yeongwol
Lewe + Liefdes

Die uitdaging van ‘n ander manier van doen en die avonture van ‘n nuwe landskap in Suid-Korea.

Ons dorpie, Yeongwol, in die noorde van Suid-Korea, is die toonbeeld van veiligheid. Hier is jou grootste vrees dat die winkel op die hoek al weer nie kaas het nie! Ek en my man loop snags laat winkels toe as ons skielik lus word vir roomys of sjokolade. Hierdie vryheid was vir lank vir ons so vreemd dat ons dit met agterdog bejeën het. Vandag kan ons nie sonder die veiligheid klaarkom nie.

Soggens word jy nie meer begroet met die reuk van spek en eiers nie, maar iets wat ruik soos ‘n vars vissie gebak in rioolwater. Te danke aan ‘n vlak rioolstelsel hoef ‘n mens maar net in die straat af te stap om ‘n dosis van onbeskryfbare reuke te kry!

 Op pad skool toe loop ek verby ‘n agema (ou tannie)wat besig is om rissies uit te droog in die straat, en ‘n oorvloed van afgetredenes wat fluks rondstap vir geen sigbare rede nie. Party is baie vriendelik en maak altyd ‘n buiging as ek verbystap, maar ander het nog nie vrede gemaak met die waygooks (uitlanders) wat hulle klein dorpie beset het nie.

My skool is die laaste struktuur voordat ‘n asemrowende toneel van berge voor jou ontvou. In die somer is dit immergroen so ver as wat jy kan sien en in die winter is alles bedek met ‘n dik sneeu-kombers. Daar is geen diere hier nie, maar tot my spyt, talle insekte en spinnekoppe. Soms verbeel ek my die geskree van die besies is eintlik ‘n voëltjie wat fluit. Dan mis ek my ma se agtertuin vol vinkies en suikerbekkies.

Die verlange wat die swaarste op my hart druk, is dié na my familie – my klein nefie wat ek nie sien grootword nie, my ouma se Sondagmiddag-ete met pampoenkoekies en aartappelgereg wat ek nie meer kan proe nie en die  muffin- en-koffie-afsprake saam met my ma Saterdagoggende waarvoor ek nie meer vroeg hoef op te staan nie.

Sou ek hierdie ervaring verruil vir die troos van die bekende? Nooit! Die misterie van ‘n ander kultuur, die uitdaging van ‘n ander manier van doen en die avonture van ‘n nuwe landskap maak hierdie ervaring kosbaar en onvergeetlik. Iemand het eenmaal gesê dat die lewe ‘n boek is en dié wat nie reis nie net een bladsy lees. Ek stem heelhartig daarmee saam.