eie stukkie bederftyd is, tyd wat ek nie met ander mense hoef te deel nie. Dis net ek en die storie wat op die silwerdoek afspeel. Daar is niks beter as dit nie, behalwe wanneer ek op die naat van my rug op my eie bed lê met ‘n boek in die hand. Miskien moet mens nie kies tussen die twee tydverdrywe nie, mens moet fliek en jy moet lees. Ek en Elmari de Vos het hierdie week ‘n klomp boeke bymekaar gemaak wat verband hou met die rolprent- en televisiewêreld. Party gaan oor akteurs, ander oor filmmakers en sommiges was die inspirasie vir rolprente!

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

Masters of Cinema: Federico Fellini, Àngel Quintana (Phaidon, R99,95)
Alle ernstige rolprentgeesdriftiges weet wie Federico Fellini (1920-1993) is. Hy is een van die bekendste rolprentmakers uit die goue era van die Italiaanse filmbedryf en het in sy loopbaan vier Oscars gewen. In hierdie boek word die lewe en werk van dié eksentrieke rolprentmaker bekyk. Die boek help lesers ook om die werk van Fellini beter te verstaan. Dit is wonderlik geïllustreer met fotos uit sy roprente, van hom op stel in die regisseurstoel, asook filmplakkate. Hierdie reeks boeke deur Phaidon is ‘n wonderlike toevoeging tot jou biblioteek.

 Prime Time  

Prime Time, Jane Fonda (Ebury Press, R212)
In hierdie boek bespreek Jane Fonda hoe ouer mense (45 en op) ‘n energieke, liefdevolle en bevredigende  lewe kan lei. Sy kyk na nuwe navorsing rakende ‘n gesonde leefstyl en dek basies elf sleutelbestanddele vir ‘n meer geïntegreerde lewe. Sy vertel staaltjies uit haar persoonlike lewe en die lewenslesse wat daarmee gepaard gaan. Van die sleutelbestanddele wat sy bespreek, is gesondheid, fiksheid, liefde, sosiale groei en slaappatroon. Die aktrise, fiksheidspionier en skrywer is ‘n ikoon vir vroue van verskillende generasies.

 Asterix die Galliër  

Asterix die Galliër en Asterix en die goue sekel,  René Goscinny (PROTEA BOEKHUIS, R100)
Immergroen en immergewild! Of dit in boekvorm, op televisie of op die groot skerm is – hierdie verhaal bly ‘n wenner by oud en jonk. Die boeke is nou in Afrikaans beskikbaar danksy die vernuftige vertaling uit die oorspronklike Frans deur Sonya Van Schalkwyk-Barrois. Dis in strokiesprent-formaat. Dis asof daar ‘n tydloosheid is aan Asterix ten spyte daarvan dat dié karakter sy eerste verskyning reeds in 1959 gemaak het. Protea Boekhuis beplan om die hele reeks Asterix-boeke in Afrikaans te vertaal.

   

Robert Redford, the biography, Michael Feeny Callan (Simon & Schuster, R190)
Die skrywer het absolute toewyding en deursettingsvermoë gehad om hierdie boek te skryf, want Robert Redford is nooit ‘n gewillige kandidaat vir ‘n onderhoud nie, wat nog te sê ‘n biografie. Boonop is hy ook nie juis iemand wat ag lê daarop om betyds op te daag vir afgespreekte onderhoude nie. Maar Redford het wel toegestem tot hierdie biografie en Callan het deurgedruk, onderhoude gedoen, toegang gehad tot Redford se eie materiaal, van joernale, draaiboeke, korrespondensie tot honderde opnames op band en film. Dis ‘n omvattende biografie oor een van die groot onafhanklike rolspelers in die rolprentbedryf.

 Sweet Revenge: The Intimate Life of Simon Cowell  

Sweet Revenge: The Intimate Life of Simon Cowell, Tom Bower (Faber & Faber, R194)
Of mens van Simon Cowell hou of nie, mens kan nie anders om hom te bewonder vir hoe hy vir homself ‘n identiteit geskep het wat selfs groter as sommige regtige beroemde mense s’n is nie. In hierdie biografie word niks onder die mat ingevee nie, hier kry jy alles. Van Cowell se kinderdae, sy drome, sy pogings om ‘n loopbaan te skep, sy mislukkings, sy vele verhoudings en bowenal sy groot ego. Uit die boek is duidelik dat Cowell baie lief is vir homself en dat hy heel eerste na sy eie belange omsien. Tog is daar ‘n ander sy aan hom – die lojale vriend, ‘n liefdevolle seun en ‘n gedrewe sakeman. Interessante leesstof vir almal wat meer wil weet oor die verwaande man.

