My in vitro-dagboek - Melanie du Bois

Deur Melanie du Bois, SARIE - Mei 2009

My in vitro-dagboek - Melanie du Bois Foto’s: Phyllis Green Galery

Die onsekerheid, spanning, trane, en dan die vreugde ... Nadat sy met behulp van in vitro-bevrugting ma van klein Roxy geword het, stap Melanie du Bois (Felicity van 7de Laan) nou weer dieselfde pad. Sy hou vir SARIE dagboek

Maandag 5 Januarie
Dis my eerste afspraak sodat ons met in vitro-bevrugting kan begin. En hier is ek, aan die huil soos 'n groot baba. Dis ook Roxy se eerste skooldag en my emosies is 'n warboel. Dis eintlik gepas dat ek dr. Johan van Rensburg by die Medfem-kliniek (in Sandton) juis vandag besoek, want ek en Roxy begin albei 'n nuwe reis. Vuyelwa Booi (Alice in 7de Laan) is saam met my, en Regi (my man) verras my by die kliniek, so ek het baie ondersteuning. Alles lyk goed, ook die sonars. Die dokter sê ons kan op die 21ste begin. Die waarskuwingsklokkies lui, want verlede keer het ons misluk toe ons hierdie siklus gebruik het (om te begin op die 21ste pleks van die tweede dag van my siklus). Maar ons besluit om voort te gaan en bly positief.

Woensdag 21 Januarie
Tyd vlieg. Die dag het aangebreek. Ons doen die sonar en begin met die inspuitings. Sjoe, ek is bang.Die inspuitings bevat hormone wat my eiersakkies help groei en hulle langer "lewend" hou. Eers net een inspuiting per dag, 'n week lank, en dan twee per dag vir twee weke. Ons ontdek dat ek en Regi antibiotika moet drink om infeksies op te klaar. Ek is bekommerd, dit kan die eiertjies doodmaak.

Maandag 9 Februarie
Die inspuitings het goed verloop. Jo da Silva (Gita in 7de Laan) en Vuyelwa het my elke dag (in die maag) ingespuit - ek is maar 'n ou bangbroek. Ek voel vanoggend baie angstig, want dis hiér waar ons verlede keer misluk het. Dis vyfuur in die oggend en ek wag reeds buite die kliniek. Ek kon nie slaap nie. Sewe-uur sien ek uiteindelik vir dr. Van Rensburg. Hy meet die eiersakkies. Dit lyk asof hulle goed groei. Al ses lyk gesond! Ek is so verlig, ek wil net huil. Ek hou Regi se hand so styf moontlik vas en hy verstaan. Ons is albei opgewonde om hier verby te kom.Dit lyk asof die oes-datum rondom die 11de, 12de of 13de gaan wees. Dan word die sakkies uitgehaal en met sy sperm bevrug. Ek sal dadelik daarna moet werk toe gaan, want ek is deel van 'n storielyn ... al probleem is die narkose tas jou geheue aan, maar dr. Van Rensburg kan my iets gee wat my gouer normaal laat onthou. Ek hoop so!

Woensdag 11 Februarie
Die uitslag is hier, ons doen dit Vrydag die 13de. Dis mos 'n goeie teken, of hoe?

Vrydag 13 Februarie
Dis agtuur en ons is op pad na Medfem. Die verkeer is erg. Ek's 'n bol senuwees. Ek en Regi praat skaars; ek dink ons is ewe angstig. Halftien word ek by die teater ingestoot. Die verpleegster sukkel om die naald in te kry vir my drup. Een van my arms is later vol bloed. Ek begin bewe, die ene senuwees. Dr. Van Rensburg gee my narkose. Die volgende ding wat ek onthou, is hy en Regi aan my sy met die nuus: Hulle kon sewe eiers uithaal! Ek is regtig seer en kry medikasie, maar ek moet terug werk toe.

Saterdag 14 Februarie
Vanoggend moet ek bel en hoor hoeveel eiers die bevrugting oorleef het. Die slaap het my weer ontwyk en ek voel permanent gespanne. Ek weet ek moet kalm bly. Presies halftien bel ek: vier het oorleef, en hulle verdeel al! Wat 'n verligting! Ek huil al weer. Roxy wil weet wie dan haar Mamma seergemaak het? Dis só moeilik om aan haar te verduidelik wat nou gebeur, so ek verseker haar maar net dat Mamma oukei is.

