‘Dié fliek is vir jou, pa Gé’ - Linda Korsten oor Liefling die Movie
Foto’s: Phyllis Green Galery
Liefling, die movie het einde 2010 in SA teaters gedraai. Vir Linda Korsten is dit ekstra spesiaal, want dis ook ’n huldeblyk aan haar pa, Gé Korsten
Dis die eerste Afrikaanse musiekfliek in dertig jaar – en nog voordat die teks geskryf is, was die naam reeds daar: Liefling.
Paul Krüger, vervaardiger, was op soek na liedjies wat sou werk vir die fliek. Toe gee sy medevervaardiger, Linda Korsten, vir hom ’n hoop van haar pa, Gé, se CD’s. Sy’t daarop aangedring dat “Liefling”, een van Gé se bekendste liedjies, in die fliek moet wees, want dis vandag nog gewild.
“Toe sê Paul dit is dan sommer die naam van die fliek, hy gee nie om hoe ons met die draaiboek daarby uitkom nie,” lag Linda.
Die fliek lê Linda na aan die hart. Nie net omdat dit die eerste een is waaraan sy gewerk het nie, maar ook omdat Paul besluit het Liefling, die movie word opgedra aan haar pa. Gé het juis in die jare sewentig in musiekflieks gespeel. Nou, jare later, is Linda deel van die oplewing van ’n nuwe generasie musiekflieks.
Liefling begin op 19 November in SA draai, twee jaar nadat die idee in ’n motor op pad Bloemfontein toe gebore is. Paul, eienaar van die produksiemaatskappy Hartiwood Films, het saam met Christa van der Walt (nou Liefling se produksiebestuurder) gery om in die Rosestad te gaan werk. Christa het vir Paul die musiekblyspel Mamma Mia! se klankbaan gespeel. Net daar het hy besluit dis tyd vir ’n musiekfliek in Afrikaans.
Hy het Linda gebel met die idee – hulle werk al nege jaar saam aan TV-programme. Daarna het Erik Holm (Rian in Binneland Sub Judice) aan die draaiboek begin skryf en Linda-hulle het verder daaraan geskaaf. Drie van Gé se liedjies, “Liefling”, “Ek kyk graag so diep in jou oë” en “Lied van die lewe” word in die fliek gehoor.
“My pa sou einde vanjaar 83 geword het,” vertel Linda. “Ek het nou die dag deur al sy plakboeke geblaai – van 1951 tot diep in die jare tagtig – en ek ’t net weer besef wat hy vir Afrikaanse musiek gedoen het. Dis hartseer dat hy nie die fliek kan meemaak nie. Ek vermoed hy sou gedink het dis nogal nice."
“Gewoonlik het ek ’n probleem met toekennings en huldeblyke aan iemand wat reeds weg is. Hoekom vier jy hom nie terwyl hy hier is nie? Maar sommige mense gaan voor jy dink dis hul tyd.”
Gé het in 1999 op 71 by sy huis op Wildernis selfmoord gepleeg. Hy het hom net buite die kombuis met ’n pistool in die kop geskiet toe hy vir hom en sy vrou, Elna, gaan tee maak het. “Ons het ná die tyd uitgevind hy het aan depressie gely, maar hy wou nie medikasie daarvoor gebruik nie,” vertel Linda. “Hy was blykbaar by die dokter, maar ons het dit nie geweet nie. My ma het agtergekom hy raak vergeetagtig. ’n Maand voor sy dood het ons ’n familie-byeenkoms gehou. Al vyf ons kinders was daar. Ons het my ma gevra wat gaan aan met Pa? Hy lyk so snaaks."
"Ons het nie besef iets is drasties fout nie. Ma het net gesê hy’s nie lekker nie. “My pa was soms ’n op-sy-eie-mens,” onthou Linda. “Hy was nie baie spontaan nie, al het mense anders gedink. Jy’t nie altyd geweet wat in sy kop aangaan nie.”
