the_unlikely_pilgrimage_of_harold_fry
Lewe + Liefdes

En die wenner is. . .

Fanatics-klublede se keuse is The Unlikely Pilgrimage of Harold Fry deur Rachel Joyce. Die beoordelaars se wenboek is Gillian Flynn se Gone Girl. Ek was weer deel van die paneel beoordelaars wat moes help om die wenboek aan te wys en het al die boeke gelees. My persoonlike gunsteling was die boek wat deur die Fanatics-klublede as hul wenner aangewys is. Al ses boeke was leesbaar en ek het nie gesukkel om enigeen klaar te lees nie. Al die boeke het nie noodwendig in my leessmaak geval nie, maar daar sal lesers wees vir elke titel.

The Unlikely Pilgrimage of Harold Fry, Rachel Joyce (Doubleday, R246)
Dit is voorwaar ‘n onwaarskylike kruistog waarop hierdie baie onwaarskynlike held gaan. Op sy oudag kry hy ‘n brief van Queenie Hennessy, ‘n vrou wat jare gelede saam met hom gewerk het. Sy is besig om aan kanker te sterf. Harold besluit om vir haar ‘n brief te skryf en dit te gaan pos. Hy begin stap van posbus na posbus en besluit dan op die ingewing van die oomblik om van sy plek in die suide van die Verenigde Koninkryk te stap na die noorde, daar waar sy haar laaste dae in ‘n hospies verwyl. Nou ja, so begin Harold se staptog. Hy is totaal onvoorbereid, met verkeerde skoene en geen kos of selfs ‘n selfoon nie. Jy spoor hom tree vir tree aan en leer Harold en sy verlede ken soos hy sy reis aflê. Dis ‘n menslike verhaal, vol deernis en patos en ek kon nie help om meegevoer te word daardeur nie. Dié debuutverhaal is beslis een van my gunsteling-boeke van die jaar.

Gone Girl, Gillian Flynn (Weidenfel & Nicolson, R274)
Hierdie is ‘n baie slim raaiselverhaal. Amy en Nick is getroud. Nick is ‘n gewone ou wat in gewone dinge belangstel. Amy is ‘n beheervraat en glo sy is slimmer as die meeste mense, insluitende Nick. Elke jaar stel Amy vir Nick ‘n vraelys met raaisels op wat hy op hul huweliksherdenking moet oplos, om uiteindelik sy geskenk te kan kry. Op die oggend van hul vyfde huweliksherdenking verdwyn Amy soos ‘n groot speld. Nick is verdagte nommer een, want daar is ‘n hele klompie leidrade wat na hom toe lei. Ek wil nie vertel wat verder gebeur nie, want as jy van raaiselverhale hou, is die boek ‘n móét op jou leeslysie. ‘n Verhaal van intrige en jarelange beplanning ontvou, totdat Amy se verdwyning uiteindelik opgelos word. Glo my, aan die einde van hierdie verhaal gaan die betekenis van geduld waarlik vir jou nuwe betekenis kry!

The Light Between the Oceans, M.L. Stedman (Doubleday, R209)
Ek het hierdie boek baie geniet, want dis ‘n eg menslike verhaal oor mense wat deur omstandighede buite hul beheer geraak word. Tom Sherbourne word ‘n vuurtoringwagter op die onherbergsame en afgeleë eiland Janus Rock. Dit pas hom, want ná die euwels wat hy gedurende die Eerste Wêreldoorlog ervaar het, wil hy nie eintlik tussen mense woon en werk nie. Hy en sy bruid, Isabel Graysmark, is heel gelukkig op hul eiland. Isabel se swangerskappe is telkens gedoem, want haar babas bly nie lewe nie. Sy hunker daarna om ‘n ma te wees en wanneer daar ‘n boot op die eiland uitspoel met die lyk van ‘n man en ‘n lewende baba daarin, por sy Tom aan dat hulle die baba moet hou en as hul eie kind grootmaak. Hierdie daad het natuurlik reperkussies, nie net vir Tom en Isabel nie, maar ook vir die kind se oorspronklike gesin. Vir my het die waarde van die verhaal gelê in dit wat jy oor die mens se psige leer, veral wanneer  hulle voor sulke uitdagings te staan kom. Dis een van daardie boeke wat jy lees en wat vir dae daarna nog in jou onderbewuste ronddraai.

A Walk Across the Sun, Corban Addison (Quercus, R199)
Dis ‘n skokkende verhaal wat verlies as hooftema het. Of dit nou verlies van ‘n geliefde is deur egskeiding, of verlies deur die dood van ‘n geliefde, of verlies van menswaardigheid deur ellendige omstandighede, of die verlies van geloofwaardigheid; die draad van verlies loop regdeur hierdie verhaal. Die verhaal begin by Ahalya en Sita Ghai, twee Indiese susters wat hul gesin in ‘n tsoenami verloor en dan ontvoer word deur rampokkers wat in mense handeldryf. Thomas Clarke, ‘n Amerikaanse prokureur, reis na Indië om vir ‘n jaar te werk saam met ‘n groep wat mensehandel ondersoek. Hy probeer ook om sy huwelik met sy Indiese vrou te red. Sy paadjie kruis met dié van die Ahalya en hy begin ‘n soektog na Sita. Die euwels van mensehandel word uitgelig in hierdie boeiende verhaal, wat darem ‘n gelukkig einde het.

The Age of Miracles, Karen Thompson Walker (Simon & Schuster, R194)
Het jy al ooit gewonder wat sal gebeur as die son heeltemal ophou skyn? In hierdie verhaal gebeur dit dat die dae al hoe langer raak, totdat daar geen son meer skyn nie. Julia, ‘n jong meisie vertel die verhaal uit haar oogpunt en sy verduidelik hoe die mense in haar onmiddellike sirkel hierdeur geraak word. Mense raak onvoorspelbaar en tree nie op soos wat daar van hulle verwag word nie. Vriende draai teen mekaar en dit is amper asof baie mense die wil om te lewe sommer net verloor. Dis asof hulle die koers byster raak as daar geen lig is nie. Maar dis nie net die mense wat geraak word nie – ook weerpatrone, diere en plante word geaffekteer. Dis ‘n verhaal wat jou laat wakker skrik uit jou eie gemaksone van ‘n wêreld waarin daar darem nog betreklik goeie orde is. Ten minste skyn die son darem nog!

The Watch, Joydeep Roy-Bhattacharya (Hogarth, R209)
Dis ‘n oorlogverhaal wat uit verskillende rolspelers se oogpunt vertel word. Dit gaan oor ‘n insident in Afganistan, waar ‘n nedersetting in die berg gebombardeer word deur die Amerikaanse magte. Uit weerwraak val die oorlewende mans ‘n Amerikaanse basis aan die voet van die berg aan. Hulle word afgemaai en die lyke word net daar buite die kanp se grens in die woestyn gelaat. Een van die oorledenes se suster kom probeer om haar broer se lyk op te eis sodat sy vir hom ‘n eerbare begrafnis kan gee. Dis ‘n komplekse verhaal waarin mens weer bewus raak daarvan dat daar in oorlog geen wenner is nie – net verloorders. Dit laat jou ook wonder oor hoe soldate normaal met hul lewe kan aangaan ná die aanskou van soveel afgryslikhede.