Sondag 15 Februarie
Die laboratorium bel. Ek staan snaarstyf terwyl Regi praat. Hoekom bel hulle nou? Goeie nuus! Een van die embrio's het in twee verdeel - nou het ons vyf embrio's. Regi, Roxy en ek doen 'n vreugdedans! Woensdag word hulle in die baarmoeder teruggesit. Sjoe!

* Lees in die Julie-uitgawe (8 Junie op straat) oor die inplanting en afwagting...

Verwante artikels

Kommentaar

  • Hello! serophene ovulation.

    1ste Mar. 2012, 00:31
  • Hello! cheap generic advair diskus North Carolina.

    29ste Feb. 2012, 03:39
  • Hello! furosemide erowid.

    28ste Feb. 2012, 00:38
  • Ek het en my man werk albei.Ons het n mediese fonds,maar hulle betaal nie vir fertiliteitsbehandeling nie (snaaks genoeg help hulle as dit by aborsies kom) Ons het nie geld wat rondle vir behandeling nie en kan ook nie soveel spaar nie...invitro is so vrek duur. Ek wil so graag n baba he. Dis so ironies dat ek wat nog nooit materialisties was nie wens ek het meer geld gehad...

    12de Des. 2009, 14:29
  • Eks exited & bang op dieselfde tyd. Ek is nou 26 & my man 27. My man het Testicle kanker gekry toe hy 25 was. Hy is wel nou skoon maar ons kan nie normaal kinders kry nie. Ons was in April 2008 getroud. Ek was in Mei 2009 vir Insumminasie wat negatief was. Die teleurstelling was vir my iets verskrikliks. Ek gan einde Augustus 2009 vir my eerste In vitro behandeling. Dit kos so ongelooflik baie geld maar my skoon ouers het aangebied om te betaal daarvoor. Ek dank God vir Engele soos hulle. Ek bid elke dag dat God ons sal seen met 'n klein pienvoet.... net een, dis oorgenoeg.

    20ste Jul. 2009, 07:37
  • Sjoe, uiteindelik! Vrouens wat dieselfde paadjie as ek gestap het (en nogsteeds stap...) Om op 28 deur 3 invitros te gaan in 6 maande het my emosioneel en fisies uitgeput. Maar nie in die geloof nie. Dit het my geloof versterk en ek weet nou meer as ooit dat NET God die skepper is en ons lewensdae in Sy boek opgeskryf is nog voor ons geboorte. Ek weet my kinders kom binnekort en ek besef dat ek my wil en my redenasies en my begeertes en, en, en... eers voor Sy voete moes neerle. Om deel te wees van Sy wil en doel is al wat my versterk om dag na dag aan te gaan en voluit te lewe. Elke keer as ek dink aan die inspuitings, die afwagting, die aaklige prosedure, die lang wag in die spreekkamer, die feit dat ek net soos 'n "file nommer" gevoel het, dat my dokters keer op keer vir my gese het dis A-simbool embryos en dat ek nou swanger is, die hartseer in my dierbare man se oe en die feit dat my vriendinne sommer net swanger raak... Al hierdie vrae en hartseer gee ek vir God. Sterkte aan Melanie en aan julle almal wat dit al deurgemaak het en nogsteeds moet deurgaan.

    25ste Jun. 2009, 20:18
  • Baie dankie vir die dagboek! Ek en my man sukkel ook 'n geruime tydjie, en gaan een van die dae in vitro probeer. Ons is so onseker wat om te verwag en jou dagboek het baie gehelp! Dankie! Liefdetjies!

    16de Jun. 2009, 16:59
  • Melanie, ek het nou net deel 3 van jou in - vitro dagboek gelees. Ek weet en verstaan presies hoe jy gevoel het toe julle hoor die toets is negatief. Dis dieselfde gevoel wat ek kry elke maand wanneer ek begin menstrueer. Ek en my man sukkel al 4 jaar om swanger te raak, het nog nie in - vitro probeer nie, want ons probeer maar eers met pille wat spesiaal geformuleer is om mense te help wat sukkel om swanger te raak. Ons probeer maar positief bly en ek glo as daar 'n kleinding oor jou pad moet kruis sal die Here dit stuur wanneer die tyd reg is. Sterkte vir jou en jou man wat met hierdie emosionele berg sit. Ek ken die gevoel!!!!

