Zanne Stapelberg deel haar oorsese dagboek - Deel 1
Foto’s: Nick Aldridge Galery
Die SA sopraan Zanne Stapelberg was onlangs oorsee vir sang-meestersklasse in Lugano, Switzerland. Sy deel haar (skreeusnaakse) dagboek met sarie.com. "Ek verlang nou erg huistoe - na my kind, my man, my hond, my ma, my pa en Pien."
28 Julie
Ek het vanoggend 'n regte "Running with Scissors"-daad gepleeg, ten einde 'n wind te kan laat en relax vir vanaand se konsert (ons moes 'n kompetisie sing om gekeur te word!), het ek 'n Xanax gedrink. Nou is ek dalk te ontspanne want ek sing heeltyd onder die noot! Maar ek voel heerlik! Christine sal trots wees op my voorbehoedende ingryping.
Ek verlang nou erg huistoe - na my kind, my man, my hond, my ma, my pa en Pien. Ek is so gewoond elke dag met haar en my ma te praat - daar is nou 'n baie spesifieke klets- en filosofeer leemte.
Oor Alexander, my seuntjie, kan ek nie eens praat nie, wil ween. My hart hou nie op kramp nie en die knop in my keel raak al groter. Wanneer iemand net amore of dolore mooi sing in Italiaans is dit verby met my.
Ek en maestra het gepraat en sy seg ek kan by haar meestersklasse in Milan gaan neem! Sy seg ek het 'n uitsonderlike stem met 'n baie mooi kleur. Dit vertel ek nou net vir my nabye geliefdes.
Wil vir 3 weke gaan en dan kan Jomie en Lex saam! Avontuur! Dan kan ons Parys toe en Switserland en dalk selfs weer Spanje. En Alexander, ek wonder watse indruk dit op hom sal maak? Dalk praat hy Italiaans teen die tyd wat ons terugkom! (Dis meer as wat ek van sy ma kan sê!)
Gunter en Marta kom vandag by my kuier! Ek het vir Gunter seker 3 jaar laas gesien. Dis altyd hartseer as geesgenote so ver van mekaar woon, maar ook wonderlik dat mens a.g.v. die besonderse band dadelik kan optel asof daar geen tyd of afstand was wat jou van die persoon geskei het nie.
O ja, die Chinese meisie skeer nie haar onderarmhare nie!
Ek ek dink heeltyd - wie droog af agter my seuntjie se ore? Dis die tipe ding wat tog net 'n ma elke dag aan dink. En 'n ouma. Ek moet chill.
Die maestra is so "kind" en het soveel "humility" (ek sukkel nog altyd met die gepaste Afrikaans vir hierdie pragtige woorde). Sy dien, soos mevrou Oosthuizen, regtig die musiek en is ook, soos mevrou, 'n ware mentor.
Ek dink die meestersklasse in Milan is baie sinvol. En frieken opwindend... let us not kid ourselves dudes.
23 Julie
Die Japsnesie, Lisa, die een met die vratte, lyk nes n bewertjie wat hap-hap wanneer sy sing. Of soos die foto op die plakkaat van 'n Japanese horror movie. Lanklaas iemand gesien wat so struwel met die sangproses.
22 Julie
O ja, die vuvuzelas het oral geblaas, op elke lughawe en treinstasie van Kaapstad, Johannesburg, Geneva en selfs as encore tydens die tromboonkonsert op ons eerste aand hier! Viva Suid-Afrika, het ek nou skielik weer 'n diep emosionele band met die blerrie blaasstok wat my vroeër as só onkreatief geslaat het.
Ons begeleier, Marco, lyk vandag treffend in 'n neon-oranje T-hemp, 'n khaki-safaribroek met 'n rek in, wit sokkies en swart oupa-tekkies om die ensemble af te rond. Sy hare lyk soos dié van Johny Bravo, behalwe dat hy besig is om bles te raak.
Vandag se les was soos tandetrek. Ek hoes sonder ophou. Dankie Murphy, blyk ek is allergies vir een van die tientalle blomme wat ek in soveel verukking afneem. En as dit eers begin het hou dit mos nie op nie. Dis nou die hoes en al die ander onsmaaklike insidente wat onvermydelik opstapel op 'n gemorsdag. Ayko sê vir my, "Can I ask you something?"
"Yes," seg ek, maar weet klaar hier kom 'n gemors.
"But it is impolite," seg sy.
Ja-nee, da' ga't jy. Ek het geweet, desnieteenstaande, seg ek: "No, no, go ahead."
En toe, "Does one get fat after baby?"
Ek seg, "Yes."
Sy sê, "Oh, so before you were thin?"
En daar het jy dit. Perfekte einde vir 'n gemorsdag.
Ag wel, die direkteur van die fees het darem gister vir my gese, "you are always like sunshine." Bigtime.
O, die geskrif raak nou soos een van daai feelings diaries wat gay mans en desperate huisvrouens altyd in skryf.
O, die Japanees is besig om in Engels te sing! Ek dog dis Italiaans!
