Leser help kinders met perd-terapie
Ek het grootgeword op 'n vyfde-geslag familieplaas in die Oos-Kaap. Jansenville is sowat 2 uur se ry van Port Elizabeth af en sowat 'n uur se ry van Graaff-Reinet. Die herhinneringe aan my kinderjare hou almal verband met perde. Ons het kinders van hoofsaaklik Port Elizabeth op die vakansieplaas ontvang. Gedurende die twee weke wat hulle hier was, het hulle geleer van die plaaslewe en om perd te ry. Ek was selfs as klein kindjie bewus van die impak wat perde op sommige van die kinders gehad het.
Ek glo my droom van 'n praktyk op die plaas waar perde as 'n terapeutiese hulpmiddel gebruik kan word, was hier gebore. Ná afloop van my studies in maatskaplike werk en sielkunde was daar steeds geen soortgelyke praktyke nie, hoewel dit algemeen erken was dat perde 'n positiewe impak gehad het met betrekking tot gestremdhede. Dieselfde was nog nie erken ten opsigte van emosionele en verhoudingsprobleme nie.
Opleiding oorsee in dié veld was dus die enigste alternatief. Ek het vir sewe jaar in Engeland gewoon en gewerk as maatskaplike merker in kinderbeskerming. Dit was 'n geleentheid om te spesialiseer in die assessering van hoërisiko-gevalle ten opsigte van kinderpornografie en mense wat reeds skuldig bevind was vir misdrywe teen kinders. Gedurende hierdie tyd het ek ook my opleiding voltooi in EAP (Equine Assisted Psychotherapy) deur EAGALA (Equine Aquine Assisted Growth and Learning Association).
Tydens hierdie opleiding het die wonderlike en onverklaarbare manier waarop perde individue se emosies lees, duidelik geword. Sowat 85% van menslike kommunikasie geskied nie-verbaal. Dit is op hierdie deel wat die perd instinktief reageer. Dit dwing die mens dus om eerlik met homself te wees in 'n omgewing wat veilig is, aangesien 'n perd nie mense "judge" nie. Hierdie vorm van terapie is uiters suksesvol, nie net in individuele gevalle nie, maar ook met groepe en gesinne.
Ek vind dat veral adolessente positief reageer. Hulle voel dikwels in terapie dat hulle nie die woorde het om te verduidelik wat hulle voel nie, self nie verstaan wat en hoekom hulle so voel nie, bang dat hulle geoordeel sal word en dat hulle nie aanvaar sal word nie. Hierdie vorm van terapie bied 'n oplossing vir sulke gevalle. Die kind kry geleentheid om 'n band met 'n perd te vorm, 'n verhouding te bou, te leer om te onderhandel, probleme op te los, te kommunikeer, sy eie perspektiewe en gedrag te verstaan.
Ons het die afgelope twee jaar sukses ervaar met volwassenes, kinders, groepe (spanbou) en veral tydens leierskapsessies met die leerlingraad van skole. In spanbou en leierskap is dit veral 'n suksesvolle medium. Alle aktiwiteite word gemik op besluitneming, probleem-oplossing, hantering van konflik, kommunikasie, selfgelding, onderhandeling, kreatiewe denke en pret.
Graag wil ek 'n paar staaltjies uit eie ervaring met lesers deel:
- 'n Elfjarige meisie het vir individuele terapie gekom. Sy het 'n swak selfbeeld gehad en was "bang vir die lewe". Sy het sterk geïdentifiseer met 'n merrie wat vir sewe jaar nie gery is nie. Ons was besig om die perd weer op te lei. Die meisie het altyd dieselfde twee perde gekies. Die eerste middag toe ons haar vrese konfronteer, wou die twee perde egter nie saamwerk nie en aanmekaar van haar weggedraai. Die "ongetemde" merrie het egter al agter haar aangeloop. Einde ten laaste het die meisie omgedraai en die halter na die merrie uitgehou. Die perd het haar neus in die halter gesteek, haar kop laat sak en toegelaat dat die meisie die halter vasmaak. Hulle het die hindernisbaan saam aangepak en mekaar gehelp. Dit was die eerste keer in elf jaar wat die meisie in haar eie kamer geslaap het. Die vertroue wat in haar gestel was en die ondersteuning wat sy by die perd , het haar selfvertroue 'n hupstoot gegee om haar vrese te konfronteer en 'n realistiese prentjie daarvan te kry. Volgens haar onthou sy die merrie se runnik wanneer sy bang word en dan weet sy sy's nie alleen nie. Dit maak haar sterk.
