Elzabé Zietsman praat oor haar stryd teen alkoholisme

Deur Dawid Brand vir die Medihelp-tydskrif, SARIE Augustus 2010

Sy’s nooit sonder ’n glas in die hand huis toe nie, maar vandag, sewe jaar sedert sangeres Elzabé Zietsman haar rug finaal op alkohol gekeer het, is haar glas leeg, maar haar beker loop oor.

Toe die GPS sê: “Bestemming bereik,” voel dit kompleet of ek bo-op die stad se dak stilgehou het. Elzabé wag my by die hek van haar gastehuis (die bekende Zietsies inAuckland Park) in en ons stap met die nou paadjie af tot in die kombuis.

Sy maak koffie en ek loer oor haar skouer na Agnes wat besig is om beskuit te bak. Agnes se eenjarige Palesa (beteken blom) en Elzabé se twee honde, Blues en Ntsu (’n wit bulterriër wat se naam swart beteken), kom nuuskierig nader. “’n Mens kan op ’n helder dag tot by die Hartebeespoortdam sien,” sê-wys sy na die horison.

Ons maak ons tuis op die breë stoep van haar swart huis en begin sonder mooibroodjiebak oor haar alkoholisme, oor swart en wit, gesels.

Nee, al is dit die tema van haar lewe en is sy baie prakties, is sy’s nie onverbiddelik swart en wit nie. Tog is daar dinge waaroor sy sterk standpunt inneem, sê sy.

Elzabé vertel dat dit met die restourasie van ’n vorige huis was wat sy die werklikheid van haar alkoholisme in die oë gekyk het. “Ek het by (sanger) André Schwartz gebly en myself vir die eerste keer deur iemand anders se oë gesien. Dit was asof iemand vir die eerste keer ’n spieël opgehou het. En ek het nie gehou van wat ek gesien het nie.

Die afgrond is baie naby
“Ek was ’n funksionele alkoholis. Ek was te trots op my werk om toe te laat dat drank dit beïnvloed. Maar dit het wel later.”

Sy vertel hoe sy en haar pa gereeld in die polisiekroeg gekuier het. “Die probleem met alkohol is dat dit sosiaal aanvaarbaar is om te drink. En met ’n familiegeskiedenis van oormatige alkoholgebruik en midde-in die vermaaklikheidsbedryf wat ’n broeigrond vir afhanklikheid is, is die afgrond baie naby.

“Ek het geglo ek kan dit hanteer. Ek kon immers meer as enigiemand anders drink, was ongelooflik gesond en het bykans nooit babalaas gekry nie.

"Kort voor lank kan ’n mens se liggaam egter nie meer nie en word jy van net een glas dronk. Word jou hele lewe om drank gebou. Wanneer kan ek my eerste drankie drink? Wanneer moet ek ophou drink voor ’n vertoning? Later is daar soveel alkohol in jou lyf dat jy bykans nooit nugter is nie. Alkohol was werklik vir my lekker. Dit het my laat ontspan, probleme het verdwyn
en dit maak ’n mens meer sosiaal.”

Elzabé het vir jare geweet en selfs erken sy is ’n alkoholis,maar niks daaraan gedoen nie. Selfs elke jaar in Februarie vir ’n maand opgehou drink om te bewys dat sy nie werklik ’n probleem het nie.

“Die tyd by André het ek introspeksie gedoen en besef hoe ver ek op die afdraende pad is. Hoe lelik dit is. Mense het nooit geweet hóé baie ek gedrink het nie.My dikwels gespot omdat ek nie sonder ’n glas of bottel wyn van ’n partytjie af huis toe is nie.

“Ophou was nie ’n oornagbesluit nie. Toe ek egter die besluit geneem het,was dit finaal. Ek het nooit fisieke onttrekkingsimptome beleef nie; my kop was die probleem. Dis ’n harde kop dié.”

Vandag kook sy met wyn en proe selfs af en toe wyn (wat sy uitspoeg) vir die gastehuis. “Dit is ’n daaglikse stryd en ja, as ek ’n lekker wyn geproe het, moet ek myself dikwels  koudlei. Maar ek het ’n keuse gemaak en weet ’n mens is vir altyd ’n alkoholis. ’n Mens kan nie ná ’n tyd selfs net een glasie drink nie. Jy kan nooit weer drink nie.”

Sy erken sy vind dit moeilik om in dronk mense se geselskap te wees. “Ek is nie bang vir drank nie; ek kan net nie ’n gesuipery hanteer nie. Ek word skaam en weet dit is hoe ek was. Dit is soos om opnuut elke keer in ’n spieël te kyk.”

Elzabé (49) is reeds 28 jaar in die vermaaklikheidsbedryf en het aanvanklik as aktrise vir Truk gewerk. Sedert 1982 het sy dikwels in ons sitkamers gekuier in onder meer Egoli, Binnelanders en RhythmCity. Dit is egter kabaret waar haar groot liefde lê.

