Michélle op pad na Lily Pond-weg: gesogte adres van die Lauders, Martha Stewart en Jackie Kennedy se grootouers
Michélle se eerste dag in East Hampton - dáár waar die rykes rus en vrede vind...
Kon op my eerste dag heerlik rondstap in East Hampton, hitte en bedompigheid ten spyt. Ek het vanoggend ook die blase wat daarmee saamgaan - noudat ek op my beste moet lyk!
East Hampton is prentjiemooi - eens 'n vissersdorpie het dit vir seker karakter, en duidelik nog meer geld. Junie, Julie en Aug is hoogseisoen hier en almal spog met hul nuutste strandklere (perfek bymekaargesit, natuurlik) en 'n ordentlike sonbruin.
Dis sowaar 'n wit en blou plek. Dié tuine staan vol blou en wit krismisrose - selfs op winkeltoonbanke en in vensters pronk reuse-glasbakke met dié blomme. En ek sweer ek het die oorsprong van die "nautical look" ontdek! Ralph Lauren, die Amerikaanse ontwerper wat dié voorkoms byna sy eie gemaak het, is nie al winkel wat hier "nautical" en strepe skreeu nie! Elke 2de winkelvenster spog met 'n wit/room, donkerblou en rooi variasie, en mense op straat werk behoorlik dié voorkoms, met so 'n sterk stuk bling daarby.
Soos ek laas in 'n redakteursbrief gesê het, is die Amerikaners nie skaam om hul vlag te wapper nie (iets wat ek wens ons in SA wil aanleer, want ons het die mooiste vlag in die wêreld) - en dit versterk net die wit, rooi en blou op die dorp. (4 Julie was Amerika se Onafhanklikheidsdag.)
Met my aankoms gister by my gastehuis, The Maidstone, het 'n wonderlike verwelkomingsak op my bed gestaan met my voorletters, MvB, daarop geborduur. Die kleur? Room en blou. Binne-in was van Aerin Lauder se gunstelinge uit dié kontrei: chocolate chip cookies - meer Amerikaans kry jy nie - groot, vet donkersjokolade-amandels en lekkers wat hulle Salt Water Taffy noem, wat ek glad nie ken nie (ek het nog nie die boks oopgemaak nie).

En daarmee saam die groot bederf: produkte uit Estée Lauder se Re-Nutriv-reeks en die rede waarom ons almal hier is. (Re-Nutriv is deur mev. Estée Lauder self bekendgestel. Dit was in daardie tyd die duurste skoonheidsproduk op die mark, in daardie tyd al 115 dollar vir 'n pot!, maar sy het so onwrikbaar geglo in die produk dat sy ondanks waarskuwings dat dit nooit sou verkoop nie voortgegaan het met die bekendstelling. En nou is dit 50 jaar later...)
En dan moet ek die bottel Private Collection Jasmine White Moss nie vergeet nie. Dit was 'n parfuum wat mev. Lauder begin het, maar nooit voltooi het nie. Toe maak Aerin dit klaar en stel dit in 2007 bekend. En wat 'n wonderlike geur is dit nie - die mengsel van jasmyn en koel mos werk veral in warm weer, het ek gister gesien.
Soos ek hier skryf, is dit net voor 5 in die oggend, maar die TV waarsku al teen vandag se hitte - en veral hoe om te sorg vir jou diere. Hier op die sypaadjies staan oral waterbakke vir East Hampton se honde - nogal indrukwekkend.
Ná ontbyt is ons op pad na Aerin se huis - glo op Lily Pond-weg waar Martha Stewart ook 'n huis het. Dis ook waar Jackie Kennedy se ouma en oupa gebly het! Uit foto's wat ek al gesien het, en waarvan ons gister 'n paar op die web gesit het, is 'n groot tema van die Lauder-huis juis wit en blou met onder meer waardevolle Chinese porselein wat nog deur mev. Lauder versamel is! Ek doen ook 'n onderhoud met Aerin en Carolyn Murphy, een van die wêreld se suksesvolste en hoogsbetaalde modelle en die gesig vir Re-Nutriv. Boonop is sy al 'n ma!
CAROLYN MURPHY by die bekendstelling

Dit als klink seker soos "another tough day in East Hampton", nè? Maar iemand moet dit doen! Ek gaan julle so tussendeur laat weet hoe vandag verloop. En net voordat ek bad en aantrek, geniet ek gou 'n chocolate chip cookie so saam met my koffie - vir die energie natuurlik!
Groete
Michelle


Verwante artikels
-
Aerin Lauder se nuwe geur
SARIE - Desember 2009
Aerin Lauder, kleindogter van Estée Lauder, het ’n parfuumformule ontdek wat haar ouma onvoltooid gelaat het.
-
Estée Lauder Advanced Night Repair: Tyd in 'n bottel
SARIE - Augustus 2009 | Kommentaar: 4
Dié ikoniese klein bruin botteltjie spog ook nou met 'n splinternuwe webtuiste.
-
Jonger oë - jonger jy!
SARIE Augustus 2010
3 maklike stappe na varser, jonger oë.
-
Kyk waar kuier Michélle van Breda, SARIE-redakteur!
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 3
Sy neem ons saam op 'n spesiale kuiertjie in die Hamptons buite New York.
-
Michélle verklap gesprekke om die Lauders se etenstafel
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 1
En daar verras Aerin Lauder en haar span ons groep redakteurs (van sover as Rusland, Australie en Mexiko) gister behoorlik!
-
Sensueel soos ’n kraakwit hemp
SARIE - November 2008
Marilyn Monroe kon ’n vertrek tot stilstand bring – maar sensualiteit is meer as kurwes en rooi lippe. Dit skuil in selfvertroue en wysheid; in ’n goeie rooiwyn en ’n varswit hemp. Ook in ’n geur ...
-
Shanghai vat 'n hap uit Apple
SARIE Julie 2010
Die moderne weergawe van ‘n grot: Apple se nuwe ondergrondse winkel in Shanghai.
























Kommentaar