Semi-soet resensie: Uiteindelik! ʼn Afrikaanse komedie wat werk!
Semi-Soet is werklik snaaks, bevat geen schmaltz nie, net hope plaaslike talent. Veral Nico Panagio beïndruk.
Die storie
Jaci moet die agentskap, waar sy en talle ander mense werk, red van oorname deur Amalgamated Media en hul jaghond, The Jackal. Sy kan dit doen deur die Vrede en Lust-wynlandskap se rekening te wen. Die wynplaas dring egter aan op werknemers wat familiewaardes uitleef. Jaci, verslaaf aan haar werk en ʼn alleenloper, moet vinnig ʼn verloofde aanskaf. Die gevolge is histeries!
Die goeie
Uit die staanspoor uit beïndruk Scramble Productions met die wêreldklas-produksiekwaliteit - van die inleiding animasie tot die stilering en fotografie. Semi-Soet kan kompeteer met internasionale films soos die onlangse Friends with Benefits.
Die Afrikaans is gemaklik en nie pretensieus nie. Die draaiboek is vlymskerp en soms dubbelsinnig. Daar is talle voorbeelde. Ek noem twee.
a) Hertjie word aangevat deur ʼn kliënt wat nou net deur hulle oorgeneem is. ‘Hoe slaap jy in die aand?’ brom die man.
Hertjie glimlag en antwoord, ‘Ek is ʼn prokureur. Eers op die een sy, dan op die ander.’
b) JP meen Jaci si so gaaf dit is eintlik irriterend. So irriterend sy sal muskiete laat selfmoord pleeg.
Dit is ʼn vars invalshoek om die film in en om Johannesburg se nuwe Braamfontein-ontwikkelings te skiet. Die kantore, woonstelle en restaurante is stylvol, kontemporêr en kyk uit oor die ikoniese Johannesburg horison.
Die humor is uit die boonste rakke uit. Ek was alleen in die teater tydens die voorskou, maar het hardop gelag en tydens die babaolie toneel eintlik vooroor gesit en trane afgevee.
Alhoewel die hele span akteurs uitstekend was, het Nico Panagio en Louw Venter kop en skouers bo almal uitgestaan. Hulle ‘comedic timing’ was foutloos en nooit oordramaties nie. Diaan Lawrenson se volle potensiaal is egter nie gebruik nie.
Dié romantiese komedie het boonop hart en siel. Die storie rondom die eienaar van die wynplaas en sy afgestorwe vrou is aangrypend. Die tema van die donker en lig van liefde deel word deur die hele film gevleg.
Die slegte
Daar was twee of drie momente (meestal van gillende meisies) waar die film op die afgrond van ‘lawwe Afrikaanse komedie’ gestaan het. Regisseur Joshua Rous het gelukkig nie hierdie bekende, maklike uitweg gevat nie, maar ʼn slim, deeglike film vol deernis geskep.
Vir wie sal ek dit aanbeveel?
Absoluut almal. Oud en jonk. Man, vrou. Afrikaans of Engels. Dit is ʼn hoë kwaliteit Afrikaanse komedie wat die grootste suurknol sal laat grinnik.
Opsommend
Skoonheid was briljant, maar ʼn film wat, behalwe vir die 18-ouderdomsbeperking, ʼn geskrewe waarskuwing nodig gehad het. Semi-Soet is dus die eerste Afrikaanse film wat ek sonder twyfel kan aanbeveel.
* Besoek ook www.reneywarrington.co.za
Verwante artikels
-
Die eerste Afrikaanse 'chick'-fliek: Hier's die voorprent!
SARIE - April 2011 | Kommentaar: 34
Hier's die eerste voorsmakie van Semi-soet, die eerste romantiese komedie in Afrikaans!
-
Rooitapyt-glans by die première van die fliek Semi-soet
SARIE Februarie 2012 | Kommentaar: 4
In die romantiese komedie Semi-soet speel Anel Alexander die rol van werkolis Jaci van Jaarsveld. Sy probeer alles in haar vermoë doen om te keer dat die advertensiemaatskappy waarvoor sy werk oorgeneem word deur ’n genadelose sakeman, ‘The Jackal’, gespeel deur Nico Panagio. Natuurlik moet hul paaie op ’n manier kruis en dis vanselfsprekend dat daar liefde in die lug gaan wees. En ’n gelukkige einde!
-
Semi-soet-aktrise se splinternuwe haarstyl
SARIE Mei 2012 | Kommentaar: 9
Die aktrise Anel Alexander spog met 'n nuwe natuurlike, bloedrooi bob
















Kommentaar