Sokkerkoors in Hong Kong!
Vanaand gaan ek my man se Springboktrui aantrek, ’n bottel rooiwyn uit die Kaap oopmaak en my vlaggie op die TV maak staan. Ek gaan uit volle bors saam met Bafana Bafana Nkosi Sikilel’ iAfrika sing en bid dat sport die reënboognasie weer 'n keer verenig.
My hart is vandag in Suid-Afrika en ek dog ek deel my gevoelens met julle.
Die skool is uit en ek soek geselskap by Radio Sonder Grense ... hier waar ek in my doodstil klaskamer sit, ses ure se sonskyn vooruit en sestienduisend kilometer ver. Die elektries-belaaide opgewondenheid word tasbaar met die Afrika-klanke wat vrolik deur die internet na my gestuur word.
In my verbeelding sien ek hoe Suid-Afrikaners op hierdie oomblik begin wakker word, almal met dieselfde gedagte: “Vandag is die dag”. My verbeelding onderneem ’n wêreldreis deur al die kontinente en eilande op die aardbol, met die besef dat Suid-Afrika een of ander tyd vandag op almal se lippe gaan wees en in almal se gedagtes gaan opkom.
Elke sportkanaal op TV gaan beelde van Suid-Afrika uitsaai en elke koerant in die wêreld gaan die woord Suid-Afrika druk. Alle oë en ore gaan op die Suidpunt van Afrika gerig wees.
Miljoene mikro-bondeltjies energie wat oor die hele wêreld vrygestel word, gaan saamsmelt, groter word en suidwaarts beweeg om positiwiteit oor my land se mense uit te giet. Dis ’n seëning waarvoor hulle al lankal bid.
Alle negatiwiteit gaan geneutraliseer word, die vlae gaan wapper en die reënboognasie gaan juig, want God het vir hulle ’n sokkerbal gestuur net toe hulle gedink het daar’s geen hoop meer nie. Wit en swart en bruin gaan weer hande vat en sport gaan die reënboognasie weer ’n keer verenig.
En diegene met Afrika-bloed in hul are, maar vreemde stof onder hul voete, gaan vandag wens hulle was deel daarvan, gaan vandag wonder hoe dit nou daar voel wanneer die vuvuzelas in die woonbuurte blaas.
Hulle gaan droëbek wonder oor al die spontane grappe en hartlike geskerts met die Franse, Duitsers en Italianers waarop hulle nou uitmis.
Ek stap verby ’n uitstalling van die FIFA Wêreldbeker by ons woonstelblok se ingangsportaal, maar dis nie dieselfde nie. Ek wil die musiek hoor wat in die restaurante en in die stadions speel, ek wil die glimlagte en blikke van hoop op my mense se gesigte sien.
Vanaand gaan ek my man se Springbok-trui aantrek, ’n bottel rooiwyn uit die Kaap oopmaak, en my vlaggie op die TV maak staan. As ek die afskop kyk, gaan ek uit volle bors Nkosi Sikilel’ iAfrika saamsing, ’n trotse traan pik en dan ’n gebed stuur dat hierdie wonderwerk asseblief tog vir baie, baie langer as net een maand sal voortduur.
Geniet die sokker daar in SA en ons hou styf duime vas vir Bafana Bafana!!
Liefde uit Hong Kong
Celia Claase
Verwante artikels
-
'n Uiteet-ervaring saam met Mr Lo
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 6
Ons het skaars die laaste happie gesluk toe Mr Lo sy rugsak gryp en opstaan! Ons moet plek maak vir wagtende kliënte. Die kelner kry nie 'n fooi nie, want dit word net nie in hierdie tradisionele Chinese restaurante gedoen nie. Dis familie-besighede ...
-
Ek wil jive saam met The Black Eyed Peas
SARIE - Junie 2010
Op die vooraand van my tiendae-wegbreek na die stilte, kyk ek en my man na die openingskonsert van die FIFA Wêreldbekertoernooi. Ek luister na die vuvuzelas en kry skielik 'n "feel it"-gevoel. Sit harder, hoor ek myself sê ...