Haar ma het haar pa se dood moeilik verwerk. “Dit was net so hartseer, die manier waarop hy gegaan het. My ma het eers nie besef hy het homself geskiet nie. Sy het gedink hy het geval. Dit het haar hard getref. Sy sit op George. Alleen.” Linda self het dit beter hanteer. “Ek is ’n verskriklik realistiese mens, nie baie emosioneel nie. Ek is ’n ruk lank hartseer en dan is dit verby, dan gaan ek aan. Vir my was dit makliker as vir van my ander broers en susters.”
Nou en dan praat sy nog met haar pa, sê Linda, want sy kon altyd met haar probleme na hom toe gaan. “Mense sê gereeld vir my dit moes lekker gewees het om met ’n famous pa groot te word. Maar vir ons was dit gewoon. “Ons het nie dikwels na sy konserte gegaan nie. My ma moes ons grootmaak terwyl my pa die pot aan die kook gehou het. Ons het wel ’n plekkie op Ballito in KwaZulu-Natal gehad en het graag almal saam see toe gegaan.”
Linda het twee broers en twee susters. Almal is musikaal, maar dis net hul jongste broer, Gérard, wat ’n loopbaan daarvan gemaak het. Hy is al jare ’n dirigent in Europa. Linda se oudste suster, Elsa, werk in die IT-bedryf. Gerda, die jongste suster, is onderwyseres. En Victor het jare lank in die suiwelbedryf gewerk."
Linda sou destyds musiek aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer het, maar toe sy die dag moes inskryf, het sy vir haar ouers gesê sy is te lui om klavier te oefen. Toe swot sy onderwys. Ná sewe maande as juffrou het sy vir die SAUK gaan werk as produksie-sekretaresse in die Afrikaanse verskeidenheidsafdeling. Later jare het sy kinderprogramme soos Pumpkin Patch en Kideo vervaardig.
Vandag is kinderprogramme nog haar passie. Sy vervaardig hoofsaaklik Carike Keuzenkamp se kinder-DVD’s. Tog sal sy in die toekoms eerder flieks wil maak. Linda sê haar ma het hulle vyf kinders met ’n ysterhand grootgemaak.
“Ons was banger vir Ma as Pa, want hy was min by die huis. Wanneer hy huis toe gekom het, was hy lovey-dovey.” Sy onthou hoe haar ma eenkeer gesê het sy gaan ’n oom oplaai wat vir hulle kom kuier. Sy was in graad vier en Gé het sang in Wene studeer. “Dit was toe nie ’n oom nie, maar my pa! My ma was nog altyd ’n sterk vrou. Sy het 100% agter hom en ons gestaan. Eers toe al die kinders uit die huis is, kon sy saam met hom reis en na konserte gaan.”
Linda se jongste seun, Gustav, ’n kameraman, het ook aan Liefling gewerk. “Hy het nogal ’n ding oor sy oupa, hoewel hy hom nie baie gesien het nie,” vertel sy. “Gustav luister na al sy CD’s. Ek dink hy’s vreeslik trots omdat hy so baie van die fliek kon verfilm.”
Liefling, ’n eenvoudige liefdesverhaal met ’n paar kinkels, speel af in die Hartbeespoort-omgewing. Lika Berning (Hannah in Binneland Sub Judice) en sanger Bobby van Jaarsveld vertolk die hoofrolle.
Rouel Beukes, Elize Cawood, Kurt Darren, Sonja Herholdt, Paul du Toit en Anna Davel is ook in die fliek. “Paul het geweet Bobby is ons ster,” vertel Linda. “En hy’s ’n hit. Sy toneelspel gaan jou verstom. Wat ’n lieflike jongman. Ek het net nou die dag met ’n 70-jarige vrou gesels en iets oor Bobby gesê, en sy’t opgemerk, hy’s stunning! Mense van alle ouderdomme is mal oor hom.”
Lika, wat Liefling speel, het by die oudisie die rol perfek gespeel. Maar toe sê sy sy kan nie sing nie! Die musiekvervaardiger, Johan Heystek, se gesig het geval, onthou Linda. “Hy het aan Lika se sang geskaaf en vir haar gesê, girl, ons gaan jou maak sing. En sy síng, seker ses liedjies!”
