Toy Joubert: Kan weer verhoudings met ander mense hê
Foto’s: Phyllis Green Galery
Modewoord of die antwoord? Drie doodgewone vroue vertel hoe ’n lewensafrigter hul lewens verander het.
Toy Joubert, ’n loopbaanafrigter van Pretoria, se rustige lewe as alleenloper is omvergewerp toe haar broer sak en pak by haar ingetrek het. Ná ’n paar maande het sy gevoel of sy engtevrees kry. Die lewensafrigter Kirsten Long het haar gehelp om die situasie te hanteer en haar verhouding met haar broer (en ander mense) te versterk.
DIE DILEMMA
“My broer het by my aangeklop nadat sy onderneming misluk het. Eers het alles goed verloop. Ek het hom gehelp om op sy voete te kom, berading gereël en hom later gehelp met CV’s. Dit was ’n reusekrisis in sy lewe.
“Maar ná ’n paar maande het ek ongemaklik begin voel. Ek was bang hy trek nooit weer uit nie. My kop was deurmekaar: Aan die een kant het ek geweet ek kan nie so aangaan nie. Ek was gewoond aan my ruimte.
“Dit het my lewe beïnvloed, ek het nie vrymoedig gevoel om mense te nooi nie. Maar aan die ander kant het ek selfsugtig gevoel dat ek homwou ‘uitskop’. Ek het dit probeer wegsteek. Dit het my gepla dat ek nie eerlik is teenoor myself of hom nie. Ek moes leiding kry voor dinge begin uitrafel en ek iets verkeerds doen.”
BEMAGTIGEND
“Die sessies met Kirsten was baie bemagtigend. Sy gee nie raad nie, sy help jou omby jou eie oplossing te kom. Sy het my laat besef dat ek nie selfsugtig was nie. Nadat ek hom gehelp het, was dit normaal dat my behoefte aan my eie ruimte sou opduik. Daardie wete was ’n groot las van my skouers af.”
Al my verhoudings het verbeter"
MY EIE ENERGIE
“Ek het baie insig gekry in myself. My huis is in ’n stil, rustige buurt met voëls . . . dit spreek tot my en my behoeftes. En binne-in my leefruimte het ek ’n energie geskep wat vir my werk. My broer het ’n ander energie ingebring – nie omdat iets met hom skort nie, bloot omdat hy iemand anders is. Dit was vir my ’n wowontdekking. Ek het besef waar my frustrasie vandaan kom: Ek kon nie meer by daardie energie uitkom nie.
“Ek en Kirsten het eers rolspel gedoen. Die uiteindelike gesprek met my broer het toe wonderlik verloop. Ek was in staat om my behoeftes eerlik aan om oor te dra, asook die feit dat ons albei sou baat vind daarby as hy ’n ander blyplek soek. Hy het dit verwelkom en het dadelik saamgestem.
“Ons verhouding is vandag uitstekend.”
SKRYF JOU EMOSIES NEER
“Ek gebruik steeds wat ek geleer het – soos om al my emosies neer te skryf. Hoe het ek die afgelope paar uur gevoel? Wat dink ek het die gevoelens veroorsaak? Ek het myself en my behoeftes só goed leer ken. Ek het beslis meer ‘selfbewustheid’ geleer. Selfs negatiewe emosies kan ’n waardevolle hulpmiddel wees.
“As ek byvoorbeeld ’n bietjie bedruk voel, moet ek ondersoek wat ek gedink het (bv. ’n verkeerde persepsie) vóór ek bedruk begin voel het. Só leer jy.”
WAT EK NOU WEET
Ek is nie meer bang vir konflik nie. Selfs konflik in ’n verhouding kan jou laat groei en die verhouding verbeter as jy kans sien om konflik te hanteer. Dis ’n kans om mekaar beter te verstaan en dankbaar te wees vir wat hy/sy na die erhouding bring. My verhoudings het soveel verbeter. Ek geniet dit!
Wees bewus van jou innerlike hulpbronne soos moed, kreatiwiteit, logiese denke en intuïsie.
Respekteer jou behoeftes en dra dit eerlik oor. Dis dan makliker om ander se behoeftes te respekteer en te verstaan.
Kweek intimiteit deur ander mense toe te laat om in van jou behoeftes te voorsien. Vra net.
Lewensafrigting is dinamies. Jy stel ’n doelwit en bereik dit. Ek het gevoel ek vorder gou.
VIR HULP Kirsten Long, kirsten@coach4life.co.za, www.lifecoach.co.za, 082 801 7513
Verwante artikels
-
Akteur Stefan Ludik: "Ek wil my laaste dag op aarde saam met my ma deurbring"
SARIE - Junie 2010
Onlangs het Stefan Ludik (28), akteur, sanger en TV- persoonlikheid, sy ma, Susan, in namibië gebel en vir haar gesê as hy sou weet hy het net een dag om te leef is sy die mens met wie hy daardie dag wil deurbring.
-
Nóg wenke van 'n bobaas butler: Skottelgoedwasmasjiene, lakens...
SARIE - Junie 2010
Moets en moenies vir 'n skottelgoedwasser
-
Vroue deur Cartier vereer vir entrepeneurskap
SARIE Augustus 2010
Anne Githuku-Shongwe van Suid-Afrika is aangewys as een van 15 finaliste vir die Cartier Women's Initiative Awards.
















Kommentaar