so_lief_is_ek_n_t_vir_jou
Lewe + Liefdes

Geskenke vir kinders en jong lesers

Ek moes planne maak en mooi dink oor waar ek al my nefies se geskenke gaan wegsteek. Hulle is al so gewoond dat ek in my huis ‘n kas het waarin ek deur die jaar geskenke wegpak. Dis natuurlik handig, want reg deur die jaar is daar ‘n ou ietsie vir daardie iemand vir wie ek onverwags ‘n geskenkie moet gee. Dis gewoonlik die eerste plek waar hulle gaan kyk of daar iets vir hulle ook in is. Ek het nou  net so slinks soos hulle geraak en steek selfs deur die jaar hulle geskenke op ‘n ander plek weg. Die boeke en ander goed wat hulle dan in die kas sien, is beslis nie vir hulle nie. Al dink hulle so! So bly daar darem ‘n verrassing vir die aand voor Kersfees wanneer ons tradisioneel geskenke oopmaak. Natuurlik gaan hulle ‘n paar boeke kry. Hierdie week het ‘n paar jonger lesers (hul ouers het gehelp!) my gehelp om meer te vertel oor boeke wat kinders en jong lesers sal help om die vakansiedae om te kry.

Onthou om ons elektroniese winkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse te bestel.

So lief is ek nét vir jou,  Jutta Langreuter, prentjies deur Stefanie Dahle, vertaal deur Linda Rode (Human & Rousseau, R129,95)
‘n Pragtige storie met ‘n lewensles en kleurvolle volblad prentjies wat die storie illustreer. Huppel Haas is kwaad vir sy ma wat alewig torring oor dinge wat gedoen moet word. Soos enige kind dink hy dis baie lekkerder by sy vriende en hy loop weg om daar te gaan bly. Maar dinge is nie soos by die huis nie – dit is  te deurmekaar, of dit ruik sleg, of dit is te besig. En toe alles net reg is begin die verlange en hy besef dat sy ma die enigste is vir hy so lief is! Die  lekkerlees storie en die prentjies is regtig besonders.    – Cailin Spickett (8 jaar, Gr.2)

The Hoozles

The Hoozles – A penguin problem,  Jessie Little met prentjies deur Penny Dann (Faber Children’s Books, R64)
Die boek kom uit ‘n reeks stories oor dierepoppe, die Hoozles, wat lewe kry vir hulle eienaars.
Die boek het meer storie as prentjies en  gaan oor ‘n dogtertjie, Willow, wat haar tante  in haar speelgoedwinkel help. Saam met haar boetie en die Hoozles, dierepoppe wat kan praat en beweeg, beleef sy ‘n fantasie. Grouchy, die pikkewyn leer dat kinders tog van hom hou en dat hy wel waardeer word en nie saam met die stoute Croc, die oranje krokodil, probleme hoef te skep om aandag te trek nie.

Cailin se ouers sê: “‘n Gemaklik leesbare, tog ingewikkelde storie wat die leer en lees van Engels sal aanmoedig en ook bevorder. Die swart en wit lynsketse laat die karakters vorm kry.”  – Cailin Spickett (8 jaar, Gr.2)

My eerste atlas

My eerste atlas – ‘n wêreldatlas vol asemrowende feite, Wendy Maartens  met illustrasies deur Zunica Joao (LAPA Uitgewers, R150)
‘n Pragboek met uitsonderlike  kleurvolle prente  wat jou die wêreld laat verken. Dis ‘n goeie naslaanwerk wat jou keer op keer nuwe dinge sal laat uitvind. Die atlas behandel eers die sewe vastelande:  waar is al die lande, hoe lyk hul vlae, en gee ook feite (te veel om te noem) oor elke land, soos die koningspikkewyn wat in Antarktika broei,  van die Grand Canyon (‘n wêreldwonder) in die Verenigde State van Amerika tot die panamahoede van Panama. Kenmerkende feite van elke land word in kort verstaanbare ‘stories’ en met mooi prentjies verduidelik, byvoorbeeld, die toekan van Suid-Amerika, die koekoekklok van Switserland, die pandas van China, die Groot Koraalrif wes van Australië.
Suid-Afrika word in meer detail behandel met ‘n uitleg van interessante feite oor elke provinsie, sy mense, diere, plante, plekke en geskiedenis – selfs Crooks’ Corner van ‘Jock of the Bushveld’-faam is opgespoor.  Die laaste hoofstuk leer ons dat “Jy kan die aarde red’ en gee feite en raad oor besoedeling. Ingesluit by die boek is ‘n muurkaart van Suid-Afrika.   – Cailin Spickett (8 jaar, Gr.2)

