Melanie du Bois: My in vitro-dagboek (deel 4)
Foto’s: Phyllis Green Galery
In vitro-bevrugting is vir Melanie du Bois (Felicity van 7de Laan) ’n emosionele pad. Ná ’n onlangse miskraam skraap sy moed bymekaar en probeer weer. Vir haar is dit nou ‘D-dag’
Maandag 30 Maart
Dis ’n maand sedert my miskraam. Daar was baie hoogte- en laagtepunte. Meer af as op. Die selfvertwyfeling en gevoel dat ek ’n mislukking is, begin weer kop uitsteek. Dis moeilik om positief te bly. Ek voel asof ek so alleen is, en tog het ek baie ondersteuning – by die werk en tuis. Bertha (le Roux) en ek het bemoedigende gesprekke. Maar niemand kan regtig die ontsaglike, aanhoudende pyn in my verstaan nie.
Dis uiteindelik tyd vir die tweede hoofstuk van my reis. My menstruasie is laat. Ek het soveel swangerskaptoetse ondergaan, dit kan nie wees nie. Ek droom byna elke nag ek is steeds swanger, maar die toets is elke keer negatief. By die kliniek doen hulle nog een. Ek wens so vir ’n positiewe uitslag, maar dis negatief. My hoop is weer verpletter. Die dokter ontdek ’n klein sist wat keer dat ek begin menstrueer. Ek moet vir vyf dae medikasie neem om daarvan ontslae te raak. My emosies ry weer wipplank. Hoekom ek? Wat het ek verkeerd gedoen? Ons vroue wys altyd die vinger na onsself. Al wat ek nou kan doen, is om te bid vir krag en wysheid om te hanteer wat ook al gebeur.
Saterdag 4 April
My menstruasie het begin. Oor tien dae kan ons die eerste sonar doen om te sien wanneer ons die gevriesde embrio’s kan terugplaas.
Maandag 13 April
Dis weer tyd vir die sonar. Uiteindelik sien ons ’n dokter, nie dr. Van Rensburg nie. Die wand van my uterus is 4 mm. Dit moet 9 mm wees. Die dokter sê ek moet weer Woensdag na dr. Van Rensburg toe kom.
Woensdag 15 April
Ons is terug by dr. Van Rensburg vir die inplanting. Dis skrikwekkend hoe gewoond ek al aan hierdie ingryping geraak het. Die wand is net 6 mm. Die suster gee my ’n baie pynlike progesteroon-inspuiting, wat die wand help verdik. My volgende sonar is Sondag. Ek kan nie eens my emosies beskryf nie. Ek dink my verstand het alle emosie afgeskakel om my te help oorleef, goed of sleg. Ek voel asof ek net outomaties voortgaan.
Sondag 19 April
Hierdie keer is ek voor in die ry, ek het seker gemaak. Vrydag het ’n vriendin (wat ook in vitro deurgaan) gehoor sy was suksesvol. Dit gee my hoop, dis net die hupstoot wat ek nodig het. Goeie nuus, my wand is 9,1 mm, ons kan die embrio’s Donderdag of Vrydag insit. Hy skryf nog ’n inspuiting voor – hierdie keer estrogeen. Regi moet dit doen. Ek huil, want dis seer. Roxy was nogal bekommerd. Ek vertel haar dis medisyne wat Mamma help.
Maandag 20 April
Terug by die kliniek om my medikasie vir die volgende twee weke te kry. Ek is te bang om iets te voel. Nou kry ek setpille en tablette om my liggaam vir die gevriesde embrio’s voor te berei. Dit maak my effens naar, maar dis alles vir ’n goeie saak. Ek probeer om my doelwit voor oë te hou.
Donderdag 23 April
Dis D-dag. Dis moeilik om op enigiets anders te fokus. My afspraak is teen middagete. Die dag sleep verby. Ek kom vroeg by die kliniek, sodat ek die administrasie en betalings kan afhandel. Dis regtig vir ons finansieel dreinerend. Ek voel nie baie sterk vandag nie. Regi, my pilaar van krag, gaan eenuur hier wees. Ons huwelik kry deesdae ’n bietjie swaar. Maar hy staan by my, ongeag wat.
Net voor eenuur kom haal hulle my. Regi het nog nie gekom nie. Die suster bel hom. Ek voel baie jammer vir myself terwyl hulle my by die teater instoot. Dit neem hulle ’n paar minute om die gevriesde embrio’s te bring. Dit gee my ridder genoeg tyd om met ’n bos blomme op te daag, net betyds om te sien hoe die embrio’s hul debuut op die TV-skerm maak. Dr. Van Rensburg moet my ferm vermaan om te ontspan, so gespanne is ek. Ek begin huil, ek wil regtig nie dié keer misluk nie. Ek moet twintig minute met my voete gelig lê. Regi lei my aandag af en die tyd vlieg verby.
Ek gaan werk toe. Nou moet ek so kalm as moontlik bly en positief wees. Binnekort is die swangerskaptoets. Die gewag is uitmergelend, want my kop bedink allerlei scenario’s. God, ek dank U vir al my seëninge.
Lees in die Augustus-uitgawe (vanaf 6 Julie te koop) wat die uitslag was.
- Hare Deidre
- Grimering Deidre
Verwante artikels
-
Melanie du Bois se boodskap aan SARIE-lesers
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 2
"Ek wil regtig vir SARIE bedank wat my die kans gegee het om my storie te vertel, om vir vroue soos ek ‘n stem te gee.
-
Melanie du Bois se hoop, vrees en lewenslesse
SARIE - April 2009 | Kommentaar: 15
Sy het ná twee buisswangerskappe in vitro-bevrugting ondergaan – en ’n dogtertjie ryker geword. Noudat Roxy groter is, doen Melanie (Felicity van 7de Laan) dit weer.