Om die musiek vir Liefling te kies was die grootste uitdaging. Hulle moes aanvanklik uit 1 800 kies, en uiteindelik is net 24 in die fliek gebruik. “Jy hoor musiek wat in die sewentigs bekend was tot liedjies soos Bobby se ‘Spieëltjie’ en Kurt se ‘Kaptein’. Die verwerking van die liedjies was ’n groot werk. Ou liedjies moes hedendaags gemaak word sonder om die oorspronklike gevoel te verloor en dit moes by die akteurs se stemme pas.” Liefling is ’n viering van Afrikaans, sê Linda.
“Almal wat aan die fliek gewerk het, is verskriklik passievol oor Afrikaans. Ons sing, act, lag en huil in Afrikaans. Dis ook ’n goedvoel-fliek. Ons wil hê mense moet uit die teater stap en lekker voel.”
Maar hoekom so lank wag vir ’n musiekfliek in Afrikaans? Die laaste een, Sing vir die harlekyn, met Sonja Herholdt, was in 1980. “Ek weet nie. Dis vreemd dat niemand dit nog gedoen het nie. Dis uniek. Jy kan nie Liefling vergelyk met flieks soos Jakhalsdans of Susanna van Biljon se storie nie. Ons het musicals gekyk dat dit by ons ore uitkom om te sien hoe dit aanmekaargesit word: Mamma Mia!, High School Musical, Moulin Rouge, Across the Universe met The Beatles se musiek . . .
“Nou is daar ’n oplewing van musiekflieks. Sean Else is besig met een waarin Lianie May en Bok van Blerk gaan speel, en ek hoor Kurt Darren speel ook in een [P.S. Ek lief jou]. Dis lekker. Wat is die lewe tog nou sonder musiek?”
Dis nie die liedjie “Liefling” wat vir haar emosioneel is wanneer sy na die fliek kyk nie, vertel Linda, maar wanneer Rouel Beukes “Lied van die lewe” sing. “Hy sing dit nie soos my pa nie, maar op sy eie manier. My pa het die woorde self geskryf, en elke keer wanneer ek daarna luister, huil ek. Die woorde is so spesiaal: Van mense wat ouer word en die lewe wat verbygaan.”
FOTO: Van links is Linda, Victor, pa Gé, Elsa, Gerda, ma Elna en Gérard, wat vandag 'n wêreldbekende dirigent is.

Verwante artikels
-
'Bakgat' en 'Molly en Wors'-akteur oor sy rol in splinternuwe fliek
SARIE - November 2010
Een van die dae is die akteur Andrew Thompson, TV-ster van Molly & Wors, te sien in die fliekweergawe van Jan van Tonder se roman Roepman.
-
Bobby van Jaarsveld - almal se liefling
SARIE - Augustus 2009 | Kommentaar: 6
-
Bobby van Jaarsveld se nuwe musiekvideo, en hy's op pad Amerika toe
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 1
Bobby van Jaarsveld se nuwe musiekvideo Net vir jou is hier.
-
Bobby van Jaarsveld se suster Karlien - nuwe foto's, CD
SARIE Augustus 2010
Karlien van Jaarsveld, Bobby se ouer suster, volg ook haar hart in die vermaaklikheidsbedryf. Sy het eers in Bobby se band gespeel en gesing.
-
Bobby van Jaarsveld verloof aan sy skoolliefde
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 3
Sie Spieëltjie-spieëltjie sanger, Bobby van Jaarsveld, het na 7 jaar die groot vraag gevra.
-
Charlize kry glo bose, nuwe fliekrol
SARIE - November 2010
Die Hollywood-weergawe van Sneeuwitjie (Snow White and the Huntsman) gaan eersdaags verfilm word.
-
Die tweede Liefling-voorprent is hier! Splinternuut!
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 11
Liefling, die Movie, met sanger Bobby van Jaarsveld en aktrise Lika Berning (Jana Cilliers se dogter) in die hoofrolle, word op die nuwe www.liefling.com-webtuiste beskryf as die "eerste grootskerm Afrikaanse musical in meer as 30 jaar!"
-
Eksklusief! Bobby en Lika is partytjie-Lieflinge
SARIE - Desember 2010
Ons klink ’n glasie op die eerste Afrikaanse musiekfliek in 30 jaar, Liefling, die movie. Lika Berning (Liefling) en Bobby van Jaarsveld, (Jan) wys die nuutste partytjiemodes.
