'Die ballon in my kop' - Joernalis kry beroerte op 34

Deur Kay Karriem, SARIE - Julie 2009

'Die ballon in my kop' - Joernalis kry beroerte op 34 Foto’s: Nick Aldridge Galery

Nadat sy - op net 34 - 'n beroerte gehad het, beskou joernalis Kay Karriem die wêreld in 'n ander lig. En mense kyk ook anders na háár ...

Vanoggend vat alles langer. Vir joernalis Kay Karriem voel die drie blokke na haar kantoor in Kaapstad soos 'n marathon. Haar kop voel asof dit gaan bars. Die laaste 100 m is kompleet soos sy haar altyd verbeel het die laaste draai van die Comrades moet voel vir die bittereinders.

Sy voel asof sy wil kruip. Die kopseer raak al hoe erger. Sy kan nie meer dink nie. Daar is net plek vir twee gedagtes. Pyn. Kom by die kantoor uit. Sy maak dit. Weet nie hoe of hoe lank nie.Toe sy haar weer kom kry, staan sy voor haar kantoordeur. S

y staan en staar. Sy kom weer "by" toe iemand aangehardloop kom om haar handsak op te tel. Eers later besef sy: Sy kon nie die deur oopsluit nie, want haar handsak het uit haar skielike lam hand geval, maar sy het dit nie eens agtergekom nie.

Haar kollega sien dadelik daar's fout en wil mediese hulp kry, maar Kay skop vas: Daar skort niks. Haar woorde sukkel om uit te kom, maar sy hoor dit nie. Uiteindelik kry hulle haar sover om huis toe te gaan. Sy val op die bed neer en slaap byna 24 uur.

Toe sy wakker word, is die lamheid weg, maar die kopseer is steeds daar - net so erg, indien nie erger nie as die vorige dag. Bel kantoor toe: "Stuur die motorbestuurder, ek moet hospitaal toe."

Dis daar waar sy sou hoor wat skort: Sy't 'n beroerte gehad - presies nege dae ná haar 34ste verjaardag.

 

Kay vertel self:

 

"Nou weet ek hoe dit voel om MIV-positief te wees. Wel, byna . . . Almal praat oor jou, min mét jou. En niemand noem dit op die naam nie.

'Siekte.' 'Ongesteldheid.' 'Toestand.'

Beroerte, stroke, serebrale ongeluk as dit moet! Maar dis oukei. Ek is 34 jaar oud en ek het verlede jaar 'n beroerte gehad. Niks om oor skaam, geskok, benoud of verleë te wees nie. Niemand se skuld nie.

Nou wil ek elke gesprek begin soos iemand wat by 'n AA-vergadering aansluit: 'Hallo, my naam is Kay. Ek het 'n beroerte gehad.' Oor en verby.

Die beroerte-besigheid hou my net op. Dis asof ek elke keer moet verifieer dat al die varkies op hok is. Dis uitputtend en alles vat langer.

'Ja, ek is oukei, ja, een plus een is steeds twee, Kay is nog steeds die elfde letter van die alfabet, Evita bly op Darling nie op Sweetheart nie . . . en so aan.'

Eers dan kan ek by die eintlike rede vir die gesprek kom. Aan die ander kant was ek ook nog altyd iemand

Mites oor beroerte

Vroue kry nie beroerte nie.

Volgens dr. Adriaan Snyders, kardioloog van Pretoria, kry meer mans as vroue tot op 55 beroerte. Daarna is die twee geslagte se risiko byna ewe groot.

Jonger mense kry nie beroerte nie.
Dr. Snyders sê dit kan op enige ouderdom gebeur. Maar dit is só dat jou kans groter is hoe ouer jy word. (Vir elke 10 jaar ná 55 verdubbel dit. En sowat twee derdes van alle beroertes is by mense ouer as 65.) Hoë bloeddruk en cholesterol is risikofaktore, veral by ouer mense. Daar is 'n verband tussen hormonale veranderinge by jonger vroue (swangerskap, geboorte en die menopouse) en beroerte.

Ook as jy die Pil en hormoonvervangingsterapie (HVT) gebruik. Jonger vroue wat rook se kanse is twee keer groter om beroerte te kry, volgens 'n studie in Stroke:

Journal of the American Heart Association.