Emma en die Blêg

Emma en die Blêg, Martie Preller en Tamsin Hinrichsen (LAPA Uitgewers, R80)
Emma sien orals blêgge.  Sy is al moeg getel.  Haar melkskommel word sommer suur as sy na hulle kyk.  Almal is nors en niemand lag meer nie.  Skielik sien Emma ’n REUSAGTIGE voetspoor op die sypaadjie. Dis die Groot Blêg se voetspoor, hy steel in die nag mense se lag.  Emma besef sy sal iets moet doen.  Sy haal Alba, die Albatrospop uit haar rugsak en hou haar styf vas.  Emma se oë rek, want Alba word al hoe groter met regte vere.  “Jy is reg Emma, ons sal iets moet doen. Ons moet die groot spoor volg.”  Alba sprei haar vlerke oop en wys vir Emma dat hulle gaan vlieg. “Hier gaan ons!”, skreeu Alba.
 Meteens duik Alba skerp ondertoe en kom tot stilstand op die ys voor  ’n donker skeur in ’n spierwit ysberg.  Dis die Groot Blêg se huis.  Daar is rakke teen die muur, vol bottels met ’n reënboog daarin.  In elke bottel is ’n dorp of stad se lag.  Dan kry hulle Wildegansfontein se bottel.  Sy  wip soos sy skrik toe sy die bottel vat. . . Emma en Alba het ’n groot en lang avontuur verder.
Dis ’n lang storie maar ek kon nie ophou lees nie, ek moes weet wat gaan gebeur.  Ek is vreeslik lief vir diere en my wens is dat Snuffels,  my sagte hondjie wat saam met my slaap ook lewendig kan word.  Miskien eendag!  Carla Taljaard (8 Jaar, Gr. 3) 

Far Rockaway

Far Rockaway, Charlie Fletcher (Hodder Children’s Books, R105)
Hierdie is die epiese avontuur van ‘n meisie met die naam, Cat Manno. Sy is besig om die plot van  ‘The Three Musketeers’  te google  en gee geen aandag aan die verkeer nie. Sy trap die sypaadjie mis en word deur ‘n brandweerwa raak gery. Sy is in ‘n koma en is vasgevang tussen twee wêrelde. Een is gevul met indiane, seerowers, skurke en genoeg gevaar wat jou verlam van vrees laat oor Cat se lewe. Saam met Chingachgook en  Long John Silver as haar kamerade veg sy teen die seerowers en blaas ‘n skip op in haar poging om Far Rockaway te bereik.
Haar vele eskapades maak dat jy wonder of dit regtig is hoe dit is wanneer jy in ‘n koma is of leef sy bloot net binne ‘n storieboek vol windmakerige avonture. Kom sy weer by die huis uit? Vind sy haar pad terug na die werklikheid? Lees hierdie briljante boek vir die antwoorde – jy sal dit nie kan neersit nie! – Oliver Exter (11 Jaar)

Groot genoeg

Groot genoeg, Hannah Morris (LAPA Uitgewers, R70)
Tshepo wens hy kan die lekkers in die hande kry.  Hy klim op ‘n stoel, rek en strek maar hy is te kort.  Hy besluit om buite te gaan speel.  Hy sien die hoë boom en Tshepo wens hy was ook so groot. 
Tshepo het ‘n plan.  Hy soek beesmis en  plant sy voete stewig daarin.  Beesmis laat mos plante groei.  Hy onthou plante het water nodig om te groei en gooi homself nat met die tuinslang.  Skielik voel Tshepo hoe iets hom byt.  Hy probeer sy bene krap, maar sy arms het in takke verander.  Tshepo groei tot hy ver anderkant hul huis kan sien. 
Daar loop sy ma en hy verlang na haar.  Hy wil tot in haar arms hardloop en vasdruk maar sy voete kan nie roer nie. Toe kom ‘n voël op een van die boom se takke sit. ‘Help my asseblief’, pleit Tshepo.  Die voël sing vir Tshepo en hy word kleiner en kleiner.  Hy waai sy hande in die lug, trap met sy voete.  Hy is nie meer ‘n boom nie.
Hy hardloop huis toe, die voël sing-sing agter hom aan.
Wees volgende keer versigtig waarvoor jy wens!

