Tanya O'Connor blog: "De Compagnie"

Deur Tanya O'Connor, SARIE - November 2010

Ek byt in 'n groen vy in, ek hoor hoe die skilletjie kraak onder my tande. Die soet loop stadig oor my tong.

Die smaaksensasie na 'n teugie van die vyf jaar oue De Compagnie-brandewyn laat my vergeet van alles behalwe wat ek nou geproe het. Ek kry letterlik hoendervleis. "I AM HOOKED!" Ek gaan vir myself 'n bottel van hierdie brons lekkerte koop. Een van die dae is ek 43 jaar oud en ek is lus om myself te bederf. Dit is 'n proe wat jou bybly, wat jou laat wakker lê en wonder of jy nie moet opstaan en jouself bederf met 'n middernagfees nie?
 
Ek en 'n vriendin, Vanessa, het besluit om vandag te gaan brandewyn proe en koop, en nie sommer enige brandewyn nie.  De Compagnie se brandewyn! Brandewyn wat vir vyf jaar en tien jaar lê en sluimer in 'n Franse eikehoutvat. Brandewyn wat jou met nuwe oë  laat kyk na hierdie algemene Suid-Afrikaanse gunsteling. Jy kan BESLIS NIE Coke daarmee saam drink nie. Jy sal gestraf word, nie net sal jou gewete jou pla nie, maar ek glo jy sal dit nie wil doen nadat jy eers hierdie besondere brandewyn geproe het nie.
 
Die pad Wellington toe is olieverfskildery mooi, ons ry deur Stellenbosch en gesels oor dankbaarheid. Vanessa is 'n plat op die aarde vrou, 'n baie mooi vrou. Daar is geen pretensie aan die vrou agter die stuur van die luukse Duitse motor nie. Ons praat oor om elke dag iets te hê om na uit te sien, om elke dag iets daar te sit om na uit te sien.
 
Ek is nie goed met rigting nie en gelukkig is Riana Scheepers se aanwysings maklik om te volg. Ek wil eintlik hê ons moet verdwaal, êrens opeindig in Bainskloof se berge en sowaar toe gebeur dit amper op ons terugtog.
 
Die hekke gaan oop, ons ry tussen wingerde deur, ons ry in 'n ander era in. Ons ry op 'n pad wat behoort aan 'n 300 jaar oue plaas. De Compagnie herinner my aan ou Kaapse verhale, aan dames met parisole, die geklap van perdehoewe op plaveistene en 'n tyd toe daar nog tyd was om hierdie mooi elke dag in te drink.
 
Ek raak selde jaloers, ek gun elkeen sy sonskyn, maar ek IS jaloers op Riana. Wat my troos, is dat sy hierdie prag waardeer en dat dit haar inspireer om haar skryftalent nog verder te laat geld, om mense se lewens te verryk met haar pen.
 
Ons word voorgestel aan die prins van De Compagnie, klein Bordeaux is maar 'n paar weke oud. 'n Sagte perdesoentjie en my hart is syne. Ek wil die heeltyd by hom bly, ek wil hom in my handsak sit en saamvat huis toe. Sy ma sal dit nooit toelaat nie, sy kom aangestap met 'n wortel en elke perd kry 'n happie.
 
Storm, Minki van der Westhuizen Scheepers en Klara Majola Scheepers laat my op die groen gras gaan sit. Dit is 'n plesier om hierdie hondelywe vas te hou, om met hulle te speel en hulle lewenslus te sien soos hulle rondhardloop en die tuinier jaag wat gras sny. Die oomblik is te gou verby en ons is op pad om te gaan brandewyn proe. De Compagnie se proelokaal is koel, hoë houtbalke verseker 'n lafenis teen die versengende hitte buite.
 
En daar staan die mooiste bottel denkbaar. Ek wil net daarna kyk, nie proe nie, net kyk. Ek sien ook die boks daar naby waarop die Gold Medal Michalenagelo 2009 International Wine Awards pryk.  
 
Hierdie is nie sommer so 'n brandwyn nie, dit is 'n kampioen-brandwyn. Ek lees ook verder op die swart boks met sy goue geskrif op, "hand crafted from a single year's vintage". Ek lees ook op die boks hoe die Verenigde Oost-Indische Compagnie die plaas in 1705 aan sy eerste eienaar toegeken het, en sedertdien word daar wyn gemaak op hierdie stukkie paradys. Johan Loubser en Riana Scheepers sit nou die trotse tradisie voort en maak "voortreflike wyn en brandewyn".  "A limited edition of double distilled chenin blanc, harvested from well seasoned 1976 vines and matured for a minimum of ten years in French Oak". Ek kan nie wag om die vog oor my lippe te laat gaan nie.
 
De Compagnie se 10 jaar oue brandewyn met vanielje ondertone laat my oë toegaan van plesier. Daarmee saam bied Riana 'n balletjie sjokolade aan.  
 
Riana vertel ook dat sy die vroue wat die druiwe gepluk het vir die brandewyn se maak by die naam ken, Cherylene, Nicci, Hester I en Hester II, Samantha, Meisie, Tannie Net en  Lynn. Vroue het ook oor die afgelope 305 jaar om presies te wees die plaas bestuur. Dit laat my dink . . . geen wonder die brandewyn is van so 'n hoogstaande gehalte nie.
 
Ek en Vanessa koop elkeen 'n bottel vyf- en 10 jaar oue brandewyn. Dit is nie maklik om tot siens te sê nie. Dit is moeilik om hier weg te ry, moeilik om te ry na die wêreld anderkant die hekke wat oopswaai.
 
Ons vat die pad huis toe, ons gesels so dat ons die afrit terug Stellenbosch toe mis. Ons is altwee in vervoering oor die oggend wat ons bevoorreg was om te beleef.  
 
De Compagnie het my so geïnspireer. Ek het vanoggend begin skilder aan 'n vrou wat haar neergevly het tussen druiweblare, sy is omring met De Compagnie se wit rose, haar oë is toe. 'n Bottel brandewyn in haar een hand en 'n balletjie sjokolade in die ander.  Waaroor sy droom, is vir elkeen wat na haar sal kyk om oor te wonder . . .
 
Dankie, Riana, vir 'n oggend gevul met inspirasie en die voorreg om nou met nuwe oë na brandewyn te kan kyk.

Verwante artikels

Galery

  • Tanya O'Connor
  • De Compagnie se 10 jaar oue brandewyn
  • Rustigheid self
  • Die eeue-oue gebou
  • De Compagnie se wit rose

Kommentaar

  • [url=http://www.001casino.com]casino[/url] unconditioned casino bonus [url=http://www.realcazinoz.com]free casino[/url] games

    21ste Feb. 2012, 11:15
  • Go ahead, make my day. abercrombie jackets

    26ste Des. 2010, 03:10
  • Awesome! So mooi beskrywing van julle dag! Om dit te lees is/was ek saam met julle daar, ek proe die brandewyn saam met die sjokolade balletjie - dankie dat jy dit met ons deel Tanya.

    23ste Nov. 2010, 10:37