 Wolwedans in die Skemer  

Wolwedans in die skemer,  Leon van Nierop (Tafelberg, R210)

“As ’n hadida oor ’n huis vlieg en sy angsroep oor die vallei skeur, sê hulle dat iemand gaan sterf. Dit is dan wanneer die wolf uit sy skuilplek kruip om die roep te beantwoord…”

Leon van Nierop se skepping, Wolwedans in die Skemer, hou Suid-Afrikaners al van die sewentigerjare af op die punte van hul stoele – eers was dit ’n radiodrama en in die 1980’s is dit ook in ’n roman én televisiereeks omskep. En toe is daar verlede jaar ’n rolprent met van ons land se beste akteurs. ’n Herskryfde radiodrama en ’n splinternuwe roman is saam met die fliek vrygestel.

Die intriges, romanse en vrese van Ryno Lategan, Sonja Daneel en die personeel van Hotel Njala neem jou op ’n angsreis deur die mistige woude van Hazyview. – Elmari de Vos

 Die Wonderwerker  

Die Wonderwerker,  Chris Barnard (Penguin, R120)

Ons almal het van Eugène Marais – die digter en skrywer geweet. Maar met Die Wonderwerker het Chris Barnard ons voorgestel aan ’n geneser, ’n mesmeraaiser, ’n man wat sy hartseer en verlange met sy morfienverslawing wil stil maak.

Dawid Minnaar, Anneke Weideman en Elize Cawood het uitgeblink in die fliek, wat verlede September vrygestel is. Saam met die fliek, het die filmdraaiboek ook as boek verskyn. -EdV

 Krygsperd  

Krygsperd,  Michael Morpurgo en vertaal deur Kobus Geldenhuys (Protea Boekhuis, R130)

Wat gebeur as ’n tienerseun se geliefde perd aan ’n soldaat in die eerste wêreldoorlog verkoop word en na Frankryk verskeep word?

Kobus Geldenhuys se vertaling van War Horse, geskryf deur Michael Morpurgo, gaan oor vriendskap in die moeilike oorlogjare en vertel dié storie uit die perspektief van die perd, Joey.

Die fliekweergawe in 2011 was die eerste Britse fliek met Steven Spielberg in die regisseurstoel. Dit was benoem vir ses Oscars, onder meer vir 2011 se beste fliek. - EdV

 A Jacana Pocket Biography: Ingrid Jonker  

A Jacana Pocket Biography: Ingrid Jonker,  Louise Viljoen (Jacana, R79,96)

Met gedigte soos Die Kind, Korreltjie sand, Ek herhaal jou, Kabouterliefde en Toemaar die donker man het Ingrid Jonker die wêreld van letterkunde verander .

Wêreldwyd lees mense die bekroonde skrywer se gedigte in onder meer in Engels, Duits, Frans, Nederlands, Pools, Hindi en Zoeloe.

Dié boek in die Jacana Pocket Biography-reeks, geskryf deur Louise Viljoen, beskryf Ingrid Jonker se kinderdae, haar huwelik, egskeiding, verhoudings en die laaste dae voor haar dood. In 2011 is Paula van der Oest se rolprent, Black Butterflies, oor Ingrid Jonker se lewe vrygestel. Dié fliek het sewe internasionale toekennings gewen en was vir nog twee benoem ook. – EdV

 The Adventures of Sherlock Holmes  

The Adventures of Sherlock Holmes,  Sir Arthur Conan Doyle (Canterbury Classics, R147)

Was Sherlock Holmes dalk die begin van gewilde televisiereekse soos CSI, NCIS en The Mentalist?

Dié speurder uit die wêreld van klassieke letterkunde se vreemde gewoontes en benadering tot misdaad, hou mens keer op keer op die punt van jou stoel. Die vermaaklikheidsindustrie weet dit baie goed – in 2009 het Robert Downey Jr. en  Jude Law met die rolprent Sherlock Holmes ’n obsessie met dié speurder begin. Die tweede fliek, Sherlock Holmes: A game of shadows het Holmes finaal een van ons gunsteling speuders van alle tye gemaak.

’n televisiereeks, Elementary, met Lucy Liu en John Lee Miller is ’n moderne weergawe van Sir Arthur Conan Doyle se Holmes-reeks (Woensdagaande op M-Net speel).

Canterbury Classics se nuwe reeks boeke stel nou The Adventures of Sherlock Holmes vry in een bundel met ’n sagte leer-omslag. Hier kan jy nou self lees oor die dierbare Watson, die verleidelike Irene Adler. - EdV