Volgens dr. Alan Bryer, hoof van die beroerte-eenheid aan die Universiteit van Kaapstad, is daar nie goeie bewyse dat beroerte by mense jonger as 45

toeneem nie. Die geval van Matthew Moir (31), SA branderplankryer wat vroeër vanjaar 'n beroerte gehad het, noem hy "ongewoon maar nie raar nie".

Die eenheid spesialiseer juis in jonger beroerte-pasiënte waar die oorsaak nie duidelik is nie.
- Lydia van der Merwe

 

 wat soms 'gek' speel vir die pret. Ek is jammer. Ek gaan ophou. Ek maak almal net bekommerd. Maar die gespeel is ook nie altyd net speletjies nie.

Een van die grootste dinge wat die beroerte in my brein 'losgeskud' het, was my emosies. Ek is 'n ekstrovert - ek praat maklik, lag maklik en raak maklik kwaad, maar ek het nog nooit maklik gehuil nie. Nou raak ek vinniger aan die tjank as enige sepiester. Dit was net nie ek nie. Ek wou huil oor wat met my gebeur het, huil van blydskap dat ek dit gemaak het, huil van kwaadgeit oor mense my nou anders behandel, tjank van moedeloosheid oor ek nie kon ophou tjank nie. En erger nog . . . tien minute later kon ek nie ophou giggel nie.

Dié gemoedskommelings ná 'n beroerte is algemeen, het die dokters my verseker en pille voorgeskryf. Die ergste van alles was die verlies aan beheer. By die werk het ek gestuur en bestuur. Ek was koel in 'n krisis - dis nou totdat die ballonnetjie in my kop anders besluit het.

Deesdae is die rolle omgekeer en weet ek ook hoe dit voel om die onderwerp van die gesprek te wees. Ek kan sien wanneer mense my toestand pas weer breedvoerig bespreek het. Ek haat dit om gekategoriseer, geboks, ge-whatever te word en is gedurig besig om myself te herdefinieer.

My wêreld was nog altyd woorde. Dis ook waarmee ek die grootste pret het. Dus: Kay is nie net bruin of vrou nie. Nee, ek het myself dikwels beskryf as bruin vrou van gehalte. Deesdae is ek 'n bruin vrou met breinskade. Toe dit dus kom by beroerte en breinskade, moes dit opsluit 'n cerebral event wees!

Sedert ek op Maandag 28 Julie 2008 die grootste kopseer in my lewe (aan die regterkant van my kop met gepaardgaande verlamming van my linkerkantste arm) gekry het, lewer dit die prettigste woordspelings op.

Dis nog iets wat losgeskud is - my kreatiwiteit. Ek was nog altyd slim met woorde. Maar my grappies was meestal vir binnepret. Nou's dit buitepret. Ek is 'n one woman show. Ek het glad 'n Idols-oomblik gehad en dit op ons maatskappy se blog vir werknemers gesit.

Die beroerte het my oor baie dinge laat nadink. Ek het nou nie juis beeldskoon of ryk die wêreld binnegekom nie. Maar ek het darem iets tussen die ore gekry. Dis seker hoekom hierdie ding my slaan waar dit regtig seer maak. My kop is my domein - waar ek nog altyd baas was. Dis van my weggevat.

Ek het baie geleer sedert my beroerte. My een neuroloog vertel in tot 30% van alle gevalle wêreldwyd kan die oorsaak nie vasgestel word nie. Ek is ook nou deel van daardie 30%. Ek is vir byna alles getoets. Ek is potblou gesteek soos bloed getrek is vir toetse, toe is dit CT- en MRI-skanderings van die brein, my hart is deeglik ondersoek en hulle het selfs ultraklank op my nekslagare gedoen om te kyk of die probleem nie daar lê nie.

Infarction is wat gebeur wanneer bloed in een van jou are stol of daar 'n verstopping plaasvind en net al hoe groter swel. Die kopseer het presies gevoel soos 'n ballon wat ál groter opgeblaas word totdat dit later net nie meer kan nie en wil bars. Dis presies wat ook in my kop aan die gang was.

'n Ander neuroloog vertel my dat beroertes sedert die Tweede Wêreldoorlog aansienlik toegeneem het. Vroue se lewens het sedert die oorlog drasties verander. Hulle het met mening die korporatiewe wêreld betree, begin rook en die Pil gebruik. (Die Pil bevat estrogeen, wat bloedstolling aanhelp, en dit kan nadelig wees vir jou as jy reeds 'n natuurlike geneigdheid daartoe het.)