    27ste Mei. 2009, 16:22
  • Melanie, ek dink jy is baie braaf om jou gevoelens met almal te deel en dan weer jy is nie alleen nie, ons dogtertjie is 2 en ons het so gehoop daar sal al 'n boetie of sussie op pad wees, want sy soek 'n maatjie, maar nog geen sukses, het nog nie in-vitro probeer nie, tans is ek vir behandeling by 'n homopaat en alles lyk positief - ons hou al ons duime vas dat jy een van die dae goeie nuus sal kry! baie groete, Magdaleen

    25ste Mei. 2009, 17:41
  • Ek het hierdie artikel gelees en net geweet ek moet vir al die mammas en pappas bid die hartseer en die pyn is egter iets wat elkeen alleen dra, ek het wel normaal 1 baba gehad en 1 aangenome baba na 2miskrame en my baba doodgebore op 9 mnde dis al soveel jare terug maar vergeet sal mens seker nooit. Sterkte ek glo die Here weet die beste hou net aan bid en vertrou op Hom.

    25ste Mei. 2009, 12:43
  • Dankie vir Sarie vir die plasing van Melanie se dagboek.Ek het saam met haar deur al die emosies gegaan,saam gehuil. Ons het April ons 1ste in-vitro gehad. Ons was baie positief,die inspuitings,die prosesse daarna het so goed verloop, dr was baie tevrede en positief saam met ons.Dit was 'n baie emosioneel uitputtende en senutergende tyd gewees. Dan, na die vreeslike gewaggery (2weke wat soos 200jaar gevoel het!), die skok en teleurstelling dat ons nie nou al geseën gaan word met 'n pienkvoetjie nie.Ons was stukkend gewees. Dit het ons tot die besef gebring dat die Here se tyd nie ons tyd is nie. Medies en menslik het ons alles moontlik gedoen, alles is nou in die Here se hande.Ons bly nou op ons knieë, bly Glo&Bid&Vertrou op 'n wonderwerkie uit die Here se hand.

    22ste Mei. 2009, 15:04
  • Ek beleef 'n de-ja-vu. Ek was ook een(1) keer deur die in-vitro proses en sal dit nooit weer doen nie. Die gejaag na die dokter en terug, die inspuitings wat klokslag gespuit moet word en dan is daar die gewag. En dan die teleurstelling. Ek het 'n grooter motor aangeskaf want ek het so hard gebid dat dit 'n sukses sou wees, maar dit was nie!! Ek en my man is geskei na al die trauma en trane. Maar ek is bly vir al die ander mammas en pappas wat dit voor gewerk het.

    21ste Mei. 2009, 14:53
  • Hallo Almal Mamma was 'n woordjie wat ek so bitter graag wou hoor - maar amper was dit my nie beskore nie!. Na 4 en 'n halwe jaar se hartseer en trane en 6 in-vitro-bevrugtings later is ek die trotse ma van 'n tweeling seuntjie en dogtertjie-nou 15 maande. Ons is so dankbaar teenoor God en daarom het ons 'n trust gestig vir mense wat nie die fondse het vir die behandeling nie. Indien enige een hulp of raad nodig het of self daardeur is en graag betrokke wil raak kan julle my skakel by 0824984483....Vir Josua het God die son vir 'n dag laat stilstaan, vir Hiskia die sonwyser 10 trappe teruggeskuif, vir Moses 'n pad deur die see gemaak en vir ons het Hy 'n tweeling gegee! Dankie Here vir die kosbaarste geskenk! Een ding kan ek net se -MOENIE MOED OPGEE NIE!!Melanie kan jy my asb kontak - ek dink ons deel dieselfde passie.

    20ste Mei. 2009, 09:22
  • Ek lees Melanie se dagboek en dit voel of ek die artikel geskryf het. Ek is in Januarie deur dieselfde proses wat ook 'n mislukking was.My hart is nog stukkend.Ek weet dat die dokters se daar is net 'n sekere % dat dit sal werk maar met al die inspuitings en pille na die inplanting is 'n mens so seker hoe kan dit nie werk nie !Dis 'n baie duur proses maar wat ek geleer het uit dit is :Geld kan nie kinders koop nie! Die Here sal wel 'n kindjie gee op die regte tyd ons moet net vashou aan GELOOF! Die proses was vir my baie senuweetergend en ek weet nie of ek dit weer sal wil deur maak nie.

    19de Mei. 2009, 09:47
  • ek hou duim vas en ek hoop dit sal 'n groot sukses wees ek bid vir julle hou moed.

    18de Mei. 2009, 22:32