‘n Boekie vol suiwer kinderlike geloof.  – Carla en Ronel Taljaard

Kootjie Totjie

Kootjie Totjie, C.J. Langenhoven met prentjies deur Marjorie van Heerden (PROTEA Boekhuis, R95)
 Kootjie die vriendelike varkie, Gert die wrede wolf, ‘n slinkse slang, ‘n besorgde ma-duif en selfs ‘n feëtjie word verweef in hiedie storie. Kootjie word ontvoer deur Gert wat hom wil grootmaak as ‘n lekker slagvark, maar ‘n besorgde ma-duif beraam ‘n plan om hom te bevry. Sal dit werk voor Gert met sy slagtersmes opdaag?
‘n Storie met alles wat kinders van hou – gevaar, fantasie en verrassings wat jou enduit wil laat lees. Die storie en karakters word lewendig met die kleurvolle volblad prentjies wat mens dit net meer laat geniet.  

Cailin se ouers sê: “‘n Klassieke Langenhoven kinderverhaal wat as eerste uitgawe reeds in 1931 verskyn het en nog steeds kinders van alle ouderdomme bekoor. “ – Cailin Spickett (8 jaar, Gr.2)

Lila en die geheim van reën

Lila en die geheim van Reën, David Conway & Jude Daly (Tafelberg, R120)
Dis baie warm en Lila, haar ma en boetie skuil in hul huisie, weg van die son wat hulle so brand.  Dis te warm om vuurmaakhout te soek, in die tuin te skoffel en om die koei te melk. Die put wat hulle van water voorsien het opgedroog.  Lila is baie bekommerd want sonder water is daar geen lewe vir mens of dier. 
Een aand vertel Lila se oupa vir haar die storie oor die geheim van reën.  Jy moet die hoogste berg uitklim, die hemel vertel van die hartseerste ding waarvan jy weet.  Die volgende oggend het Lila die hoogste berg gaan soek.  Toe Lila bo-op die berg staan, vertel sy die hemel van al haar hartseerste dinge.  Sy kyk op in die lug om ‘n teken van reën te sien, maar die hemel bly blou en die son skyn steeds.
 Bo-op die berg is alles stil, behalwe Lila wat huil.  Toe begin die wind waai en daar kom wolke in die lug; al donkerder, voller en voller met Lila se hartseer; totdat die lug swart is van trane. Toe flits ‘n weerligstraal deur die hemel, en ‘n donderslag klap oor die berg. 
Lila voel die sagte reëndruppel op haar voet . . .en nog een . . . Totdat die grond nat is van die reën se trane.
 Vinnig hardloop sy teen die berg af, en toe sy by die huis aankom, dans almal om die reën te vier.
Haar ma druk Lila styf vas. Net Lila en haar oupa weet sy het die dorpie gered met die geheim van reën.

Ek gaan vanaand self lank met die hemel gesels.  – Carla Taljaard (8 jaar, Gr. 3)

Kaptein Hamerkophaai

Kaptein Hamerkophaai, Fanie Viljoen (Tafelberg, R115)
Hierdie verhaal het in 2008 as vervolgverhaal in KleinB, Die Burger se weeklikse kinderblad verskyn. Dit was baie gewild en nou kan al die eskapades van Kaptein Hamerkophaai in een boek gelees word. Devon se skooldae is glad nie lekker nie, want hy word geboelie deur Zelda, wat saam met hom in die klas is. Sy dwing hom om vir die kwaaiste juffrou in die skool ‘n dom vraag te vra, iets wat sy natuurlik verpes. Nou ja, nadat Devon sy vraag gevra het, maak Kaptein Hamerkophaai, seerower van formaat, sy verskyning. Julle kan self dink watse chaos dit veroorsaak wanneer Kaptein Hamerkophaai besluit om saam met Devon skool toe te gaan.  Fanie Viljoen is ‘n bekroonde kinderboekskrywer en het ook die illustrasies vir die boek gedoen.

Tot siens, koning Arthur

 Tot Siens, koning Arthur, Annelie Ferreira (Tafelberg, R135)
Guinevere Sylvia van der Merwe word uit die skool geskors in haar voorlaaste skooljaar. Sy weet glad nie waar sy matriek gaan kan voltooi nie. Boonop glo sy haar skorsing het haar ideaal om medies te gaan swot in die wiele gery. Deel van haar straf na haar skorsing is dat sy gemeenskapdiens by ‘n ouetehuis moet doen. Gelukkig vir haar het sy ‘n kêrel wat darem help dat sy nie heeltemal lus voel om in sak en as te gaan sit nie. Haar enkelma sukkel om die pot aan die kook te hou en Sylvia werk as kelnerin om darem ‘n bydrae te maak. Sylvia karring aan met haar gemeenskapsdiens en kelnerin werk. Haar kleinboetie, Fransie wat maar vier jaar oud is, word baie siek en  sy moet skielik tot aksie oorgaan. Die verhaal is boeiend en jy kan nie anders as om betrokke te raak by Sylvia se lewe nie. Jy droom saam met haar en huil saam met haar en raak saam met haar opgewonde oor alles wat met haar gebeur en hoop dat sy haar lewe kan omdraai.
Die boek is bekroon met  die Goue Sanlam-prys vir Jeuglektuur 2011 in die Afrikaanse kategorie.

