Ons liefde blom ... 28 jaar later

SARIE Augustus 2010

Engela was in matriek toe sy Johannes, 'n brandweerman, in 1981 ontmoet het. ’n Paar dae later was hy in ’n motorfietsongeluk betrokke en drie weke in ’n koma. Maande daarna het die twee kontak verloor. En 28 jaar later sien hy haar naam in 'n tydskrif.

Hulle vertel self:

Johannes:

Dit is vroeg Januarie 1981 toe ’n pragtige jong meisie Worcester se Brandweerstasie binnestap. Vasgevang in die paar mooiste blou oë het ek skaars gehoor wat sy gesê het. Nadat sy ’n munisipale klagte aangemeld het, het ons begin gesels. Ek was baie bevoorreg om ’n ete-afspraak met haar vir die volgende aand te kry.

’n Paar dae later was ek egter in ’n ernstige motorfietsongeluk, en was van Worcester Hospitaal na Tygerberg Hospitaal oorgeplaas. Ek was vir drie weke in ’n koma en onbewus van haar besoeke aan my.

Sy was in matriek. Haar ouers was baie streng en het nie ons vriendskap goedgekeur nie omdat sy nog op skool was. Ek is ná vier maande in Tygerberg Hospitaal ontslaan en het by my ouers op George gaan aansterk. Om een of ander rede het ons kontak verloor. Ek het later ’n pos in Carltonville aanvaar.

Twee jaar later het ek haar weer probeer opspoor, net om te hoor sy was reeds getroud. So het die jare aangeweeg tot einde Oktober 2009. Ek was deur my huidige werkgewer op Jeffriesbaai vir ’n kursus na Greytown gestuur. Moeg geleer het ek die Huisgenoot gaan koop. Onder die rubriek “Reünies” het die naam Engela in besonder my aandag getrek. 

Gewapen met ’n telefoonnommer het ek haar geskakel. Om seker te maak dat ek die regte persoon op die lyn het, het ek haar gevra of haar nooiensvan Wilson was. Daar was ’n oomblik stilte voordat sy bevestig het dit is sy. Natuurlik het sy nie geweet wie praat nie, totdat ek haar gevra het of sy die brandweerman onthou wat hom byna dood geval het. Ons het lekker gesels en inligting uitgeruil. Sy was toe reeds drie jaar geskei en ek twaalf jaar. Toe ons afsluit, het sy my vir koffie genooi indien ek ooit deur Worcester sou ry.

Engela:

Toe ek einde Oktober die oproep van Johannes ontvang, was ek besig om ’n reünie te reël. Dit was ’n besige dag en ek het nie veel tyd gehad om oor die telefoon te kuier nie, maar het wel geduldig na die vreemdeling se gesprek geluister. Ek het gedink dis ’n oud-skolier wat navraag doen of ek dalk saam met hom op skool was.

Eers toe hy noem hy is die brandweerman wat ek destyds in Tygerberg Hospitaal besoek het, het ek bevestig dat my nooiensvan Wilson is. Ek het toe die gesprek afgesluit deur hom vir koffie te nooi wanneer hy dalk eendag deur Worcester sou ry. Min het ek geweet die man gaan die uitnodiging letterlik opneem.

Hy het een Sondag vir my gebel en gesê hy is op Worcester en sal graag daardie beloofde koppie koffie saam my wil gaan drink. Ons het die volgende dag op Wellington deurgebring, heeldag gekuier en gesels asof die 28 jaar nooit tussen-in was nie. Die dag het verbygevlieg en dit was tyd vir Johannes om weer die pad van 615 km terug te ry Jeffriesbaai toe. Daarna was ons daagliks per e-pos of telefoon in kontak met mekaar.

Johannes:

In Januarie 2010 het ek die 615 km afgelê vir die beloofde koppie koffie op Worcester. Dit was die naweek nadat die skole heropen het. Ek het min geduld met die padverbruikers gehad en het met baie vlinders in my maag daar opgedaag. Ons het mekaar by Dulce’s ontmoet en soos 28 jaar gelede het die mooi blou oë my weer eens vasgevang.

