black_butterflies
Flieks

Fliekresensie: Black Butterflies

Oor Ingrid Jonker, haar werk, haar stormagtige verhoudings en verbysterende selfmoord, is al baie gesê, geskryf en films gemaak. Black Butterflies is wel die een blik op haar lewe wat onthou sal word as regverdig, akkuraat en gevul met deernis.

Hoogtepunte

Die manier waarop Jonker se poësie in die film ingebring word, is uiters slim. Die mees ooglopende is waar Jonker (Carice van Houten) dit in haar gedagtes opsê. Dan is daar tonele wat ruk – wanneer jy haar kamermure “lees” waarop sy as kind geskryf het, waar ‘n kaal Jonker dit op wasige glasvensters skryf, of haar pa, met grasie gespeel deur Rutger Hauer, dit voorlees.

Regisseur Paula van der Oest sluit die belangrikste, welbekende historiese feite van Jonker se lewe in, maar Black Butterflies fokus op die minder bekende besonderhede van haar verhouding met haar pa en dan blykbaar haar groot liefde, Jack Cope. Albei verhoudings was van uiterse belang in Jonker se lewe.                                                                              

Die film is brutaal eerlik oor Ingrid se swakhede, haar sielkundige probleme. Tog hamer dit nie onnodig daarop nie. Jy verlaat die teater met nuutgevonde respek vir ‘n brose siel wat die talle terugslae, party weens haar eie toedoen, net nie kon baasraak nie.

Black Butterflies is visueel so ryk soos Jonker se skryfwerk. Die film speel af in die 60’s en dit vang die kleur en melancholie van “ou familie-foto’s” vas.

 

Laagtepunte

Geen.

Vermaak vs. kuns

Die fliek is ‘n kunswerk op baie vlakke – die kleurbehandeling, die styl van die 60’s wat vasgevang word, die ongelooflike span akteurs, ‘n draaiboek wat roer sonder om stroperig te raak, ‘n ongelooflike storie en ‘n dieper betekenis tot baie van die tonele. Tog is dit nie swaar nie. Dit vermaak.

 

Vir wie beveel ek dit aan?

Alhoewel bewonderaars van Ingrid Jonker dit nie mag misloop nie, sal ek dit aanbeveel vir enigeen wat meer wil weet oor haar, “die Sestigers” en selfs Suid-Afrika. Of iemand wat net ‘n merkwaardige film wil sien.

 

Opsommend

Soos die 2007-biografie oor Edith Piaf, La Vie en Rose, fokus Black Butterflies op die mens, goed en sleg, en nie die legende nie.