Die belangrikste gesondheidsles wat ek hieruit geleer het: Wees jou eie dokter. Luister na jou lyf. Rus, ontspan en stel werklik jouself eerste.

Daar was net 'n kort tydjie toe ek nie geweet het hoe ek ander kant gaan uitkom nie. Ek het nie gedink ek gaan sterf nie, maar ek het nie geweet of al my breinselle 100% gaan funksioneer nie.

Vandag kan ek getuig: Nie vir een sekonde was ek bekommerd oor die werk nie - oor van die mense wel, maar nie die werk nie. So, vertrou my, daai verslag waaroor jy stres, is dit net nie werd nie. En hou op rook. Ek het.

Die teorieë oor wat eintlik verkeerd is en (belangriker nog) wanneer ek weer normaal gaan wees, is teleurstellend voorspelbaar. Ek het alles gehoor van minderwaardigheidskompleks tot bipolêr tot depressie.

Maar almal het die groot 'weggee' gemis - die een wat eintlik verkondig dat my gestel beslis 'n groot skok beleef het en 'n ruk gaan neem om te herstel. Verrassend genoeg het dit niks met vaardighede of vermoëns te make nie. Nee, soos gewoonlik het die groot weggee, soos maar die geval met skokke is, met mans te doen. Een baie spesifieke man: Meneer Perfek.

Jip, dis hoe ek - nie die neuroloë, die sielkundiges, my base, my kollegas en al die ander kenners - self tot die besef gekom het dat ek nou anders is. Want, vir die eerste keer is ek oop vir die moontlikheid van Meneer Perfek . . .

Dit beteken nie ek soek nie. Dit beteken ook nie dit gaan gebeur nie, maar ek het nog nooit werklik gedink daardie pad is my beskore nie. Terwyl almal glo die beroerte het my kop losgeskud, dink ek die kop-tsoenami se deinings het ook die skarniere van my hart losgeskud. Dié deurtjie is nou oop. Vraag is nou: Gaan Meneer Perfek inkom?

'n Jaar later . . .

My eerste herdenking is om die draai en ek gaan partytjie hou. Die tema: The stroke of midnight! Meneer Perfek is nog soek, maar Meneer Potensiaal het my laat liefdesverhale skryf. Ongelukkig is hy lank en dié afstand tussen ons maak dat hy gedurig oor my kop kyk, dus geen gelukkige einde nie.

Baie trane later en ek rook weer, maar dis nie sy skuld nie. My brein het nog mediese verrassings opgelewer waarvoor ek nog pille moet neem, en dit het niks met die beroerte te doen nie. Ek het dus net nog rede om dankbaar vir daai ballonnetjie te wees:

As dit nie daarvoor was nie, het ek dalk die ander foutjies te laat agtergekom. Ek werk nie meer so hard nie, maar dis erg vervelig sonder die adrenalien van spertye en druk!

Webwenk

Besoek ook die webblad van dr. Jill Bolte Taylor, www.mystrokeofinsight.com, vir 'n onderhoud wat Oprah met Jill gevoer het. In My Stroke of Insight: A Brain Scientist's Personal Journey, Viking, 2008), vertel sy van haar beroerte-ervaring en pad na herstel.

 

Verwante artikels

  • Beroerte op 16

    SARIE - Julie 2009

  • Help, ek ly aan skeidingsangs!

    Help, ek ly aan skeidingsangs!

    Kommentaar: 4

    Ek het hulp nodig. Ek ervaar skeidingsangs. My hart klop soms so hard dat dit uit my borskas wil klim, en my asemhaling jaag by die gedagte dat ek iemand na aan my gaan verloor. Is daar ander mense wat dieselfde emosies as ek ervaar?

Kommentaar

  • Ek is so moedeloos. Ek staan goed op maar dan later in die dag kry ek hierdie warm gloed wat oor my hele liggaam gaan ek voel of ek gaan flou word en moet dadelik gaan le my tong voel dik en my hande/vingers voel dood ek voel vreeslik sleg so asof dit die einde van my lewe is. Ek begin dan gaap en is geweldig uitgeput na so 'n aanval ek ervaar soms daarna erge hoofpyn en ander kere nie. Ek sukkel om te sluk my keel voel dik en droog ag help asb. Ek is 34 jaar oud

    2de Sep. 2011, 15:22

Web Development by FormFunction