-
Melanie du Bois, Felicity van 7de Laan: "Moet ek 'n baba aanneem?"
SARIE Augustus 2011
Melanie du Bois vertel van een van die moeilikste besluite wat sy nog moes neem
-
Melanie du Bois: My in vitro-dagboek (deel 3)
SARIE - Junie 2009
Die opwinding en my groot teleurstelling...
-
My in vitro-dagboek - Melanie du Bois
SARIE - Mei 2009 | Kommentaar: 15
Die onsekerheid, spanning, trane, en dan die vreugde ... Nadat sy met behulp van in vitro-bevrugting ma van klein Roxy geword het, stap Melanie du Bois (Felicity van 7de Laan) nou weer dieselfde pad. Sy hou vir SARIE dagboek
-
Ons is deur 9 in vitro-behandelings in 5 jaar
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 1
















Kommentaar
mavis het gesê:
Ek en my man sukkel al vir 18 jaar. Het endometriose gehad, altwee my buise is November 2009 verwyder. Ons het in Oktober die jaar gegaan vir die eerste ondersoek by Vincent Palotti hospitaal. Sonar gevat alles lyk reg die baarmoederwand en die eiertjies is die regte grote. Nou wag ons vir die menstruasie om te kom sodat ons met die medikasie kan begin. Was nou vir die tweede keer daar is 'n sist by een van die eierstokke of die endometriose het terug gekom. Gaan Woensdag die 8ste Des. in vir laparoskopie om te kyk wat aan gaan. So ja ek weet hoe voel julle wat deur dit gaan. Op die stadium is ek so bietjie moedeloos kort kort in trane wat doen jy as daar nie goeie nuus is nie. Maar ek probeer om my positief voor te bereid vir Woensdag. Stekrte en Groete aan almal wat dit deur maak wat ek nou deur gaan. Mavis
5de Des. 2010, 20:29leatitia het gesê:
Ek wil net se ek bewonder julle uithou vermoe!My sus is ook besig met invitro,maar sy moet nou gaan vir skraap,is so down!Ek wens ook mediese fondse wil help met die behandelings,julle wt hiet kommentaar gelos het,julle is so positief,en gee my moed om met my sus te help,ek hoop en bid laat julle almal se wense sal waar word,inkluis my sus!!Ek sal ook wil weet kan ons die boek dalk te koop kry,asb!
21ste Sep. 2010, 13:49ansie bouwer het gesê:
aai al die emosies en gevoelens wat nou deur my kop en hart gaan. Op die stadium gaan ek en my man ook na die medfem kliniek na dr. Rodrigues toe. ons is wel nog nie lank getroud nie (2 jaar en 5maande) maar die vreugde en liefde van ons huwelik wil ons bitter graag saam `n kind deel. Ek het ook vir invetro gegaan (junie) al die inspuitings,die vroe oggende opstaan in die verkeer ry en baie geduld saam met dit,was die uitslae ongelukkig negatief. Ekt myself gevra hoekom ek,"wat het ek gedoen om nie `n kind te verdien nie",maar het besluit ek beter myself reg ruk want eks nie iemand wat tou opgooi nie,ekt myself reg geruk en besluit om weer dr toe te gaan en vrae te vra. Op die stadium wag ons net vir my menstruasie dan moet ek die dr op dag 3 van my siklus gaan sien,eks verward,en positief,en negatief, so wat is ek nou eintelik? BANG,dit werk nie weer nie. Ek gun die pyn en al die emosies vir niks of niemand nie,maar ek glo die Here het `n doel met als en almal,eendag sal ons kan terug kyk en verstaan hoekom die Here die dinge op ons paaie gesit het,maar tot dan sal ek bly glo en positief wees oor die volgende inplanting. Sterkte aan almal wat dieselfde paaitjie loop as ek en my man.
15de Jul. 2010, 19:18Victoria het gesê:
Ek en my man sukkel al vir 7jaar om swanger te raak. Het Melanie hierdie dagboek in boekvorm sodat ek dit kan aankoop?
1ste Des. 2009, 13:11Magdalene Joubert het gesê:
Baie sterkte, Ek nou 31 en my man 35 na baie trane en hartseer het ons ook in 2007 gegaan vir IVB.Ek het vele operasies ondergaan vir Endometriose en het 2 beskadigde buise, maar het ons n pragtige seuntjie ryker geword, ons wil bitter graag weer gaan maar sal dit nie weer kan bekostig nie dis ongelooflik duur. Dr kon net 5 follikels kry van my een eierstok en al 5 het ontwikkel en het hulle die beste 3 terug geplaas, ongelukkig was die ander 2 nie geskik vir bevriesing nie.My hart gaan uit aan almal wat so moet sukkel ek wens net die mediese fondse wil bykom!!!Weereens dankie aan Dr Johannes van Waart en die uistekende personeel by Vincent Palotti hospitaal Kaapstad. Ek dank God ook elke dag as ek na ons vreugdevolle seuntjie al amper 3 kyk. Groete Maggie Stellenbosch
9de Sep. 2009, 11:51Adri Rheeders het gesê:
Melanie. Ek bid en glo alles sal goed uitwerk. Ek weet hoe jy moet voel want ek het deur dieselfde prosedure gegaan as wat jy nou deur gaan en dit is baie emosioneel maar sonder God sou ek dit nie kon doen nie ek het 14jaar vir myne gewag en ek dank die Here elke dag vir my pragtige seuntjie met sy blou ogies en dimpels. Mag die Here jou seen in die tyd wat voorle. Daar is 'n spreukwoord wat se: Everything Happens for a Reason in Life and my God can doe everything.
13de Jul. 2009, 22:42