Steve Hofmeyr oor die fliek Eat, Pray, Love

SARIE - Oktober 2010

Wat het Steve van Julia Roberts se nuutste fliek gedink...

"'n Mooi chickfliek van die grootste chickboek in die geskiedenis. Ek ken selfs mans wat dit gelees het. Wel, twee mans. EAT PRAY LOVE, beter bekend as die handleiding van regstellende aksie vir ingedoende vrouens - waar mans gewoonlik die oorsaak is van hul beroeringe. Wie anders?

Eintlik word vroue se vatbare ego's daarin verwoord en besweer maar net die verskille tussen ons planeet en julle s'n. As vroue se wêreld uitmekaarval (soos in 'n verhoudings) stop die planeet vir almal. Asof dit net met vrouens kan gebeur. Dames doen dan DIY selfhelpkursusse en skakel freneties tussen Dokter Phil en ou Friends episodes oor. Dit doen hulle onder die dekmantel van 'n Cosmopolitan-omslag, twee komberse, een selfoon en baie rooiwyn. Alles wat mans oor 'n koue bier oplos.

By gesê, my ondervinding van Oosterse oplossings vir Westerse probleme, is dat dit die domein van ryk, gef*kte vrouens met massiewe ego's en sommer baie tyd is. Om óm die wêreld te reis vir verlossing is om aan ander te vertel dat jou probleme groter as hulle s'n is en dat werk altyd kan wag. Wie hoef te werk as hulle oor daai bliksem Bennie kan kom met 'n daiquiri op 'n strand in Bali?

My eie flirtasie met Boeddhisme het my geleer dat daardie zennerige tekorte aan suurstof alleen werk as jy jou op 'n Tibettaanse berg in Sjangrila kan isoleer met windharpe en Lao Tzu. My vraag was altyd: waarvoor tel geestelikheid dan as ek dit nie ook kan inspan vir gewone mense se gewone pyn op enige plek, op enige ouderdom vir enige geslag en enige geaardheid nie? As God, gode of my eie goddelikheid my slegs kan aanraak buite my lewensfeer waar die kar breek, die kinders skree en Jan Taks wag, word spiritualiteit oorbodig. En daardie vervlakking sal tragies wees.

Oukei. Ek is 'n man. Wanneer kan ek ooit vroue voorskryf? Nooit, natuurlik. Maar so 'n fliek is vir my 'n omgedopte realiteit soos Julia Roberts se lippe onderstebo is: die dikker een is bo en ek voel ek kyk die fliek op my kop.

Hierdie fliek wat voorskryf dat oplossings vir middeljarige krisisse in die spasies tussen die kombuis, die ghoeroe en romanse lê, som nie net die vrou se heelal op nie, maar die man se frons elke keer as ons filosofieë soos asteroïede mekaar invlieg.

Dis 'n goeie, mooi fliek wat twee ure te lank is. Julia speel haar weerlose self goed teenoor werklik besonderse spel deur drie manskarakters. Die fliek sal goed wees vir Italiaanse kos, Indiese musiek en wegbreek-weke Bali toe. Maar die evangelie sal slegs inskop as jy tuis jou deur oopskop en bevryding sien as iets hier binne, nie daar bo of doer buite nie."

Lees Steve se volledige blog op Jacaranda 94.2

WAT HET JY VAN DIE FLIEK GEDINK?

Verwante artikels

Kommentaar

  • Baie oulik gestel Ani. Nadat ek die kommentaar van almal gelees het, brand ek steeds om die fliek te sien. Ek is mal oor 'n goed-voel fliek. Dalk is dit ook een? Ek is moeg vir moord en doodslag!

