FOTO: Unsplash

FOTO: Unsplash

Lewe + Liefdes

Ek doen áls tuis. My man niks!

Ek het opgehou werk toe ons kinders gebore is. Noudat my kinders speelskooltjie en grootskool toe gaan (hulle is 4 en 7), doen ek soms vryskut-vertaalwerk, maar my dae is oorvol met die kinders se aktiwiteite. Die kleintjie is al weer twaalfuur tuis, en ek moet ook die huis netjies hou, kosmaak en rekeninge betaal. Ek is bly ek is daar vir my kinders, maar dit maak my ongelukkig as my man saans op die bank neerval en verwag dat ek alles moet doen. Hy werk baie hard en ek verstaan hy is moeg, maar ek het geen tyd vir myself nie. Naweke doen ons wat hy wil. Hy reken ek kan nie kla nie omdat ek heeldag “vry” is. Ek is lus en gaan werk voltyds, want dan kan ek ten minste aandring op my eie tyd en dat ons take verdeel.

FOTO: Unsplash

FOTO: Unsplash

JANINE MYBURGH

Sielkundige van Johannesburg

Vroue is geneig om stil te bly as hulle voel die huishoudelike take word nie regverdig verdeel nie. Maar dit kweek woede, jaloesie en later verwyt – en die oplossing is beslis nie om jou man tot die vyand te verklaar nie.

Jy voel só, want hy kry iets waarna jy verlang: rus, eietyd en ’n kans om af te skakel aan die einde van die dag. Miskien verwag jy hy moet sien dat dit jou pla, maar vir hom lyk dit asof jy alles onder beheer het.

Dis belangrik om met hom te gesels en saam te besluit hoe verantwoordelikhede in jul huis verdeel word. Fokus in dié gesprek op dít wat jy kan en nie kan doen nie, eerder as dít wat jy dink hy nie doen nie. As jy begin met “jy”- en “jou”-beskuldigings, gaan hy homself wil verdedig en hy gaan nie ontvanklik wees om te onderhandel nie. Wys vir jou man ’n tabel van jou weeklikse program en vra vir sy hulp en raad. Só wys jy vir hom hy is nie die probleem nie, maar dat julle saam hierdie “eksterne” probleem moet aanpak.

As hy aanbied om te help, of selfs as jy moet vra dat hy help, gee duidelike riglyne soos: “Ek het jou nodig om elke aand vir 60 tot 90 minute met die kinders te speel terwyl ek kosmaak en oefen”, eerder as: “Jy moet my meer help in die aande as jy tuis kom”.

Dalk kan julle ’n huishulp aanstel, ’n skottelgoedwasser koop, of een keer ’n week wegneem-etes kry. Moet ook nie skuldig voel om vir die kinders takies te gee om te help met die huishouding nie, so leer hulle verantwoordelikheid.

As sy houding nie verander nadat julle ’n volwasse gesprek gehad het nie, gaan hy nie noodwendig begin help as jy voltyds gaan werk nie. As jy dit wil doen, maak seker jy doen dit vir jouself en nie net sodat jy die argument kan wen nie – dit gaan net bydra tot jou ongelukkigheid.

RIËTTE DU PREEZ

Sielkundige van Johannesburg

Jou man voel dalk ook oorweldig deur sy taak om finansieel vir die gesin te voorsien, en dalk sukkel hy om te verstaan dat jy, wat in die res van die gesin se behoeftes voorsien, ’n soortgelyke gevoel van oorweldiging ervaar. Maar soos enige werk is dit besig om jou fisiek en emosioneel uit te put.

Eietyd is belangrik. Jy is ’n ma en vrou, en steeds ’n individu uit eie reg en jy moet jou identiteit behou. As jy jou batterye kan herlaai, sal jy ook beter vir almal kan sorg.

Miskien kla jy oor sy gedrag, maar dit werk nie. Benader die probleem anders. Probeer verstaan hoe hy voel en probeer begrip vir hom ontwikkel. Hy sal dan meer ontvanklik vir jou gevoelens wees.

Doen dit deur erkenning aan sy emosies te gee. Mans sal selde direk sê hoe hulle voel. Eerder as om te vra: “Hoe voel jy?”, sê wat jy sien, soos: “Dit lyk asof jy oorwerk voel”. Jy sal verbaas wees hoe jou belangstelling in sy wêreld hom by joune kan intrek. As jy net kla, slaan sy ore toe vir jou gevoelens.

Verander ook jou tydsberekening. As hy op die bank lê en TV kyk, en jy begin uitwei oor hoe jy voel, klink dit vir hom of jy net kla. Moet dit ook nie doen terwyl julle stry nie, want dan gaan hy voel hy moet homself verdedig. Praat met hom wanneer julle albei rustig is en op mekaar kan fokus.

As jy jou gevoelens dan deel, hou dit by een ding op ’n slag. Vroue is geneig om baie emosionele inligting oor te dra, en mans sukkel dan om sin te maak daarvan.

Jou nuwe benadering gaan nie maklik kom nie, want jy voel dalk reeds te na gekom. Dis ’n kuns om jou emosies oor te dra as jy reeds gefrustreerd is, maar as jy dit empaties doen, kan dit julle nader aan mekaar bring.

Lees ook:

*Dié aritkel kom uit die Mei 2015-uitgawe van SARIE. Dít is ongelukkig nie meer op die rak nie, maar kan steeds digitaal afgelaai word.