Michélle verklap gesprekke om die Lauders se etenstafel
En daar verras Aerin Lauder en haar span ons groep redakteurs (van sover as Rusland, Australie en Mexiko) gister behoorlik!
Nie net het sy ons 'n kykie die verlede in gegee deur haar ouma Estée Lauder se huis spontaan vir ons oop te gooi - van haar wit en blou slaapkamer, ongelooflike versameling blou Chinese porselein, gunsteling-strooihoedens teen die muur en selfs van haar persoonlike foto's saam met haar kinders en kleinkinders en bekendes soos Prinses Grace en Ronald en Nancy Reagan - maar het hulle ons 'n voorsmakie van die moderne tegnologie gegee deur die hele voorlegging oor Re-Nutriv en die pad vorentoe vir di'e ikoniese 50-jarige produk op iPad te doen!
Elkeen het 'n Apple iPad (sjoe, wat 'n mooi ding is dit nie!) gekry en ons kon die voorlegging voor ons moeiteloos volg. 'n Opwindende eerste vir ons almal daar waar ons in die pragtige groen en wit oop "pool room" met sy bosse wit krismisrose en potte jasmyn gesit het.

Vir my was daar 'n oomblik van hiperventilasie - so met my BlackBerry, selfoon, nuwe kamera en digitale bandopnemer voor my. Toe nog die iPad wat ekself moet "bestuur". Dan moet 'n joernalis mos nog notas (ja, met pen en papier!) ook neem - as 'n "backup" vir die tegnologie wat dalk net kan ingee. Maar om 'n stukkie tegnologie, wat gouer as later deel van die gedrukte media ook in SA sal wees, in werking te sien was werklik opwindend.
Dit het natuurlik die gesprek aan etenstafel om tegnologie laat draai, en een ding is seker: SA en SARIE is nie agter by die wêreld se ander tydskrifte nie! Hulle was almal grootoog en opgewonde oor die moontlikhede rondom 'n blogger soos sarie.com se Tallie wat met soveel emosie oor haar man se werverlies kon blog en toe kon wegstap met 'n Blogger vd Jaar-prys en nou selfs motiveringspraatjies doen.
Die ander gesprek was SA, SA, SA... "South Africa is having a real moment" het iemand heel filosofies gesê. Kyk, dat die sokker ons vol in die kollig gesit het, is vir seker. Uit die groep het die meeste die laaste weke die sokker gevolg - en daarby bedoel ek intens gekyk het. Almal wil ook net meer weet van "that vuvu thing"!
En die Groot Vyf. En Die Antwoord - hier in Amerika weet hulle van dié Afrikaanse groep en kon hulle selfs 'n paar woorde van die liedjies (!) in erge skeef en krom Afrikaans herhaal. En ek kan nie sê hoeveel redakteurs vir my kom vertel het: "I have/had a SA boyfriend". Lyk my ons is inderdaad nou oral!
Baie redakteurs maak ook planne om in SA te kom kuier - sommige nog dié jaar. Vir seker is hier nou 'n "SA thing" aan die gang, en ek kon trots almal se vrae beantwoord. Sommer van SARIE KOS ook vertel - soveel so dat ek nou 'n paar Oostenryk en België toe moet stuur!
Maar terug gou by die sokker - dr. Dan Yarosh, hoof van Estée Lauder se wetenskaplike navorsing wêreldwyd en met wie ek later vandag 'n onderhoud het oor die nuutste velsorgtegnologie wat ook in Re-Nutriv gebruik word, vertel dat 'n familielid dié naweek trou, maar toe die familie die tyd sien, het hulle subtiel druk op die bruid toegepas om als so te reël dat almal nog Sondag se sokker-eindstryd kan kyk!
Oor die interessante onderhoude wat ek gister met Aerin en Carolyn Murphy (die gesig van Re-Nutriv) gedoen het, sal ek later meer vertel en vir seker in November se SARIE. Gister is afgesluit met 'n lekker kuier toe ons bederf is met 'n "barn-ete" in 'n skuur op die landgoed van Aerin se pa, Ronald (eens 'n Amerikaanse ambassadeur in Oostenryk) hier in die Hamptons.
Dit was so tipies Amerikaans: mieliebrood, gekrummelde hoender, 'n lang tafel en emmers vol heldergeel sonneblomme.
Ek het lekker gaan slaap - bevoorreg is ek ja, maar veral oor ons land wat nou so op almal se lippe is. Ek was gister 'n trotse SA en SARIE-redakteur!
Baie groete uit 'n steeds warm Amerika!
Michelle


Verwante artikels
-
Jonger oë - jonger jy!
SARIE Augustus 2010
3 maklike stappe na varser, jonger oë.
-
Kyk waar kuier Michélle van Breda, SARIE-redakteur!
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 3
Sy neem ons saam op 'n spesiale kuiertjie in die Hamptons buite New York.
-
Michélle op pad na Lily Pond-weg: gesogte adres van die Lauders, Martha Stewart en Jackie Kennedy se grootouers
SARIE Julie 2010
Michélle se eerste dag in East Hampton - dáár waar die rykes rus en vrede vind...
-
Michélle van Breda vang sokkergees: "A-nee-a, dis 2010, dis Wêreldbekersokker, 'n vlag vir my motor sál ek koop."
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 2
-
Michélle van Breda: Dit gaan óns jaar van inspirasie wees!
SARIE - Januarie 2011
Nee, ek weet nie iets wat jy nie weet nie.
-
Shanghai vat 'n hap uit Apple
SARIE Julie 2010
Die moderne weergawe van ‘n grot: Apple se nuwe ondergrondse winkel in Shanghai.




























Kommentaar
Isabella Niehaus het gesê:
Wow!!! Ek wil nog hoor!!!! Ons praat altyd so van 'moments of magic'. Die is DAE vol MAGIC!!! Geniet Mich. Bella.
9de Jul. 2010, 17:46