“Dit is my werk om sosiale kommentaar te lewer. Dit is nie altyd vir die gehoor lekker of gemaklik nie, want ’n mens raak sensitiewe kwessies aan, maar dit is my hart om issues kaalvuis te pak.”

En dit is presies wat sy in 2008 met Agter glas gedoen het. Dié produksie,wat op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) ’n Kanna-toekenning verower het, het onder meer alkoholisme onder die loep geneem.

“’n Mens dink dikwels ’n alkoholis is die een wat oor naweke sy weekloon uitdrink of die boemelaar in die gutter. Die werklikheid is dat dit ook die sakeman met die luukse huis en motor is. Dit strek veel wyer as wat ons sien. Daardie onskuldige een whiskey elke aand ná werk om rustig te raak. As dit nie jou gedrag verander nie, is dit nie noodwendig ’n probleem nie, maar as dit onbewustelik ’n patroon word, meneer, dan is jy ’n alkoholis.”

Om’n verskil te maak
“Ek hoop dat my betrokkenheid by Medihelp se DVD oor alkoholisme ’n verskil sal maak. Ofskoon ek besef dat jy net gehelp kan word as jy self tot inkeer kom, dat niemand gedwing kan word nie, hoop ek my spieël sal vir iemand anders waarheid bring.

“Dit is nie altyd lekker om te erken nie,maar ek ís ’n alkoholis en ek probeer so eerlik moontlik lewe. Ek is ontsettend dankbaar vir die baie wat ek het; vir die krag wat ek ontvang om elke dag die keuse tussen ja en nee te kan uitoefen.Om die beste te kan leef wat ek kan. Dit help nie ons praat net en doen niks nie.”

En van stilsit is daar nie sprake nie. Sy het ’n kultuurklub (die Doilieklub) op die been gebring wat van koffieproe-aande tot vertonings en klein kunsuitstallings in die gastehuis se eetkamer aanbied. Verskeie bekendes het hul gewig by dié projek ingegooi.

“Ons wil deur die Doilieklub ook in ander se lewe ’n verskil maak.Ons het onlangs vir ’n leerder aan die National School of Arts ’n tjello gekoop en betaal al sy skoolgeld en uitgawes.”

Dan is daar eenkeer per maand parkedag in die nabygeleë Kingston Frost-park waar skoongemaak en koek verkoop word om die park in sy eertydse glorie te herstel. En dit is presies soos sy onthou wil word: As iemand wat ’n verskil gemaak het. Eerlik. Nugter.

Ons groet en gesels oor haar nuwe kabaretproduksie Op ’n ligter noot wat onlangs by die KKNK te sien was. Oor Jak de Priester wat baba Jamie die Sondag daar kom doop. Oor die reeks van 26 kort kookinsetsels wat sy pas vir kykNET opgeneem het.

“Ek is op die beste plek ooit in my lewe. Ek het nie meer ’n dringende behoefte om teen almal en alles te baklei nie. Met die ouderdom kom insig en ek weet ek kan nie die wêreld op my eie in een dag verander nie.

“Maar as jy vandag een venster regmaak, sal dit die res van die gemeenskap aanspoor om dalk ook ’n venster reg te maak.”

Bestemming bereik, dink ek toe die GPS die pad huis toe bereken.

* Gaan na www.medihelplivingwith.co.za vir meer inligting of SMS “DVD” na 32291.

(Artikel met vergunning van Lééf - Met hart & siel)

Verwante artikels

Kommentaar

  • ELZABE om afrikaans te wees is ek trots op jou die mense moet in jou voetspore volg ek het die reeks op kyknet gesien hou aan so en bid net elke dag vir krag want jy is die ikon mooi so jy is pragtige mens

    30ste Nov. 2010, 15:04
  • Elzzietje, ek moet kom kuier in jou eetkamer, as jy jou geveg met alkohol gewen het wil ek eers jou kos proe voordat ek my vraatsug erken wat net so groot probleem is,"ons vraate noem dit vertroostings kos". Sterke en hou daai hande besig.

    11de Sep. 2010, 23:17
  • Ai Elzabé, hoe wonderlik en jy lyk so pragtig! Op 58 het ek ook nou presies 6 jaar opgehou, maar o wee, dit sal altyd 'n harde pad en stryd bly om te stry, want een maal 'n verslaafde, altyd 'n verslaafde. Maar gelukkig kan ek sê ek byt nog vas, sonder doe Hulp van Bo sal ek dit nooit kan doen nie. Daar is natuurlike baie minder sosiale geleenthede/tye in my bestaan, want ek raak baie gou verveeld en ek is maar 'n teruggetrokke mens. Sukkel met depressie (die drank was mos daar om my op te beur), maar met my medikasie, sal ek dit oorwin. Ek wens ek kon my lewe oorhê, maar het ook geleer om dit agter my te sit wat verby is. Elzabé mag jy nog 'n geseënde lewe hê met baie geleenthede en voorspoed, sonder drank.