Engela:

Ek het gedink ons gaan mekaar as gevolg van die afstand nie weer sien nie. In ’n mate was ek dankbaar, want ek het nie in daardie stadium kans gesien, of dit was glad nie in my gedagtes om in ’n vriendskap of verhouding betrokke te raak nie.

Terug op Jeffriesbaai het Johannes weer planne begin maak vir ’n volgende ontmoeting. Hy het my gevra om in Februarie ’n paar dae saam met hom op George te gaan kuier. Ons het al die romantiese plekke in en om George, Oudtshoorn, Mosselbaai en Knysna en omliggende dorpe besoek.

Johannes:

Die laaste dag by die Knysna-meer het ek, Johannes Jacobus Barnard, finaal my hart op die blou-oog verloor. Ons het moeilik van mekaar afskeid geneem, en beloof dat dit die begin van ’n mooi vriendskap gaan word.

Engela:

Ek het met my terugreis met al hierdie deurmekaar gedagtes geworstel. Ek wou nie weer in ’n verhouding betrokke raak nie, maar my hart en verstand het twee verskillende tale gepraat. My hart het toe die stel met 6-0 gewen. Ek was verlief. Ek het dit egter vir ’n paar dae vir myself gehou.

Ek het in Johannes se SMS’e en e-posse agtergekom hy praat ook die taal van my hart. ’n Paar dae nadat hy sy liefde verklaar het, het ek erken ek voel dieselfde oor hom. Ek was egter so bang vir hierdie nuwe liefde, want dit was iets wat ek nog nooit ervaar het nie. Vir die eerste keer stel iemand mý eerste en neem my gevoelens in ag. Ons verhouding is een van gee en ontvang.

Johannes het met nuwe planne sy terugrit aangepak Jeffriesbaai toe. ’n Paar dae later het hy 'n afspraak met my gemaak om later vir hom te kom kuier.

Die daaropvolgende weke het hy dag en nag gewerk om genoeg geld te spaar en my met ’n vakansie te verras. Die groot dag het uiteindelik aangebreek vir my kuier by hom. Hy’t my verras en gesê ons gaan net in die kar klim en ry. Net hy het geweet waar die eindbestemming is.

Op Welkom het hy weggeglip en sonder dat ek iets vermoed het, ’n verloofring gaan koop. Op 12 Maart 2010 het ons in Johannesburg aangekom en Gold Reef City besoek. Ons het aan al die pretritte deelgeneem, en die “Big Wheel” vir laaste gehou. Johannes het die operateur gesoebat om die wiel te stop wanneer ons heel bo was, want hy wou foto’s neem.

En daar, tussen hemel en aarde, het hy my gevra om verloof te raak. Johannes het gevoel hy het ná 28 jaar sy verlore "diamant" weer gevind.

Twee dae later was ons in Durban, waar ons aan boord van die MSC-passasierskip gestap het vir ’n romantiese reis na die Portugese Eilande.

Ek het reeds verhuis na Jeffriesbaai en die huweliksklokke lui in November. Ons liefde maak my nie meer bang nie. Ons albei het ná soveel jaar hierdie liefde leer ken en ervaar. Ons leef elke dag voluit, want ons weet nie hoe lank die Vader ons vir mekaar gaan spaar nie.

Johannes Barnard en Engela Wilson


 

 

 

 

 

 

Kommentaar

  • Wat 'n pragtige storie!! Mag julle nou lank en gelukkig saamleef!!!!

    21ste Des. 2011, 13:35
  • Sjoe, ek dag ons verhaal is mooi. Ek dink dit is fantasties en wys net weereens dat die mens wik, maar God beskik. Hier het Hy tog maar 2 mense by mekaar uitgebring wat van die begin af saam moes wees.

    26ste Apr. 2011, 11:55

Web Development by FormFunction