- Ons het 'n vyfjarige Walliese ponie gekoop vir terapie met kinders van 4 - 7 jaar. Toe sy op die plaas aankom, het ons besef die perd is bang vir mense. Dit was 'n stryd om haar te vang. Dit gaan nou al makliker. Ons moet egter steeds soebat wanneer ons haar halter aansit. Die kinders het egter nie 'n probleem met haar nie. Sy kom na hulle toe, staan geduldig dat hulle die halter meet en pas en uitwerk hoe hulle dit kan aansit. Ek was twee weke gelede stomgeslaan toe die ponie plat op haar sy gaan lê vir 'n kind wat gesukkel het om die halter langs haar kop vas te maak. Sy het eenvoudig haar een wang op die grond neergesit sodat die kind nie nodig gehad het om die halter vas te hou nie, maar altwee hande kon gebruik om dit vas te maak. Die kind is in terapie omdat hy geweldig aggressief is. Hier het hy egter saggies gewerk, haar gerusgestel. Dit was die eerste keer dat hy 'n ander emosie as woede openbaar het.
- Tydens 'n spanbou-kamp vir 'n kinderhuis het die volgende gebeur. 'n Veertienjarige meisie, betreklik nuut in die kinderhuis, was tydens al die aktiwiteite so effens op die agtergrond. Die een perd wat ons dikwels vir spanbou-sessies gebruik, het egter haar ore platgetrek en tande gewys sodra die meisie nader gekom het. Ons ruil toe die perd om met die ou merrie wat 'n eenkant-dier is. Alles het skielik goed verloop en die meisie het goed ingeskakel by die res van die groep. Ná afloop van die sessie het sy kom vra of sy die perd 'n drukkie kan gee. Toe sy aan die perd vat, het dit gelyk of die perd naar word. Wit skuim het by haar bek uitgekom en op die grond geval. Sy het egter steeds rustig vertoon. Toe die dogter uit die ring klim, het die perd se skuim onmiddellik opgehou. Die dogter het daardie aand vir die kampleier vertel van die mishandeling wat sy ervaar en opgekrop het. Haar verduideliking was dat Maxi (perd) vir haar gewys het dit moet uitkom, want dit maak haar siek.
Daar is soveel voorbeeld waarvan ek kan vertel, maar eintlik wil ek net dankie sê vir die artikel. Perde kan so baie kinders help.
Groete,
Marle Slabbert van Osplaat Perde, Jansensville
OSPLAAT PERDE/HORSES
Posbus 65, Jansenville, 6265
Tel. 049 8380112
osplaat@yahoo.com
Verwante artikels
-
Doen-ding van die maand: "Só help ek stukkende kinders"
SARIE - Desember 2009 | Kommentaar: 1
Gewone mense vertel wat húlle doen om ander se lewens aan te raak en te verbeter. Katem, 'n sarie.com-gebruiker, deel haar storie oor jong verkragtingslagoffers. Jy kan ook jou storie deel
-
Hou jou kinders styf vas...
SARIE - Mei 2010
-
Perd van 'n leier
SARIE - Mei 2009
Hulle is eerlike diere wat jou emosies en gedrag soos 'n spieël terugkaats. Daarom dat perde nou ingespan word om jou innerlike leier na vore te bring
-
Terapie: Kies reg vir jou kind (Deel 1)
SARIE - Oktober 2010
Deesdae is daar ’n kenner (of drie) vir elke probleem wat jou kindalk het. Maar wanneer is terapie wérklik nodig en waar begin jy?
















Kommentaar
Loretta het gesê:
Hi Marle, Ek is 57 jarige ouma en het my dogter se erg mishandelde 12 jarige gemolesteerde kind wat in my sorg deur die hof geplaas is. Hy het net soveel aggressie gehad. Dit gaan al baie beter na 'n jaar. Nadat ek hierdie getuienis gelees het, is ek so diep geroer, en verstaan waarom die arbeidsterapeut die kind verwys het vir perde terapie. Ek kon glad nie die goed bymekaar kry nie, maar nou verstaan ek dit. Ek sal regtig moeite doen om hom by hierdie terapie te kry. Dis so ongelooflik, dat God hierdie diere so ongelooflik gebruik, ek is verstom gelaat. Ook dat daar mense soos julle is wat hierdie werk doen. Ons bly op 'n plattelandse dorpie 500 km anderkant Windhoek in Namibia, en het nie sulke fasiliteit nie, so ek moet elke week 120 km ry om hom net by die terapeut te kry. Ek sal regtig ekstra moeite doen om dit te doen. Nogmaals dankie vir hierdie mooi getuienis.
13de Aug. 2010, 21:11