    26ste Aug. 2010, 13:20
  • Elzabé, dit vat 'n sterk mens om 'n probleem raak te sien en iets daaraan te doen. Ek salueer jou daarvoor, jy is baie talentvol en verdien 'n 100% lewe en sukses. En ek is so bly jy het weer hare, jy het vir my alteveel soos 'n konsentrasiekampkindjie gelyk! En vir Johannes wil ek sê: dit klink of jy dalk 'n probleem het. Miskien kan Elzabé jou inspireer om iets daaraan te doen.

    19de Aug. 2010, 08:25
  • Puik Elzabe!!!!!!!!!!

    16de Aug. 2010, 15:52
  • Ek is trots op jou, mag ander jou voorbeeld vol, dankie dat jy eerlik is.

    16de Aug. 2010, 15:06
  • Ag asseblief, sy funksioneer normaal hou haar werk, lewe 'n vol lewe.. Dan besef sy eendag sy moet bietjie afskaal van oormatige alkahol gebruik en klasifiseer haarself sommer daar en dan as 'n alkaholis.. Komaan Elzabé jy ruk nou die dam onder die eend uit.

    16de Aug. 2010, 14:17
  • Elzabe, jy is voorwaar 'n onuitputlike bron van energie en inspirasie. Ons is trots op jou!

    16de Aug. 2010, 11:09
  • Insiggewend, maar ongelukkig onthou mense altyd die dronk vrou wat haar so bar gedra het. Dit kon nie maklik gewees het nie Elsabe, maar loop n reguit pad met God, en sy engele sal altyd daar wees om jou te beskerm. Moet asseblief net nooit weer voete van klei kry nie, wys mense wat in jou steek. Sterkte met die pad vorentoe.

    14de Aug. 2010, 14:47
  • Uitstekende stuk oor 'n wonderlike vrou, maar een stelling wat gemaak word is gewis bevraagtekenbaar. Dis erg ekstreem om 'n patroon van een of twee drankies na werk saans as alkoholisme te bestempel. Matige drankgebruik met aandete is NIE alkoholisme nie.

    14de Aug. 2010, 08:49
  • jy lyk sommer funky en vol lewe.

    14de Aug. 2010, 04:33
  • Elzabe se: "Dit is ’n daaglikse stryd en ja, as ek ’n lekker wyn geproe het, moet ek myself dikwels koudlei." Dit kan nogal waar wees van alle sogenaamde alkoholiste wat die drank as energie-bron los sonder om dit met die werklike en natuur se energie-aanvuller NAD te vervang. Sogenaamde alkoholisme is die liggaam se manier om te cope met die oorgeerfde energie-tekort - meetbare met 'n eenvoudige vingerprik bloedtoetsie. Die gereelde gebruik van NutriNAD aanvullings maak die normale handel weer moontlik met veral goeie rooiwyn.

    13de Aug. 2010, 20:53
  • Elsabe, net die feit dat jy dit erken het, maak jou vry. Ek glo, vertrou en bid dat jy sterk sal bly. Ons lewe is nie maklik nie......maar onthou jy is nie aleen nie.

    13de Aug. 2010, 19:52
  • Ekself is 'n geheelonthouer, maar bewonder mense wat kan ophou drink. Ek het vriende wat net nie kan ophou drink nie en wil ook nie erken dat hulle 'n probleem het nie. Dis net met genade van Bo!

    13de Aug. 2010, 19:48
  • Ek was self daar met 'n broer wat 'n probleem gehad het. Hoeveel jare het ons nie gesoebat en gesmeek dat hy moes ophou drink nie? Die besluit kan egter net deur die persoon self gemaak word en as jy die besluit gemaak het moet jy daarby bly. Ek het groot respek vir enige persoon wat erken dat hy/sy 'n afhanklikheid gehad het maar besluit het om dit te staak en 'n nuwe weg in te slaan. Dit verg baie moed en deursettingsvermoë. Dit neem 'n STERK mens om dit te volhou. Geluk Zietsie!!!

    13de Aug. 2010, 16:02
  • Ek self het die probleem, ek noem dit net 'n sosiale alkholis, en elke naweek is vir my 'n sosiale geleentheid... ek werk nog hard aan my probleem en soos jy met reg se dit is nie maklik nie, en vanwee my beroep kry ek daagliks met sosiale geleenthede te doen... dankie vir jou openlike gesprek hieroor.

    13de Aug. 2010, 15:55
  • Sterkte en baie geluk met jou oorwinning!

    13de Aug. 2010, 13:43
  • Ja dan gooi hulle klipe maar bly self in glas huise ek is ook een en na jou stryd sal ek erenstig moet besin Altyd gese dit is hoekom jy jou hare geskeer het maar niemand wou my glo nie Een van jou aanhangers

    13de Aug. 2010, 11:10
  • Baie goeie stuk en so 'n inspirasie.

    13de Aug. 2010, 10:43