    29ste Okt. 2010, 12:01
  • Elizabeth Gilbert se soeke na liefde definieer haar lewe en in kort is haar boodskap dat die liefde jou red. Sy gaan op hierdie tog om haarself te vind, maar is in Italie nog saam met David en vind 'n paar maande later weer liefde in Bali. Dit laat haar met 'n skamele plus minus 6 maande om "haarself te vind". Ek dink daardie 4 maande in die ashram was hel bloot omdat sy vir die eerste keer in haar lewe vir 'n kort rukkie alleen was. (Hoewel David haar daar ook nog gekontak het.) Ek vermoed dat as Richard van Texas enigsins aantrekliker was sou sy ook 'n verhouding met hom gehad het! Ek kon nie sien (ook nie juis in die boek nie) dat daar werklik verandering en groei in haar karakter was nie. 'n Karakter wat groei kan ook haar eie aandeel sien in mislukkings - sy het immers self al hierdie "onperfekte" mans gekies om haar lewe mee te deel, hoekom dan? Dit lyk of Elizabeth glo dat jy jou geluk kan verbeter deur nuwe keuses en opsies uit te oefen. Dit gee jou maar net 'n nuwe man met dieselfde ou probleme. So ja, ek stem saam dat die fliek dalk vroue wat ongelukkig voel in verhoudings die groen lig gee om die dam onder die eend uit te ruk. Maar ek verstaan ook hoe moeilik dit is om uit 'n verhouding te loop wat nie meer werk nie en waarin jy jouself verloor het. Maar ek wonder, as ons heeltyd ander se behoeftes eerste plaas en probeer om hulle te "red" en in die proses al ons reddingsboeie uitdeel, kan ons nie eintlik iemand blameer as dit voel of ons verdrink nie. As ons onsself meer gun en elke dag die dinge kies wat vir ons belangrik is, sal dit nie nodig wees om stert tussen die bene te vlug uit 'n onvervulde lewe nie. En dan, wanneer jy wel toer, sal jy Indie toe kan gaan en actually die Taj Mahal sien.

    13de Okt. 2010, 17:37
  • Alhoewel ek die boek (amper) aanbid, stem ek saam met Steve. Ek dink baie mense wat die fliek kyk en nie die boek gelees het nie, nie sal verstaan waaroor die groot bohaai gegaan het nie! Lewensveranderende boek, o.k.-erige fliek.

    12de Okt. 2010, 12:11
  • Ek het nog nie die boek gelees nie, maar die film, het nie aan my verwagtinge voldoen nie. Ek kon nie met Julia Robberts se karakter vereenselwig nie, want om eerlik te wees, ek weet sy is gelukkig getroud met 3 kinders en die white picket fence. Dalk moes 'n minder bekende aktrise die rol vertolk het, een waarmee ek myself kon vereenselwig om die fliek meer geloofwaardig te maak. Die lewenslesse wat hier geleer word, is te kort verpak, die woorde en gesigsuitdrukkings te clichè, en daar is baie hoekoms en waaroms in my praktiese, realistiese brein op... soos hoe kon sy bekostig om vir 'n jaar lank vakansie te gaan hou???? Lê die antwoord in die boek???? Ek stem saam met Steve, om op 'n vliegtuig te klim en die vreemde aan te durf in 'n krisis tydperk van 'n mens se lewe sit nie in elke vrou se begroting nie, en Italiaanse Kos, Meditasie en mooi strande gaan my nie heelmaak nie, want dit is nie my realiteit nie. Ek moet elke dag aanpak, met die nagevolge van al my keuses, en om weg te hardloop is nie die antwoord nie, want nagevolge, volg jou na. Die fliek was net te oppervlakkig, en die verhoudings wat "Liz" in haar reis met ander opgebou het, net nie geloofwaardig deur Julia vertolk nie. Javier Bardem het meer emosie by my opgewek as wat Julia gedoen het. Miskien sal die boek meer vir my beteken as wat die fliek het.

    12de Okt. 2010, 11:04
  • Haha Steve, jou slimkind. So jy merk toe werklik 'n lip-"flaw" in die beeldskone Julia op. Wat 'n verligting dat die beeldskone een darem ook 'n ou foutjie het. Vind jou insig in die verlore-gebroke-vrou-situasie nog meer insiggewend. Dalk moet ons ons "big girl panties" aantrek en die situasie eerder takel voor ons op vlug slaan

    12de Okt. 2010, 10:39