Dís my fliek
Rolprente raak ons emosies aan - almal het 'n gunsteling wat hulle bybly. Bekendes vertel watter flieks het met hulle gepráát
Sandra Prinsloo, aktrise (regs)
Sophie's Choice
"In hierdie Tweede Wêreldoorlog-rolprent, waarin 'n ma moet kies watter een van haar kinders moet leef en watter een sterf, leer 'n mens soveel oor deernis en die vermoë van die mens om teenspoed te verwerk. Sophie se rol, meesterlik vertolk deur Meryl Streep, het my met 'n sagter oog laat kyk na vreemde kulture waarvan ons min weet. Sy het dit met die ongelooflikste intensiteit vertolk, soos ek ook só 'n rol sou wou vertolk. Die eksotiese ondertone van die fliek het my ook bekoor."
Snaaksste fliek Borat
Mees romantiese fliek Don Juan DeMarco
Hartseerste fliek As It Is In Heaven

Zane Meas, akteur
Grease en The Sound of Music

"Grease was die eerste rolprent wat ek op my eie gaan kyk het toe ek dertien jaar oud was, en ek het baie volwasse gevoel. Sedertdien is ek 'n groot aanhanger van musicals. Almal wou John Travolta wees. Ek het 'n show vir my klas gereël met Grease-liedjies, waar ons soos die karakters in die fliek aangetrek het - selfs ná skool. Mense het gedink ons is gek! Ek is ook mal oor The Sound of Music. Dit gaan oor ouwêreldse waardes, oor toe die lewe nog onskuldig was. Ná ek dit gesien het, wou ek na Oostenryk reis en die Von Trapp-gesin besoek en op die berge sing: "The hills are alive with the sound of music." Ek wou 'n Von Trapp-kind wees. Dié flieks het 'n liefde vir toneelspel in my wakker gemaak. Ek het ook 'n groot crush op Julie Andrews gehad!"
Snaaksste fliek Stir Crazy
Hartseerste fliek E.T.
Mees romantiese fliek The Notebook
Anna Davel, sangeres
Antonia's Line

"Dié Nederlandse rolprent, wat op die Belgiese platteland verfilm is, vertel die verhaal van verstote mense wat deur 'n matriarg, Antonia, "aangeneem" word. Sy's 'n sterk en uitgesproke vrou met 'n groot hart en 'n passie vir mense en kos. Teen die einde kry karakters wat effens die pad byster geraak het hul menswaardigheid terug, en het elkeen 'n doel en 'n verbintenis gevorm om 'n sinvolle lewe te leef. Die boodskap is eenvoudig: Ek het met dié rolprent besef ons samelewing is só ver weg van leef en laat leef, van wedersydse respek. Ons vergeet almal is bloot weerlose mense en dis eintlik heeltemal normaal om effens gek te wees. Almal het iewers 'n krakie in die vernis, en dis oukei, want ons dra ons wonde saam met ons. Die fliek is rou en eerlik en sonder pretensie. Dis vrek snaaks én bitter hartseer en magies. Ek het ook die DVD gekoop."
Snaaksste fliek What about Bob
Hartseerste fliek I am Sam
Mees romantiese fliek The Bridges of Madison County
Coenie de Villiers, sanger en TV-aanbieder
Jean de Florette en Manon of the Spring


"Jy moet dié twee flieks, gegrond op die historiese romans van Marcel Pagnol, saam kyk. Dit speel af in Provence en drie van Frankryk se groot name, Gérard Depardieu, Daniel Auteuil en Yves Montand, speel daarin. Toe ek en my vrou, Ria, uit die fliek kom, het ek net gewéét ons gaan ons tasse pak en oorsee bly. Dit was 'n meesterstuk en het my laat besef die wêreld is groter as wat 'n mens dink. Ook dat jy dikwels groot vraagstukke kan aanpak met 'n klein, eenvoudige boodskap - soos in dié plattelandse stories. Ons hele gesin hét toe ook vir sowat twee jaar in Ciprus, Griekeland, gaan woon."
Snaaksste fliek The Party
Hartseerste fliek Schindler's List
Mees romantiese fliek Casablanca
Michelle Pienaar, Egoli-aktrise
The Notebook

"Dié rolprent het die grootste invloed op my lewe gehad. Dis een van die wonderlikste liefdesverhale wat ek nóg gesien het. Dit bevestig my geloof dat die liefde alles sal oorwin, ongeag omstandighede. Ek was gefassineer daardeur dat die hoofspelers in 'n situasie was waar hulle nie bymekaar kon wees nie, maar dat hulle nogtans so verlief was. Ek het lekker gehuil, maar ook goed gevoel. Daar was volgehoue konflik in die rolprent, omdat Allie verloof was aan een ou, maar verlief was op iemand anders, en dit hou 'n mens baie betrokke by die spel. Die einde was ongelooflik. Ek is baie romanties en dit was een van die wonderlikste dae toe ek verlede jaar getroud is. Dít is hoekom hierdie rolprent werklik tot my gespreek het."
Snaaksste fliek Ace Ventura: Pet Detective
Hartseerste fliek Titanic
Mees romantiese fliek The Notebook
Stian Bam, akteur
Festen, Yesterday en Downfall