-
Elma Postma in nuwe Superheld-fliek - foto's agter die skerms
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 8
Elma Postma, Ivan Kruger, Ciske Kruger en Andrew Thompson is van die akteurs in die nuwe Afrikaanse fliek, Superhelde. As jy van die Bakgat-flieks gehou het, is die een vir jou.
-
Foto's op Kurt se fliek-stel
SARIE - Oktober 2010
Die fliek P.S. Ek Lief Jou is 'n nuwe een waarin Kurt die hoofrol speel. Christina Storm speel ook daarin. Die eerste foto's van die stel af is pas op Kurt se Twitterblad gesit.
-
Internasionale ster nooi Bobby van Jaarsveld oorsee, sus Karlien speel in geheime fliek
SARIE - Junie 2010
Bobby van Jaarsveld het onlangs Michael W. Smith se vertoning by die Moreleta-kerk in Pretoria bygewoon en was bevoorreg genoeg om saam met die sanger en sy gesin te eet.
-
Liefling, die movie se openingsaand! Ons was daar. FOTO's
SARIE - November 2010
Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale-redakteur het die openingsaand van Liefling, die movie bygewoon. Almal was daar! Hy't 'n paar foto's geneem...
-
Onthou nog vir Helga van Wyk?
SARIE November 2011
Die kollig op bekendes laat ons dink ons weet alles van hulle. Maar in elkeen se lewe is verrassings. Op 65 vertel die ster van die ikoniese Afrikaanse fliek Hoor my lied wat sy ná haar silwerdoekdae gedoen het.
-
Rudi en Corlea oor Die Lieflinge se oornagsukses
SARIE - Oktober 2010
Die een dag is hulle onbekend, die volgende oggend beroemd. Is dit pure geluk?
-
SARIE se Fanie kry rol in nuwe Afrikaanse fliek
SARIE - November 2010
SARIE se styl- en sosiale redakteur, Fanie Cronjé, het 'n rol losgeslaan in Sean Else se nuwe fliek.
-
Scarlett - almal se liefling
SARIE - Julie 2009 | Kommentaar: 1
Scarlett Johansson is een van Hollywood se gewildste aktrises, maar sy's ook die eerste keuse van talle top-handelsmerke
-
Splinternuwe Liefling-treffervideo met Bobby en Lika
SARIE - November 2010
Die musiekvideo van Liefling, die movie se eerste enkelsnit is pas uitgereik. En hier's Bobby en Lika!
-
Steve Hofmeyr blog oor Liefling die movie
SARIE - November 2010 | Kommentaar: 1
Steve Hofmeyr het onlangs op sy blog oor Liefling, die movie geskryf:
-
Steve Hofmeyr oor die fliek Eat, Pray, Love
SARIE - Oktober 2010 | Kommentaar: 6
Wat het Steve van Julia Roberts se nuutste fliek gedink...


















Kommentaar
Talana het gesê:
Ek het groot geword in 'n huis waar Gé absolute helde verering status gehad het en dit is steeds lekker om na sy musiek te luister. Baie geluk, hierdie is 'n pragtige fliek en trots Afrikaans, te heerlik!!! Is dit dalk moontlik om iewers die fliek se Engelse vertaling van die liedjie Hoe ek voel van Johannes Kerkorrel te kry, ek wil dit graag met iemand spesiaal deel?
15de Des. 2010, 13:35leonie het gesê:
dit was 'n fantastiese movie, ek sal hom oor en oor gaan kyk. ons was baie skepties, my man het gedink hy gaan saam met ons net omdat hy moet en dan sal hy sit en slaap. maar hy het dit baie geniet. hy is 'n movie-freak en mis nie 'n movie nie en sy kommentaar was dat dit 'n baie goeie movie was en dat hy verbaas was dat hy dit so geniet het. ek gaan defnitief uitkyk vir die CD of DVD. die musiek was fantasties, professioneel en goed geselekteer. dankie vir 'n pragtige movie, ek hoop nie ons wag nog 30jaar voor iemand een maak nie. dan is ek seker nie meer hier op aardbol nie.
23ste Nov. 2010, 14:04