Ek dink die probleem met my is soos Jurie altyd sê oor verhoudings: "Mens moet insit soos jy kan volhou." Ek doen nie. Ek is 'n meester met eerste indrukke, maar volhou is nie my forte nie. My twyfel in my tegniese vermoëns het nou ingeskop en om uit dié gat te kom is nie vir my histories maklik nie.
Nou wat nou?
Die tale. Japanees nr. 1 se tweede taal is Italiaans en nr. 2 s'n is Engels. Wanneer nr. 2 les het en die maestra wil raad gee praat sy Italiaans met nr. 1 wat dan vir nr. 2 in Japanees vertaal. Nr 2 antwoord dan in Japanees, waarna nr 1 dit weer vir die maestra vertaal.
Needless to say, a timeous process. Oe, hier ga't hulle alweer!
Miskien stel ek nie waarlik belang in die beoefen van elegante, goeie, gefokusde sang nie?
19 Julie
Julle, die Japanese meisies buig élke keer vir die maestra wanneer sy vir hulle 'n stukkie raad gee. Maestra Canetti het vandag n treffende neon nommer aan met malvas, visse en varings. Dit laat my dink aan die swembroeke wat mens by die Beacon Island tyddeel hotel in Plet kon koop toe ek 'n kind was.
Sulke nouveau riche nommers... nou nie dat ek seg Giovanna is nouveau riche nie. Oe, die Chinese meisie wat nou sing, sing my in die hoendervleis in. Gróót stem en ryk. So mooi in die lae en hoë register. Ek is die enigste Suid-Afrikaner hier. Helfte van China en Japan het gekom. Heelwat Amerikaners, Nederlanders, Australianers en ek, mevrou Suid Afrika. O, en 'n klomp Switsers en Italianers. Duh.
Ons mag, in swetsende warm 38 ºC, nie in die oefenkamers met die vensters oop oefen nie (uitroepteken). Daar is 'n hospitaal langsaan.
Mens sou dink die musiek sal die mense vinniger laat gesond raak.
18 Julie
Die klasse is in Italiaans. Almal praat Italiaans. Nog nooit was ek so spyt dat ek nie net vervlaks Italiaans behoorlik geleer het nie. Het gisteraand na 'n verbysterende tromboonkwartet geluister. Italiaanse pellies gemaak - "I'm easy"-Ambra en Laetitia-kieriebeentjies. Gister die dorp verken. O, asembenemend mooi. Soos iets uit 'n erg kunserige kunsfliek.
Die meer wat letterlik flonker. Dis lig tot halftien, ag man, dis soos die Waterfront op acid. Greyton en Kaapstad gekruis. Plein op plein tussen pragtig geplaveide kronkelstraatjies. En oral buite restaurante wat oorloop van mense. Ek is oortuig die liewe Here het 'n vakansiehuis in Lugano. My huismaats is twee Hello Kitty-Japanesies, Ayko en Liza. Te dierbaar.
Ons koshuis is 'n halfuur se loop van die konservatorium af (uitroepteken). Almal is vreeslik beïndruk wanneer hulle hoor ek is van SA.
Oe, hoe lus kry ek nou vir soesji. Anders as toe ek 13 was en ons vir niemand mag gesê het ons is Suid-Afrikaners, met die 1990-Europese kinderkoortoer nie. (En nou hoor ek hulle het die wêreld-koorkompetisie in China gewen (inlas, 16 Augustus). Hierdie sit ek nou en skryf in die meestersklas waarvan ek nie 'n woord verstaan nie. Dammit, Zanne.
Die maestra is besig om wondere te verrig met, wat ek gedink het soos 'n leggero klink, wat gedink het sy is 'n mezzo, en toe blyk dit 'n lyrico te wees na net 'n paar tegniese toetsies.
Ek't so pas my eerste les gehad. O, baie lig gewerp op dinge wat die stem so mooi gaan afrond.
Verwante artikels
-
Aletté-Johanni Winckler se weeklikse blog: "Hou op cheat, en bid baie hard!"
SARIE September 2010 | Kommentaar: 35
Vriendinne, dit voel vir my of die weke net heeltemaal te vinnig verbly vlieg met hopeloos te min resultate. Lian is vandag al 13 weke oud en môre 3 maande, en ek is wrag(gies) nog net waar ek was toe ek uit die hospitaal gekom het...
-
Tanya O'Connor blog: "Van Swart na Grys na Wit"
SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 1
Ek worstel met my boek se voorblad, hoe beskryf jy HALLO LEWE? Jy kan dit voel, jy kan dit sê , jy kan dit elke dag leef maar hoe lê jy dit vas vir mense om te sien ?
-
Zanne Stapelberg: Trauma laat haar stem verdwyn
SARIE Julie 2011
Voor Carmen in Maart 2011 het sy drie jaar laas in ’n opera gesing. Nou, ná donker dieptes, is Zanne Stapelberg se lippe rooier as ooit en die toekoms wink!
















Kommentaar