Lewe + Liefdes

Ervarings uit vriendelike en hulpvaardige Thailand!

Ek is sowat ‘n jaar en ‘n half gelede uit Suid-Afrika weg en het eers in Fidji gaan werk. Die gejaagdheid van Johannesburg was nie meer vir my nie en ek wou iets rustigers met my lewe doen. Ek was sowat agt maande daar op ‘n baie klein eilandjie genaamd Vanuabalavu. Van daar is ek na Australië en toe na Thailand, waar ek tans in ‘n klein gemeenskappie, Kui Buri (spreek uit koei boerie), sowat 300 km suid van Bangkok, woon. 

Ek is ‘n Engels-onderwyser by ‘n laerskool op die dorp, maar is eintlik ‘n boekhouer van beroep. Die studente is sku om Engels te praat, maar ook baie lui om enigsins te wil leer. Hul Engels is baie swak. Daar sit selfs van die onderwysers in van my klasse om hul Engels te verbeter, want hulle ken slegs dit wat in die leerplan is. Almal sukkel om ‘n “R” te sê en gebruik ‘n “L” in die plek daarvan.

Ek geniet my werk, maar wonder soms wat my besiel het, aangesien jy regtig hare op jou tande moet hê om met die kinders te werk. Ek gee vir graad een tot graad sewe klas. Elke klas het sowat 40 studente, wat dit baie moeilik maak om almal se aandag te kry. Dit raas altyd en ek moet met ‘n mikrofoon met die klas kommunikeer.

Daar is 44 letters in hul alfabet en klinkers word bo, onder of langs die kante van medeklinkers geskryf.  Ek het reeds begin met my Thai-taalkursus. Dit gaan maar moeilik, want Afrikaans het baie van die klanke nie. Ek sukkel om die “vreemde” klanke te bemeester. Die onderwyseresse wil tog so graag hê ek moet vir hulle sê hulle is mooi, maar lag vir my uitspraak en sê net elke keer ‘No, no, no!’ Nou gebruik ek maar net ‘beautiful’, aangesien die woord wat ek glo uitspreek die teenoorgestelde beteken.

Wat uitstaan, is hoe vriendelik en hulpvaardig die mense is. Ek is tans die enigste Westerling op die dorp en almal wil bitter graag saam met my gesien word. Ek word na baie partytjies genooi, al staan ek met ‘n mond vol tande omdat niemand met my Engels kan praat nie. Die liefde, respek en beleefdheid wat die mense uitstraal, is ongelooflik. Sedert my aankoms hier, het ek nog net hulp uit alle oorde ontvang, want as jy nie Thai kan praat nie, is dit baie moeilik om in Thailand oor die weg te kom.

Ek geniet die andersheid van die kultuur, al mis ek sekere dinge van my eie land en kultuur baie. Ook moes ek leer om rissies in my kos te eet, want soos ons sout en peper oor ons kos strooi, so strooi hulle lepels vol gedroogde rissie oor hul kos. En baie maal ook sommer suiker. Hier kry jy ook soet gedroogde vark- en hoendervleis, wat my baie herinner aan fyn biltong, net meer donsagtig en wat hulle “Floss” noem.

Groenpapaja-slaai is my gunsteling, hoewel ek ook baie lief is vir hul kokosneutsop. Iets wat my dwars in die krop steek, is die blokkies hoenderbloed wat jy in die sop kry. Maar ek vra deesdae nie wat ek eet nie, want nadat hulle verduidelik het dis eintlik hoenderbloed gemeng met ander produkte om dit daardie fyn en romerige tekstuur te gee, kan ek dit nie meer oor my lippe kry nie.

Ek eet maar meestal op die markplein, aangesien huise hier nie kombuise het nie. Dis alles om klein besighede te ondersteun wat ‘n bestaan maak uit kosverkope. Verder het ek geleer om met ‘n lepel en ‘n vurk te eet en die lepel soos ‘n mes te gebruik om alles te sny.