-
Leef in waardering
Celia Claase, haar man en twee dogters woon sedert Oktober 2007 in Hong Kong, waar sy ’n Engelse onderwyseres by ’n Chinese laerskool is. Sy deel ’n rare oomblik van inspirasie uit haar dagboek met ons:
-
My spesiale leerders in Hong Kong
SARIE - Desember 2009 | Kommentaar: 9
Celia Claase is ’n onderwyseres in Hong Kong en hou getrou dagboek van haar rare oomblikke van inspirasie in die vreemde land. Sy deel een daarvan met ons.
-
SA laat my tone krul in die Ooste
SARIE - Januarie 2011 | Kommentaar: 3
Ná 25 jaar ontdek ek en ‘n skoolvriendin mekaar op Facebook. Ons deel die verloop van ons lewens tot dusver in een lang paragraaf. Op 40+ het ons albei ‘n brawe stap uit ons gemaksone geneem en die onbekende met vreesbevange sterre in ons oë aangedurf ...
















Kommentaar
Elize Boshoff het gesê:
Celia Great stuff!! Ek stem saam met Corrie, dalk begin die pad van genesing nou-eers??
17de Jun. 2010, 14:12Kirsty het gesê:
Hi Celia Loved your letter we miss you and I think of you every day when I drop Calib off at "your" school.
17de Jun. 2010, 13:21Michelle het gesê:
Ek het die brief baie geniet, dit is wonderlik om te hoor hoe posetief almal is!
16de Jun. 2010, 17:14Naomi du Plessis het gesê:
Hallo Celia, ek hoop julle het daar ver in die vreemde die openingseremonie geniet! Was ons nie almal TROTS-SUID-ADRIKAANS nie!!Wat 'n wonderlike brief, wat my net weer laat besef het hoe dankbaar ek moet wees om nog steeds hier in Suid-Afrika te kan bly!! Hoop dat een van die Suid-Afrikaanse publikasies vir jou 'n gaatjie gaan gee om so nou en dan te rapporteer uit 'n land en 'n kultuur by wie ons nog so baie kan leer!! Ek het jou brief baie geniet!!! Doet so voort!!
16de Jun. 2010, 11:44Corrie Schoombie het gesê:
Mooi man! Pragtige artikel. Hul moet net die misdaad en korrupsie uitsort. Dis wat die wereld nie van weet op die oomblik nie.
15de Jun. 2010, 12:07Daleen Terblanche het gesê:
Duisende dankies.......Wil almal maar nie in vrede saamleef en dit wat nou hoogty vier 'n blywende werklikheid wees nie.......die opwinding maak mens se hart bly! jy kan die "vibe" voel, glimlagte op almal se gesigte, vergete is die haat en nyd vir 'n dag, week, maand of twee.
14de Jun. 2010, 22:36Yolandi Coetzee het gesê:
Die gees met die opening was lekker! Verkeer het tot stilstand gekom en almal het saam gekuier en vir Bafana Bafana ondersteun! Almal ry met vlaggies in hul motors en dra trots hul sokkertruie. Ons almal bid en vertrou dat die verdraagsaamheid en eenheid ook sal hou na die Wereldbeker. Soos hulle se: It is Ayoba Time. Feel it, it is here...
14de Jun. 2010, 20:08Isabelle Naude het gesê:
Celia, dis glad nie moeilik om te sien dat julle voorwaar trotse Suid-Afrikaners van vêr oor die see af is nie. Soms dink ons hier in Suid-Afrika dat julle (almal wat hopenlik tydelik) oorsee woon en werk, ons oftewel Suid-Afrika heeltemal vergeet het. Dis wonderlik om te sien hoe almal oor ons pragtige land voel. Viva Suid-Afrika en Viva Bafana-Bafana!!
