Om Bubbles te Blaas

Deur Tanya O'Connor, SARIE - Junie 2010

"Wanneer ek by die huis kom gaan staan ek dan gewoonlik op die stoep en blaas bubbles. Bubbles het my help vrede maak met dood."

24 Junie 2010

Om bubbles te blaas

Ek kan nie verby 'n plastiek houertjie vol potensiele bubbles loop nie.  (Seepbelle klink net nie reg nie of hoe ?) Ek moet dit koop!  Wanneer ek by die huis kom gaan staan ek dan gewoonlik op die stoep en blaas bubbles.

Ek sien hoe dit wegsweef op die wind. Dit is my meditasie tyd, my tyd van laat gaan. Dit is my tyd van besef wat is belangrik en wat nie. Dit is wanneer  my mondhoeke stadig begin lig in 'n tevrede glimlag. Dit is wanneer ek vry maak, wanneer ek koebaai se vir als wat my pla en besluite neem van kom wat ook al EK KAN DIT OORKOM!  

Ek kuier  in Gordonsbaai, hier is 'n lieflike dek wat uitkyk oor die ou en nuwe hawe, ek kan ook 'n groot gedeelte van die Helderberge sien. 

Soms sweef my bubbles tot ek hullle nie meer kan sien nie, soms ontplof hulle teen 'n suurlemoenboom se vrugte. Die pieng van die bubble wat nie meer daar is nie, die prismas van kleur wat rondspat en speel op die wind is verstommend goed vir my binneste.

Bubbles het my help vrede maak met dood. 'n Dierbare vriend van 70 het onlangs die pad gevat na waar bubbles sweef.  Wanneer ek bubbles blaas dink ek aan hom en stel hom vry met elke blaas deur die ronde kop stokkie.  Ek glimlag, die hartseer vloei uit my hart.

Ek kan dek toe stap met 'n swaar gemoed en na 'n blaas of twee is dit asof die mislikheid uit my lyf saam met die bubbles wegsweef. 

Ek het gedink om te belê in een van daardie gróót blasers maar nee, die asemteug en uitblaas deur die kleiner stokkie slaag veel meer in sy doel.

Terwyl ek skryf, wonder ek... speel die mensdom nog? Wanneer laas het jy wat hier lees bubbles geblaas? 'n Sandkasteel gebou of modderkoekies gebak? Is daar nie miskien verligting vir daaglikse stres in die eenvoudigste goed wat die lewe jou  bied nie?

Ek glo aan "seremonies", ek glo aan goed wat ek sien gebeur. Ek glo aan uitblaas wat my pla, dit sien wegsweef of net ontplof tot niks voor my oë. Die oplossing vir dit wat jou pla, dit waaroor jy kommer en tob is gewoonlik so eenvoudig. En dit kos net 'n kopskuif en dan val al die skille van jou oë af. Die oplossing is binne jou. Die vermoë om dit te kan, te wil en te sal oorkom is in jou hande. 

Ek is altyd bang om te sê dit is jou keuse, maar dit is. Ons almal hanteer nie stres, hartseer of trauma op dieselfde manier nie maar ons kan probeer om dit te oorkom. Dit was my keuse om aan te gaan, op te staan en gelukkig te wees.

Gaan koop nou 'n botteltjie bubbles, maak jou kantoorvenster oop en blaas! Blaas alles uit wat jou pla !

Verwante artikels

Kommentaar

  • JY is so 'n praktiese mens is jy seker jy het nie sielkunde geswot nie. Dit is die eerste ding wat ek gaan doen as ek van die werk af kom ek gaan vir my bubbels koop. En BLAAS en BLAAS tot al my mislikheid ook die wyk geneem het.

    2de Jul. 2010, 14:54
  • Ek blaas...

    30ste Jun. 2010, 15:13