Hoopvol

Hoopvol, Derick van der Walt (Tafelberg, R135)
Ben de Koker is 16 jaar oud en hy het nooit sy eie pa geken nie. Sy ma en suster is dood toe hul huis in Johannesburg afgebrand het. Daar het niks vir Ben oorgebly wat hom in Johannesburg hou nie en hy besluit om na sy pa te gaan soek. Parallel aan Ben se verhaal is die verhaal van Nathalie, ‘n weeskind wat op die Karoodorpie Hoopvol by die pastoor en sy vrou woon. Ben se soektog maak dat hy hom uiteindelik op Hoopvol bevind en stadigaan ontvou sy pa se verhaal, asook die verhaal van sy ma. Op ‘n baie verrassende wyse word Nathalie en Ben se verhaal een. Derick van der Walt het ‘n manier om jou onmiddellik in die storie in te trek en jy kan nie anders as om tot op die laaste blad te lees nie. Die boek is bekroon met die Silwer Sanlam-prys vir Jeuglektuur 211.

Dreaming of light

Dreaming of light, Jayne Bauling (Tafelberg, R130)
Deesdae hoor mens so dikwels in die nuus van mense wat onwettig in uitgewerkte myne soek na minerale en grondstowwe om te probeer aan die lewe bly. In hierdie verhaal beskryf Jane Bauling die lewe van Regile, ‘n agtienjarige jongman wat aan die hoof van ‘n groep werkers in so uitgewerkte myn in Barberton staan. Die kinders is in meeste gevalle ontvoer en moet vir ‘n wrede baas, Papa Mavuso werk. Dis ‘n harde en ongenaakbare lewe en gevaarlik met bittermin kans vir ontsnap. Regile moet hoor hoe sy groepie droom van ontsnap en van ‘n beter lewe. Dis ‘n eg menslike verhaal wat ‘n blik gee op die desperate bestaan van zama-zamas en hoe bereid hulle is om hul lewens te waag om ‘n lewe te probeer maak.
Die boek is bekroon met die 2011 Sanlam Gold Prize for Youth Literature.

The Magyar conspiracy The Magyar conspiracy, Neil Malherbe (Tafelberg, R130)
Sándor se pa is ‘n Hongaar en sy ma is Suid-Afrikaans. Meeste mense ken hom as Sandy, want sy ander naam is heeltemal te vreemd vir hulle, en boonop het hy nog valerige hare ook! Sy pa sterf in ‘n tragiese ongeluk op Tafelberg kort voordat Sandy se waterpolospan na Hongarye gaan toer. Sandy glo nie dis ‘n ongeluk waarin sy pa ontkom het nie, want hy het twee mans op die paadjie in die berg gesien. Hy begin om in sy pa se verlede te delf opsoek na antwoorde vir die vrae wat hom knel. Maar sal hy kan vrede maak met alles wat hy uitvind en hoe gaan dit sy verhoudings met mense terug in Suid-Afrika beïnvloed?
Die boek is bekroon met die 2011 Sanlam Silver Prize for Youth Literature.
Ek was hier Ek was hier, Nanette van Rooyen (LAPA Uitgewers, R100)
Frankie kom uit ‘n onkonvensionele gesin. Haar pa het sy eie kookskool. En as hy haar wil treiter praat hy soms bietjie Frans. Hy kom immers van Vlaandere en praat steeds Nederlands. Frankie se ma is ook nie gewoon nie. Sy lyk of sy nog in die hippie-era is met haar batik-broeke. Waar pas Frankie in? Sy is mal oor skaatsplank ry en verder hang sy uit by kunsflieks. Tog is daar ‘n ou in haar klas oor wie sy wonder. Milan is stil en geheimsinnig. Die feit dat hy raafswart hare en ‘n bleek vel het dra by tot die misterie rondom hom. Hy neem kitaarlesse, hou van fliek en ook van lekker ou rockmusiek soos Pink Floyd en Led Zeppelin. Nou ja, wie gaan die eerste stap neem – Milan of Frankie?  Ek was hier was die wenner van LAPA Uitgwers se jeugromanwedstryd 2011. Die beoordelaars het van die boek gesê: “Beslis ‘n boek vir slim tieners wat op soek is na ‘n ‘anderse’ leeservaring.”
Permanente ink