14de Jun. 2010, 17:50Juliette Lewis het gesê:
So 'n inspirerende storie. Dit is so waar! Wanneer 'n mens laat hul "tuiste" land en jy woon in' n ander jy besef dat sekere dinge, maar die liefde gaan nooit weg. Dit is in ons bloed vir ewig! Kom ons hoop dat ons almal sal voortgaan met die positiwiteit en die samesyn terwyl die wêreld beker nou op is. Die solidariteit is inderdaad bemoedigend en ons kan saam werk as mense en as 'n nasie. Ons kan slaag reënboognasie! Hier in Suid Afrika glo ek dat daar nog baie geleenthede is, omdat Suid-Afrika is "Alive with possibility". Baie Dankie Celia vir so 'n mooi brief van hoop!
14de Jun. 2010, 16:01Juliette Lewis het gesê:
So 'n inspirerende storie. Dit is so waar! Wanneer 'n mens verlaat hul "tuiste" land en jy woon in' n ander, jy besef sekere dinge, maar die liefde gaan nooit weg. Dit is in ons bloed vir ewig! Kom ons hoop dat ons almal sal voortgaan met die positiwiteit en die samesyn terwyl die wêreld beker nou op is. Die solidariteit is inderdaad bemoedigend en ons kan saam werk mense en 'n nasie. Ons kan slaag reënboognasie! Hier by ons slaag met baie geleenthede, omdat Suid-Afrika is "Alive with Possibility"... Dankie Celia vir so 'n mooi brief van hoop!
14de Jun. 2010, 15:55Rosa Boshoff het gesê:
Celia dis baie goed uitgedruk, want jy weet as jy hier bly waardeer jy nie altyd sulke dinge meer nie, maar ek moet se soos jy dit nou beskryf het het dit vir my gevoel Suid Afrika Bo. Ek het baie dae al gewens ek kon hierdie land verlaat maar met die sokker is dit vir my net soos jy se alle vel kleure staan saam dit was wonderlik om te sien hoe almal vir mekaar glimlag en gesels. Jy kon dit nie beter gestel het nie. Bid en wens dit kan altyd so bly.
13de Jun. 2010, 20:41Marianna van Niekerk het gesê:
Celia, baie dankie hiervoor! Sjoe ons almal hier in SA sit met opgehoue asems en hoop ons is "ok" in die oe van die wereld. So bly julle daar in die vreemde verstaan en deel die hoop dat dinge gaan beter word hier. Ons almal stem saam met jou volgende woorde en bid saam dat "Alle negatiwiteit gaan geneutraliseer word, die vlae gaan wapper en die reënboognasie gaan juig, want God het vir hulle ’n sokkerbal gestuur net toe hulle gedink het daar’s geen hoop meer nie. Wit en swart en bruin gaan weer hande vat en sport gaan die reënboognasie weer ’n keer verenig." Ons almal se hoop vir ons mooi land...
13de Jun. 2010, 19:22Melinda van Zyl het gesê:
WEER kry jy dit reg om oor DUISENDE kilometers 'n UITSONDERLIKE bydrae te maak in jou land en sy mense! Jy maak dat my hart vandag oorloop van TROTS, DANKBAARHEID en GEBEDE dat hierdie wonder van samehorigheid wat NOU orals in ons mooi land heers, sal BLY!! UITSTEKEND MY MAAT EN SJOE, HOE VERLANG EK TOG NA JOU OP HIERDIE OOMBLIK!
12de Jun. 2010, 14:09Andrew Potgieter het gesê:
Ek het al baie gehoor van mense se ervarings wat terug gekom het van lang vakansies of 2 jaar en/of langer kontrak-werk iewers buite ons land se grense. Ek onthou spesifiek 'n jong man op 'n vlug van Jhb na Kaapstad wat nie kon wag om sy voete op die Kaap se grond te kon sit en die Suid-Oos deur sy hare te voel nie. Soveel buitelandse toeruste se positiewe ervaring oor hulle kuier in SA. Die meeste wil weer terug kom... Ek self kan my nie indink hoe dit moet wees om sestienduisend kilometers weg van my huis, vriende & land moet wees nie... Dankie vir jou gedagtes. Ek self het 'n knop in die keel en 'n brand gevoel in my oë gekry terwyl ek jou brief gelees het.
12de Jun. 2010, 06:57