SARIE celeb-ski-reis: Elvis Blue neem jou teen die ski-hellings af!
Kyk die ongelooflike video van Elvis Blue terwyl hy ski! En SARIE se Marguerite vertel jou meer oor dít wat dag 2 in St. Johann in die Oostenrykse Tirool afgespeel het . . .
Die passing van ski-stewels is nodal 'n gedoente. Lou-Ann Stone, SARIE se multimedia-vervaardiger wat sorg vir video-materiaal vir sarie.com, reken mens moet net sorg dat dit nie soos 'n slagyster voel nie.
Al wat ek kan noem, is 'as die nommers eers aan jou voete is, voel jy so half en half asof jy baie stywe paddavoete aan het en probeer loop op eiers op die maan! Kurt en Dunay was terloops langs my toe ek die stewels vasgespe. Dis hul tweede dag in die ski-skool en hulle is al meer tuis en vorder flink. Maar Kurt reken ook mens het stamina nodig vir die stewels . . .
Gelukkig is die rooiwang, blou-oog, 25-jarige Peter Treichl, ons ski-instrukteur, 'n man wat baie geduld het. Hy is super-sjarmant en ski al sedert hy drie jaar oud is. Lou-Ann vertel sy het al ''snowboarding'' probeer. En ek laat val ek het in my prille jeug in Saalbach, Neustifft en Söllden in Oostenryk geski. Maar dis 'many many moons ago.''
Seg Peter: 'Nee wat, dis nes fietsry. Mens se lyf vergeet nie.''
Hmm, daar is egter verskillende soorte fietse soos ons weet. Bergfietse, motorfietse, driewiele (hierdie is byvoorbeeld nie 'n driewiel nie!), fietse in die sirkus waarop jy op twee wiele moet balanseer . . .
Laat ek dadelik erken, my idee van ''avontuursport'' is ''gym'', sauna en as ek nou werklik super-''begeisterd'' is, bikram joga.
Maar daar lê die hange wit en glad, vol poeiersneeu en wag en dit reën hoeka ook nog net om sake so bietjie meer (soos Lou-Ann graag sal sê ''uitdagend'' te maak), en ons stap met dof sware plof deur die sneeu.
Lou-Ann is rats en praat al van ski-toere in die toekoms. Al wat ek kan sê, is ek voel glad nie skuldig dat ek langer as twee jaar gelede in die gim was nie. Ná 'n paar ure in die sneeu (met Peter wat galant nader hol as ek neerslaan!), weet ek nou dat ek binne een oggend die afgelope twee jaar se gim-sessies ingehaal het. Dit voel of ek in 'n sauna was.
Maar kort voor lank het ons die uiters belangrike ''schneepflug'' oftewel 'snow plow'' (die briek-aksie wat mens benodig om te stop in die sneeu) bemeester. Lou-Ann begin lyk soos 'n swaan teen die hange (Ek dink byvoorbeeld nie daar gaan 'n '''dokkie'' van die uwe by die volgende Winter Olimpiese Spele gemaak word nie, maar die oukei. ''Aanhou beweeg en geraas maak'', soos Jan Rabie geskryf het.
Belangrike oorlewingsmeganismes op die ski-hange (en ek probeer nou nie grootpraat nie, ek was nou nie regtig nie op hogere hange nie, ek het nog hieronder tussen die kinders rondbeweeg, maar nietemin), sluit onder meer in: 'n lekker sin vir humor, die bereidheid om te val en weer op te staan (en ook ander se hulp te aanvaar om soms op te staan!), die kuns om jouself glad nie te ernstig op te neem nie, genoeg geduld en bietjie oefening. Eintlik maar nes die hele lewe . . .(En ek dink steeds, soos soveel jaar gelede, dis meer soos een van daai fietse in die sirkus waarop jy op tweewiele moet balanseer, maar dis maar net my opinie!).
Lou-Ann het egter die ''wreder'' hange aangedurf en vanuit 'n hangende sitplek-hyser hoog in die lug die hange en sneeubedekte bome betrag. Sy het wel 'n paar keer geval, maar sê: ''Toe ek die ski-stewels aangetrek het vanoggend, was ek totaal oorywerig, Dis ontsettend moeilik, so jy moet baie konsentreer om bo te bly, maar dis wonderlik vry en ek is mal oor spoed en sweet.''
Daar het jy dit, Lou-Ann dink dis 'n bergfiets.. . .
ELVIS BLUE HET 'N KAMERA OP SY KOP - KOM SKI SAAM!
Verwante artikels
-
Elvis Blue en Chireze se "tweede wittebrood"
SARIE Januarie 2012 | Kommentaar: 2
Dié ski-toer in Oostenryk is 'n droom wat waar geword het vir Elvis Blue en sy vrou, Chireze.
-
Kurt inspireer Nederlandse sanger
SARIE Januarie 2012 | Kommentaar: 4
In 'n ski-dorpie in Oostenryk vind SARIE een van Kurt Darren se grootste aanhangers . . .
-
SARIE ski met Kurt, Elvis Blue, Bobby Skinstad: Dag 1
SARIE Januarie 2012 | Kommentaar: 1
Op die eerste aand van die SARIE/Snocomber celeb-toer met Kurt en Dunay Darren, Bobby Skinstad en Elvis Blue het 90 ''fans'' 'n mini-KKNK in die Alpe beleef. Dit was net bier, grappies en musiek.
-
VIDEO: Ski in Oostenryk saam met Kurt, Elvis en SARIE
SARIE April 2012 | Kommentaar: 1
Sleeritte, schnapps en schnitzels, en selfs 'n tjoppie in die sneeu. Hoe dan anders as 90 Suid-Afrikaners, hul gunsteling-celebs en SARIE die berge aanpak
















Kommentaar
Minette het gesê:
Lyk na viel Spass span Sarie! Wees gerus, die adrenalien van n swart slope maak alle kapteine, rockers, sporthelde en journo's summier gelyk. So spring dadelik op daai motorfiets!
25ste Jan. 2012, 15:29Reinard het gesê:
Was nog nooit in sneeu nie (haat koue) maar dit lyk na baie pret! Kan nie glo julle baljaar in die sneeu terwyl ons, hier in die Kaap in die son bak nie! Miskien moet jy die ander "avontuur-sport", die spa probeer? Wat 'n wonderlike geleentheid vir die gaste om skouers met die celebs te skuur! Geniet elke oomblik en dokter daai blou kolle voor julle terugkom! :-)
24ste Jan. 2012, 16:06