Die 4 mites van geluk - kenner sê
Russ Harris, skrywer van The Happiness Trap, sê daar is 4 mites oor geluk. Ons kenners sê as jy dié mites omverwerp, is jy al 'n stap nader aan geluk
Mite 1 - Ons moet van nature gelukkig wees.
Waarheid: "Die natuurlike aard van die mens is eerder om voortdurend te ontwikkel en groei en dis net uit ongemak dat ons dit regkry," sê Bea Potgieter, kliniese sielkundige van Johannesburg.
Mite 2 - As jy nie gelukkig is nie, is daar fout met jou.
Waarheid: Prof. Ian Rothmann sê jy is dalk geneties geprogrammeer om minder plesier as ander te ervaar, maar jy kan steeds geluk vind deur by aktiwiteite betrokke te raak. Bea voeg by: "Geluk is nie 'n eindbestemming nie. Dis 'n reis vol verrassings en dinge wat geleer moet word."
Mite 3 - Raak van negatiewe gevoelens ontslae en jy sal 'n beter lewe hê.
Waarheid: Wonderlike kreatiwiteit het al uit negatiewe emosies gespruit, sê prof. Rothmann. Laat die gevoelens na vore kom en werk daardeur. Opgekropte emosies kan lei tot onder meer depressie, angs,
verslawing en eetsteurnisse. Dit maak wel sin dat jy ook positiewe emosies moet ervaar, sê hy. "Doen
daarom dinge wat vir jou lekker is. Só het jy 'n 40% kans om jou eie geluk te beïnvloed." Kyk ook na die groter prentjie en vra jouself af of die negatiewe ding wat gebeur het werklik nog oor 'n jaar sal saak maak.
Mite 4 - Jy moet kan beheer wat jy dink en voel.
Waarheid: Jy kan aanleer om meer beheer oor jou gedagtes en gevoelens te hê, maar dis nie so maklik nie. Ons ís menslik. Bea sê omdat jy groei as jy jou denke en emosies ruimte en tyd gun, sal te veel beheer
groei en heling belemmer. Maar moet ook nie oor die negatiewe wroeg nie. Dit maak die hartseer
erger en beïnvloed jou vermoë om probleme op te los.
Lees in die Oktober-uitgawe van SARIE hoe gelukkig jy werklik is.
Verwante artikels
-
Gelukkige liefde
SARIE - Februarie 2006
Sy het voor my gestaan. Alles aan haar het van skoonheid gestraal. En in haar oë was die liefde. En op daardie oomblik het ek geweet ek moet haar waarsku.
-
Hoe gelukkig is jy?
SARIE - Junie 2007
Geluk kan gemeet word, en dit beteken jy kan jouself gelukkiger maak
-
Moenie kwaad vir mekaar gaan slaap nie. Mite?
SARIE - November 2010
-
My lyf bepaal my geluk
SARIE - Januarie 2009
Hoekom kan ek ná al die jare steeds nie my ongelukkigheid oor my liggaam hanteer nie?
-
Negatiewe gedagtes
SARIE - Desember 2009
















Kommentaar