"Flieks wat my beter insig in 'n sekere onderwerp gegee het, is die Deense rolprent Festen, waarin 'n man 'n emosionele stryd voer omdat hy deur sy pa verkrag is. Yesterday gee 'n blik op 'n vrou wat met vigs leef in ons samelewing. En Downfall is 'n wonderlike fliek oor Hitler se laaste dae. Ek verstaan dat rolprente mense se lewens kan verander. Ek het al gehoor hoe mense teater en fliek toe gaan om gekonfronteer te word met iets soos gesinsmoord of verkragting, en dit daarna regkry om sulke kwessies te verstaan en hul eie probleme te verwerk. Maar 'n fliek het nog nooit my lewe of my mening oor iets laat verander nie."
Snaaksste fliek Enige Monty Python-fliek
Hartseerste fliek The Notebook
Mees romantiese fliek The Notebook
Barry Ronge, fliekresensent en rubriekskrywer
Singing in the Rain

"Ek was 'n stil, teruggetrokke kind en vir my was die flieks die perfekte skuilplek. Hollywood het my "ander" wêreld geword en dié fliek, oor die koms van die talkies (flieks waarin gepraat word), het vir my 'n deur oopgemaak waardeur ek die eintlike rolprent-produksieproses kon sien. Met fantastiese danstonele deur Gene Kelly en Cyd Charisse, en pragtige liedjies deur Debbie Reynolds, bly dit 'n tydlose fliek. Vir my was dit ook die eerste stap na 'n loopbaan wat in daardie dae skaars in SA bestaan het."
Snaaksste fliek Some Like it Hot
Hartseerste fliek Gone With the Wind
Mees romantiese fliek An Affair to Remember
Therese Benade, aktrise (ook in Villa Rosa)
E.T.

"Steven Spielberg se rolprent E.T. was die eerste wat ek as agtjarige op die dorpie Estcourt in KwaZulu-Natal saam met my broer en suster gaan kyk het. Dit het my effens bang gemaak . . . Dit was die eerste keer dat ek gehoor het van buite-ruimtelike wesentjies. Maar ek wou graag daarna só 'n diertjie hê, want hy was vreemd en oulik. En ek is mál oor diere. Hy kon dan, anders as régte diere, terugpraat! En hy het vir my as kind 'n hele nuwe wêreld oopgemaak. Ek het begin besef daar is 'n kans dat daar iets groters bestaan buite die grense van die aarde."
Snaaksste fliek Ferris Bueller's Day Off
Hartseerste fliek Frida
Mees romantiese fliek Last of the Mohicans
Denise Newman, aktrise
Earth

Die Indiese rolprentvervaardiger Deepah Mehta het die trilogie Fire, Earth & Water in 1996 begin met Fire en in 1998 opgevolg met Earth. Later sou Water volg. Earth het my die meeste beïndruk. Dit gaan oor die verdeling tussen Pakistan en Indië. Dít het baie geweld en struweling veroorsaak, dikwels tussen vriende wat hulle skielik weens die verdeling aan teenoorgestelde kante bevind het. Dikwels word mense om politieke redes gedwing om hul menslikheid te verloor. Dit laat jou besef oorlog is nie ’n uitweg nie, want dit laat mense teen mekaar draai en hulle word vasgevang in heersers se besluite. Jou hele menswees en lewe word daardeur beïnvloed. Ek het daar uitgestap en besef: Dis onder álle omstandighede belangrik om jou menslikheid te behou.”
Verwante artikels
-
Anna Davel linger 'n bietjie met 'n liedjie
“Ek is mal oor die veertigerjare, die look, die musiek, die hele vibe. Die era het vir my ‘n elegansie, ‘n romantiek met iets magies.” Anna Davel se nuwe CD linger longer bevat hoofsaaklik liedjies uit dié era. Phyllis Green het haar uitgevra
-
Coenie de Villiers
SARIE - Junie 2009
-
Denise Newman
Die toneelstuk Sister Breyani is van 8 tot 11 April by die KKNK en vandaar gaan dit na die Baxter-teater in Kaapstad. Die aktrise Denise Newman, wat die rol van die tweede oudste suster, Cassandra, hierin speel, het met Marguerite van Wyk gesels. Wat...
-
Stian Bam (Dawid Greeff in 7de Laan) raak liries oor getroud wees
SARIE - Augustus 2009 | Kommentaar: 10
-
Wat jy nie van Sandra Prinsloo geweet het nie...
Sy’s 'n vry siel, 'n sigeuner, sommer 'n bondel energie. En terloops, sy is steeds vriende met al haar kêrels!
-
Wat jy nie van Zane Meas (Neville Meintjies van 7de Laan) geweet het nie
SARIE - November 2009 | Kommentaar: 3
































Kommentaar