Iets baie lekker maar ongewoon, is hul soetmielie-roomys, asook hul rooibone-roomys. Dit smaak baie soos gewone vanielje-roomys gemeng met die geroomde soetmielies of bone. Die bone-roomys laat my vreeslik dink aan my oorlede ma se sousboontjies waarvoor ek altyd so lief was.

My hoogtepunt tot dusver in Thailand is die ontmoeting met haar Koninklike Hoogheid Prinses Ubonratana Rajakanya Sirivadkanya Barnavadime. Ek was bevoorreg om ‘n potplant met ‘n orgidee aan haar te oorhandig tydens haar besoek aan ‘n skool in die omgewing. Dis baie spesiaal, want min mense, en veral Westerlinge, kry so ‘n geleentheid. Baie Thais het my kom vra hoe ek dit kon regkry, aangesien hulle al ‘n leeftyd wag vir ‘n geleentheid om haar in lewende lywe te sien. In Thailand is die koningshuis baie geëerd. Die landsburgers is lojaal en baie lief vir die koning en koningin. Elke oggend nadat die studente by my skool die volkslied gesing en gebid het, word die koning se lied gesing. In elke dorp, winkel, of enige openbare plek sien jy ‘n foto van die koning en koningin. Ek wou so graag meer foto’s met die prinses gehad het, maar foto’s van lede van die koningshuis mag net deur die koninklike fotograaf geneem word.

In my vrye tyd ry ek graag rond met my bromponie. My dorp is naby die Sam Roi Yot Nasionale Park en hier naby is ‘n olifant-reservaat met wit olifante. Die Prajanakorn-grot en tempel was voorwaar ‘n belewenis. Glo my, jy moet beslis bene van staal hê om die berg op en af te klim, maar dis alles die moeite werd, aangesien die skoonheid daarvan alle verstand te bowe gaan.

Elke dorp in Thailand het ook die mooiste boeddhiste-tempels wat versier is met goud en kleurryke glas. Ek het al soveel foto’s geneem van die tempels, want elkeen is mooier as die ander. Dalk sal ek eendag ‘n boek publiseer oor al my ervarings en foto’s van hier en elders.

My plan is om volgende jaar dalk meer noord te gaan, aangesien my kontrak met die agentskap verval en ek dit nie wil hernu nie weens verskeie redes.

Vriendelike groete uit Kui Buri

Tjaart Herbst

  • Noeline de Meillon

    Baie dankie aan Sarie vir die interessante artikel. Ek sal baie graag meer van sy ervaringe en omswerwinge te wete wil kom. Dit sal voorwaar lekker wees om ‘n boek te kry van al die interessante plekke wat hy al besoek het aangesien dit vir my lyk of dit ‘n leeftyd se versameling is wat hy het.
    Dit maak die wereld vir ons kleiner sodat ons ook al die dinge kan beleef al is dit net in ‘n boek vorm.

  • Nicolene

    Tjaart, jy neem al ons ou rusbankreisigers saam met jou oor die aarbol. Dankie dat jy jou wedervaringe met ons deel!

  • Helena Herbst Gouws

    WOW…wow,,,ek’s soooo proud. Dis my Neef daardie.

  • Erika Horn

    Altyd mal oor mense wat die moed het om hulle drome te leef. Jou lewe is ryk, Tjaart

  • Dalene

    Skryf meer! Ek dink die Sarie lesers sal graag meer wil weet om self te gaan verken.

  • Jeanette vd Merwe KEMPTON PARK

    Wat n BLESSING, ! Tjaart is n persoonlike vriend en ek is so trots op hom. My gebede en gedagtes reis met hom saam………

  • Tresa Peo

    Tjaart dit is wonderlik om te hoor van al jou ervarings, jy het duidelik baie geduld om met die mense te werk, ek haal my hoed af vir jou. laat ons meer weet.
    Groete

  • francois Williams

    Thailand…mmm…was al baie daar, maar dis nie juis die moeite werd om daar klas te gee nie, omdat die geld min is…dis beter om in Oos Asia te werk vir een jaar., dan kan jy maklik genoeg spaar om 2 jaar te reis deur SO Asia!!
    Suid Afrikaners is ook te styf en senuagtig, en te xtelik, om werklik in Thailand aan te pas…dis jammer …