Flieks

Fliekresensie: Friends with Benefits – skaflike Vrydagaand-vermaak

Storie

Dylan en Jamie is groot vriende. Hulle besluit om seks by die vriendskap te voeg, maar sonder die komplikasies wat verhoudings bring. Almal weet waarop dit afstuur.

Die laagtepunte

Die storie is heel gewoon en word uiters oppervlakkig hanteer. Daar is geen verrassings of relevante vrae wat gevra word nie.
 
Die hoogtepunt

Die plofbare energie tussen Mila en Justin is tasbaar en dra die film end-uit.

Mila het in Black Swan bewys sy kan jou aandag ten volle hou. Justin Timberlake se eerste geloofwaardige rol was in die onbekende en gemiddelde film Black Snake Moan. (Christina Ricci verbaas ook daarin.)
 
FWB is nie so stroperig soos die gemiddelde romantiese komedie nie. Die draaiboek het inderdaad ʼn ‘onder die belt’-element waarvan dié kyker gehou het, maar dit kan dalk sommige sensitiewe siele aanstoot gee.
 
Die keuse van ondersteunende akteurs dra by tot die integriteit van die film. Patricia Clarkson is een van die mees ongewaardeerde aktrises van die afgelope twintig jaar. As die film Cairo Time ooit by die plaaslike DVD-winkel verskyn, neem dit summier uit. Dit bevat ʼn ouwêreldse romanse wat jou voete onder jou sal uitslaan.

Naas Patricia staan Richard Jenkins. Hy het kommersiële bekendheid verwerf as die pa in die HBO-reeks Six Feet Under. Kyk uit vir The Visitor wanneer jy Cairo Time terugvat DVD-winkel toe.

Wat kan ʼn mens sê van Woody Harrelson? Hy pak elke rol met oorgawe aan – van queer sportskrywer in FWB tot macho zombie-moordenaar in Zombieland. Die man is net nooit vervelig nie.
 
Vermaak vs kuns

FWB is uiters goeie vermaak en ligjare bo die gemiddelde vervelige romantiese komedie waarmee ons bombardeer word. Met ʼn bietjie ekstra moeite – ʼn interessanter storie, ʼn meer geloofwaardige agtergrond, karakters wat effens dieper ondersoek word – sou dit maklik kon kwalifiseer as ʼn kunsfilm.

Vir wie sal ek dit aanbeveel?

Enigiemand wat hou van ligte vermaak, maar nie sensitief is vir seksuele inhoud nie. Mila en Justin bevind hulself in ʼn paar interessante posisies en praat reguit daaroor.
 
Opsommend

Friends with Benefits word bloot gedra deur die sterkte van die akteurs se vertoning. Dit is ʼn groot jammerte dat daar nie meer aan die film is nie.

KYK HIER NA DIE LOKPRENT VAN FRIENDS WITH BENEFITS:

Besoek ook Reney Warrington se webtuiste vir meer resensies.