Die aarde skud in Chili - 'n sarie.com-gebruiker vertel

Deur Talana Stramrood, SARIE Maart 2010

Ek woon nou al 19 jaar in Chili, so 'n entjie buite Santiago op 'n plot. Ek hoor al 19 jaar lank van mense wat praat oor aardbewings en hulle ondervindings, wat jy als moet doen en nié moet doen nie. Was ek gereed daarvoor? Nee!

Niemand is ooit gereed vir so 'n verskriklike ondervinding nie!

Ons slaap vas. Dit is 'n pikdonker warm somersnag. Ewe skielik begin die grond brul, 'n ondergrondse kwaai geraas kom uit die grond.

Toe kom dit. 

Die vensters skud, die bed beweeg, die glase val uit die kaste. Die skilderye val van die mure af.

Daar gaan duisende gedagtes deur my kop! 

My sesjarige seuntjie word wakker, in die donkerte soek ons skoene. Ek, my man en my kind in sy arms vlug buitentoe – na die vlakte toe. Ons kan nie reguit loop nie. Die grond beweeg op en af, die mure van ons huis bewe soos jellie, die Jeep spring op en af, die swembad se water beweeg soos branders en spoel oor die muur. Dit was die langste 90 sekondes van my lewe.

Ons wag buite om te sien wat volgende kom. Die volmaan skyn helder. Alles is doodstil. Die honde blaf nie eens nie. Net toe ons dink alles is verby, toe kom die naskokke. 

Klein bewings, groot bewings, ondergrondse geluide sonder bewings. Maar ons is bang, sal dit weer gebeur? 

Ons is darem almal lewendig en baie dankbaar. Ons familie in Suid-Afrika weet dit nie. Die lyne is dood, die rekenaar, die selfone – niks werk nie.  Twee dae later sien ons eers al die skade op die nuus. Die land is in chaos, die mense is bang, die skade strek van die noorde tot die suide. Ons kan nie glo dit is die land waarin ons woon nie.

Die pragtige strande in die suide is weggespoel. Die mense is almal in skok oor alles en almal wat hulle verloor het. Wat kan ons doen? Bid en hoop dat dit eendag weer 'n land sal wees soos ons dit ken, en baie dankbaar wees dat ons lewendig en veilig is!

Maar een ding is seker: Niks kan 'n mens ooit voorberei vir so 'n verskiklike ervaring nie!

Verwante artikels

Kommentaar

Web Development by FormFunction