SARIE se Charis resenseer Jakhalsdans
"Nadat jy die fliek gekyk het, voel dit so 'n bietjie asof jy na 'n hoogspring-atleet gekyk het wat maar net nie oor daai dwarslat kon kom nie." Só skryf SARIE se Charis oor die nuwe Afrikaanse fliek Jakhalsdans.
Jakhalsdans het die potensiaal gehad om 'n goeie fliek te wees. Die storie, uit die pen van die bekroonde skrywer Deon Meyer, is 'n goedvoel-verhaal met 'n gelukkige einde; Neil Sandilands, een van ons talentvolste akteurs is in een van die hoofrolle en Darrel James Roodt is die regisseur (hy't ook Yesterday, wat in 2005 vir 'n Oscar benoem is, se regie behartig).
Maar nadat jy die fliek gekyk het, voel dit so 'n bietjie asof jy na 'n hoogspring-atleet gekyk het wat maar net nie oor daai dwarslat kon kom nie. Jy't "hoër" gehalte verwag.
Op die Karoo-dorpie Loxton kruip 'n kluisenaar weg – die ideale plek, want die landskap is oop en wyd en jou bure is 'n ent weg. Toe die 6-jarige Mia Malan (Janke Bruwer) saam met haar onderwyser-ma, Mara (Elizma Theron), op die dorp kom bly, weier sy om te aanvaar dat dié man met die stoppelbaard hom so van die samelewing kan onttrek. Dag ná dag gaan klop sy aan sy deur met raad oor hoe om sy "hart sag te maak sodat die musiek kan uitkom".
Intussen veg Mara haar eie stryd. Sy't skaars by die laerskool ingestap toe die hoof haar inlig die skool het ernstige geldelike probleme en gaan sy deure sluit (jy sou dink die skool sou haar sê voordat sy sak en pak soontoe trek). Maar 'n paar dae later kom daar hoop: As die skool binne drie weke R500 000 kan insamel, kan sy deure oopbly. Mara neem die reuse-taak op haar skouers om die geld in te samel. Sy kom met 'n blink plan vorendag om die boere van die distrik te vra om elk 'n hele paar skape te skenk vir die goeie doel. Maar sy't nie in berekening gebring dat skape nie teen R1 000 stuk verkoop nie en dat elke boer nie sommer net 30 plus skape kan skenk nie.
Die volgende plan? 'n Konsert met van ons grootste sangers onder die Karoo-sterre op 'n plaas buite Loxton met die naam Jakhalsdans. Ook dit is nie so maklik nie, maar 'n vrou wat konsertbesprekings doen (gespeel deur Eloïse Cupido), vertel vir Mara die land se kunstenaars sal Loxton toe stroom om saam met die musiekster Ruan Landman (Theuns Jordaan) op te tree. Hy's ontnugter deur die musiekbedryf en kruip al twee jaar vir die publiek weg. As sy hom sover kan kry om weer sy kitaar voor 'n gehoor op te tel, is haar konsert so te sê gereël. Ruan voer 'n kluisenaarsbestaan juis daar op Loxton ...
Jakhalsdans het sy goeie oomblikke. Toe die skoolhoof 'n venynige bakleiery tussen Mara en Ruan in die middel van die dorp tussen 'n paar inwoners opbreek, sê hy op Loxton baklei hulle só dat hulle mekaar die volgende dag weer in die oë kan kyk. Neil Sandilands as die dorp se handy man, Dawid le Fleur, wat homself eerder as "troebadoer, liedjieboer en poëet" beskou, is 'n treat.
Ander oomblikke is weer te dik vir 'n daalder, veral wanneer Eloïse se karakter vir Mara sê as sy Ruan weer sover kan kry om op te tree doen sy dit nie net vir Loxton nie, maar ook vir Afrikaanse musiek. Die kamerawerk is ook plek-plek slordig, wat die fliek amateuragtig laat lyk.
Nietemin sal Jakhalsdans seker gehore lok, oor Theuns se gewildheid en omdat die storie handel oor 'n massiewe geldkoei: die Afrikaanse musiekbedryf.
* Jakhalsdans begin Vrydag in teaters draai.
Verwante artikels
-
Afrikaanse flieks blom
Daar was jare laas ’n Afrikaanse fliek met ’n mooi, romantiese storie, en die laaste musiekfliek is 30 jaar gelede uitgereik. Maar skielik praat die silwerdoek weer Afrikaans!
-
Deon Meyer se 13 uur saam met Stieg Larsson se 3de boek vir gesogte internasionale prys benoem
SARIE - Junie 2010
Deon Meyer se 13 Uur (vertaal in Engels as Thirteen Hours) is die eerste roman uit Afrikaans vertaal wat vir 'n toonaangewende CWA International Dagger-prys benoem is.
-
Elizma Theron oor haar en Theuns se nuwe fliek
SARIE - Oktober 2009 | Kommentaar: 4
Die sangeres Elizma Theron hou haar lyf deesdae aktrise. Ons gesels met haar
-
Elizma Theron se gunsteling fliek
SARIE - Oktober 2009
Elizma Theron, sangeres en aktrise in Villa Rosa gesels oor haar mees inspirerende fliek.
-
Kyk die voorprent van Jakhalsdans - nuwe Afrikaanse fliek met Theuns Jordaan en Elizma Theron
SARIE Maart 2010 | Kommentaar: 3
'n Splinternuwe Afrikaanse fliek Jakhalsdans begin op 23 April 2010 op die grootskerm wys. Dis gegrond op 'n liefdesverhaal deur die skrywer Deon Meyer, die regisseur is Darrell Roodt.
-
SARIE by Sex and The City 2-premiere
SARIE - Mei 2010
SARIE-joernalis, Charis Labuschagne, het die premiere van Sex and The City 2 bygewoon. Wat dink sy van die fliek - en oor daai kort rokkies...?
-
Theuns Jordaan se diefstalvoorval - die ware feite
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 2
Volgens 'n persvrystelling wat vanoggend uitgereik is, was daar verskeie feitefoute in die artikel oor Theuns Jordaan en die voorval in Mei 2010 in Nelspruit toe sy motor gesteel is.
















Kommentaar