Lewe + Liefdes

E-pos uit Pittsburgh, Pennsilvanië, Amerika

Waar woon julle?
Ek en my man, Kevin Ozimek, albei ingenieurs, woon in Butler en werk in Cranberry, twee voorstede van Pittsburgh. Dié stad is sowat ‘n uur per vliegtuig noord van Washington DC. Pittsburgh het sy ontstaan te danke aan die staal- en steenkoolbedryf, maar het ontwikkel tot ‘n nywerheidstad

Hoekom is jy soontoe?
Ek het as ingenieur in Suid-Afrika gewerk en is Pittsburgh toe gestuur om met ‘n projek uit te help. Die aanvanklike kontrak van twee maande is herhaaldelik verleng. Ek het Kevin, ‘n Amerikaner, ontmoet en ons is in Oktober 2010 in Butler getroud.

Was die aanpassing vir jou moeilik?
Die grootste aanpassing was die weer. Pittsburgh het vier definitiewe seisoene met warm somers, bitter koue winters met sneeu, ‘n matige herfs en dan heerlike lentedae.

My eerste poging om motor te bestuur was van Pittsburgh se lughawe af. Ek het kort-kort bruin klippe in die pad sien lê en hard probeer om almal mis te ry. Net om later te besef die ander motors ry bo-oor die klippe wat dan disintegreer, omdat dit vuil sneeu was wat van ander motors afgeval het.

Herfs is pragtig met die boomryke gebiede wat in die mooiste kleure getooi is voor die blare afval, wat die plaaslike verwysing na “fall” eerder as “autumn” verduidelik.

Mettertyd het ek geleer waar om bekende soorte kosse en speserye te koop. Koejawels en lietsjies is byvoorbeeld onverkrygbaar en vrugtesapsoorte is beperk. Die botter en bruismeel het reeds sout in, wat tot ‘n paar erge souterige disse gelei het! “Jerky” is nie regtig biltong nie, want dit word van gaar vleis gemaak. Dan het die meeste kosse “corn syrup” in, wat dit soet laat smaak, selfs wors en “jerky”. 

Dis ‘n goeie ervaring om kos direk by die Amish-boere te koop. Die staat Pennsilvanië het die tweede grootste Amish-gemeenskap ter wêreld. Hulle gebruik geen elektrisiteit nie, maar perde vir hul boerdery-bedrywighede.

Ek beleef die mense in Pittsburgh as baie vriendelik en hulpvaardig. Dit kan dalk verklaar hoekom Pittsburgh die Amerikaanse stad is waarvandaan die minste mense wegtrek en waarheen die meeste inwoners weer terugkeer sodra hulle kan.

Wat beteken jou Afrikaanse wortels vir jou?
Ek het nog familie en vriende in Suid-Afrika en sien af en toe SA ingenieurs in Pittsburgh. Ek verlang soms na regte SA kos, soos pannekoek, boerewors en biltong. Ek maak nou met sukses my eie biltong, beskuit en pannekoek. Dis ‘n vreugde om by die South African Food Shop in Charlotte, Noord-Carolina,  inkopies te doen, maar dis ongeveer 8 uur per motor van Pittsburgh af. Ek kan aanlyn SA produkte koop, maar die verskepingskoste is duur.

E-posse, Smartphones en Skype maak dit makliker om daagliks kontak te behou met familie en vriende in Suid-Afrika, maar dit vergoed nie regtig vir lekker persoonlike kuiers en koffiedrink-sessies nie. Om van die O.R. Tambo-lughawe tot op Pittsburgh lughawe te vorder, neem ongeveer 23 uur met die mees direkte vlugte. Dit maak kuiers moeiliker as wanneer ‘n mens in Europa sou gebly het.

Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?
Enige hulp is moeilik bekombaar en baie duur. Die meeste mense maak maar self hul huis skoon en hou hul tuin in stand. Huisvesting is duur teenoor Pretoria, maar redelik in vergelyking met ander dele van Amerika. Kospryse is redelik, behalwe skaapvleis wat duur is teen US$32 per kilogram. Amerika is ongelooflik groot en dit verg baie tyd om iewers heen te ry en regstreekse vlugte tussen stede is skaars. Motors is sowat 60% goedkoper as in Suid-Afrika en brandstof kos sowat R8 per liter.

Hoe ontspan julle?
Pittsburgh het ‘n wêreldklas- filharmoniese orkes, baie teaters, ‘n casino, talle museums en die sogenaamde “strip district”, waar snuisterye en kos van reg oor die wêreld Saterdae op vlooimarkte verkoop word. 

In die winter word alle soorte sneeusport beoefen. Laat herfs tot vroeg winter is forelhengel gewild in die baie riviere en strome in en om Pittsburgh. Permitte kan ook verkry word om wilde bokkies te jag in sekere gebiede.

Die mense in Pittsburgh hou van sport. Die plaaslike wedstryde van die yshokkiespan, die Penguins, asook die voetbalspan, die Steelers, word passievol ondersteun en word baie goed bygewoon.  Pittsburgh se sagtebalspan, die Pirates, speel nie te waffers nie.

Interessante dinge in Pittsburgh?
Die inwoners praat ‘n dialek, “Yinzers”, ook bekend as “Pittsburghese” of “Pittsburgh English”, en daar is selfs boeke oor die dialek in die winkels beskikbaar.

Mis jy Suid-Afrika?
Pittsburgh bied baie voordele en my man en sy familie is hier gebore en getoë. Ek mis Pretoria se weer, sonskyn en windstiltes. Lekker “huiskos” en onbeplande kuiers by familie en vriende, en die SA sin vir humor, wat verskil van Amerikaanse humor. Al het elke plek sy eie voor- en nadele, bly Pittsburgh ‘n veilige plek om te bly en hier is beter geleenthede as op baie ander plekke. Emigrasie bly ‘n uitdagende proses, wat ek in my boek Conquering America: Tales of an Immigrant [Bloomington: AuthorHouse, beskikbaar op Kalahari.com] beskryf.

  • Tjaart Herbst

    Ek het die kykie in jou lewe baie geniet! Dit is soos jy se, niks kom by die onbeplande kuiers van familie en vriende nie, maar ek is dankbaar dat ons wel daardie tegnologie het.

  • Henriette Ozimek

    Ja ek kan nie myself indink sonder Skype en Smartfone nie. Ek werk net nog hard aan die idee van ‘n "teleporter" ;).

  • Louise Horak

    Mis jou vriendin, maar jy doen goed! Lekker gelees 🙂

  • Janetta Roos

    Baie interessant om ‘n kykie in jou lewe daar in die vreemde te kry. Ons is saam bly dat jy so goed herstel na die ongeluk met die "snow mobil".