Permanente ink, Carina Diedericks-Hugo (LAPA Uitgewers, R90)
In Kaapstad word tieners aangeval en vermoor deur iemand wat die media die Romeo-en-Juliet-moordenaar gedoop het. Die moordenaar fokus op verliefde paartjies. Die tieners word gewoonlik in pare doodgemaak en dan langs mekaar neergelê en dan word hul hande inmekaargevleg. Die seuns is vergiftig en die meisies dood gesteek. ‘n Groepie skoolvriende beland in die moeilikheid by die skool en kry nie detensie nie, maar gemeenskapsdiens. Hulle word niksvermoedend die teiken van die reeksmoordenaar. Wat hulle nie besef nie is dat die reeksmoordenaar ‘n baie nouer band met hulle het as wat hulle dink. Die jeugroman is vol aksie en adrenalien en boei tot aan die einde. Dit was ‘n naaswenner in LAPA Uitgewers se jeugromanwedstryd 2011.

Betower

Betower, Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers, R100)
Nadia moet in Magoebaskloof gaan woon by haar ouma. Haar ma het haar soontoe gestuur om haar matriekjaar daar klaar te gaan maak. Maar Nadia sukkel om in die skool aan te pas en maats te maak. Sy het ‘n geheim wat sy met niemand wil deel nie. In haar klas is ‘n geheimsinnige seun met ‘n baie vreemde naam. Sy naam is Poenk. Nadia dink Poenk woon in die bos en dat hy groen word die oomblik as hy in die bos instap. Poenk het ook ‘n geheim. Gaan hy sy geheim met Nadia deel? Hierdie verhaal was ‘n naasweneer in LAPA Uitgewers se jeugromanwedstryd 2011.

Thomas@rockster.net

Thomas@rock-ster.net, Carina Diedericks-Hugo (LAPA Uitgewers, R80)
Thomas is al ‘n ou bekende by lesers. Daar is al meer as 150 000 eksemplare van die boeke in die gewilde Thomas@ -reeks verkoop. In hierdie boek maak die skrywer van nuwe tegnieke gebruik, sodat die leser ‘n geïntegreerde leeservaring het met ekstras soos: QR-kodes wat jou lei na ‘n foto, klankgreep en video; ‘n Spesiale Mxit-kanaal net vir Thomas en sy vriende: Thomas en Thabo se gunstelingspeletjie, Fangs; Die radikale Rockfees se webblad waar jy jou eie musiek kan meng. Die verhaal draai om Thomas se vriende wat besluit om aan die rockkompetisie wat by Hoërskool Leeukop gehou word, deel te neem sonder hom. Die ergste is dat hulle nie eens vir hom vertel het hulle gaan deelneem nie. Verder het Thomas probleme met sy meisie, Alex. Sy bring heeltemal te veel tyd saam met Hannes deur. Dis nie die einde van Thomas se probleme nie, want die sepiester Fleur Vermaak maak weer haar verskyning in sy lewe. Hoe gaan Thomas al sy probleme oplos? Hierdie is die agste boek in die Thomas@-reeks.

Die speletjie  

Die Speletjie, François Bloemhof (Human & Rousseau, R84,95)
 
‘n Rekenaarspeletjie wat Wouter skelm van Grimbeek se rekenaar afgelaai het maak dat hy ‘n hele paar dinge aan die gang sit waaroor hy nie beheer het nie. Grimbeek van wie se rekenaar hy die speltjie afgelaai het, het ‘n komplot teen Wouter se pa bedink en nou is Wouter die een wat onwetend Grimbeek se planne waarheid kan laat word. Iemand in Wouter se pa se lewe is onverklaarbaar dood, nadat Wouter Grimbeek se rekenaarspeletjie begin speel het. Wie is die volgende slagoffer van die speletjie? Gaan Wouter daarin slaag om die speletjie stop te sit wanneer hy agter kom wat eintlik aan die gang is? Hierdie is die eerste boek van Bloemhof se rillerreeks. Daar is nog 5 ander boeke wat reeds in die reeks van 8 verskyn het. Elke boek is ‘n losstaande verhaal en dit hoef dus nie in volgorde gelees te word nie. Die verhale het almal ‘n vinnige tempo  met ‘n boeiende storie.

Die vrou met die pers oog Die Waterding Ou Langklou Donkerwoud Kamer 13