2_my_eerste_sonsondergang_in_die_fiji_eilande
Lewe + Liefdes

Herinneringe aan Fidji uit die dagboek van SARIE-leser Tjaart Herbst

Sowat twee jaar gelede is ek na Fidji om ‘n fabriek te bestuur waar palmolie gemaak word. Dit was geleë op ‘n eilandjie genaamd Vanuabalavu van sowat 20 km lank en sowat 2 km breed. Dis op vyf na die grootste eiland in die Fidji-groep, wat uit 332 eilande bestaan.

Die aanloopbaan van Vanuabalavulughawe. 

Toeriste benodig ‘n spesiale permit om by Vanuabalavu aan te doen, want daar is geen infrastruktuur om in die behoeftes van toeriste te voorsien nie. Omdat ek daar gewerk het, kon ek vryelik rondbeweeg. Ek was die enigste Westerling op die eiland, en die personeel het gereeld radioboodskappe laat uitsaai om my aan almal bekend te stel en te verwelkom.  So het al die eilandbewoners van my te hore gekom. 

Links is die aanloopbaan van die lughawe op Vanuabalavu.

Daar is sowat 16 villages op die eiland, waarvan Lomaloma die grootste is. Hier is ‘n klein hospitaal, wat genoem sou word na die filmster Mel Gibson (dis dalk intussen gedoen). Hy was ‘n gereelde besoeker, want hy besit die naburige eiland Mago, en hy het ook geldelike hulp aan die hospitaal gegee. Ek het die voorreg gehad om eenkeer in sy private vliegtuig te vlieg en ons moes op sy eiland land voor ons verder kon reis. 

Lomaloma het ook ‘n eenman-polisiekantoortjie. Dis jare reeds nie meer operasioneel nie, want daar’s geen misdaad op die eiland nie. Daar is wel twee kleinerige winkels wat basiese kruideniersware verkoop, ‘n skool, ‘n kerk en ‘n poskantoor. Hier kon jy nie net briewe pos en seëls koop nie, maar ook kaas, melk en vleis! Pos en ander voorraad word een keer per week per vliegtuig op die eiland afgelewer.

Alles word van die hoofeiland ingevlieg en dis duur. Daar is besluit om net basiese benodigdhede aan te hou, en as ek sê basies, dan is dit regtig net die nodigste. Sjokolade is taboe – dis heeltemal te duur en boonop smelt dit in die hitte! Die gemiddelde temperature wissel van 25 grade in die winter tot 35 grade in die somer. Humiditeit het menigmaal die 97%-merk bereik. Só lyk dit in die winkel!

Ek het aan die noordelike bopunt van die eiland gewerk. ‘n Mens kon net per boot daar kom.  Dis baie bebos en ook hoër geleë as die ander gedeeltes van die eiland. Elke Saterdag is ons na ‘n naburige gemeenskap, genaamd Mavana. Die bootrit was 20 tot 40 minute lank, na gelang van die seetoestande en ook wie die stuurman was. 

Ek onthou my eerste vaart in ‘n klein bootjie nog goed. Dit was reeds donker toe ons uit Mavana vertrek het en die see was nogal rof. Die eiland lê ook nog binne ‘n koraalrif. Die bootjie was stampvol en een van die eilandvroue, Ema, moes uitkyk vir naderende golwe in die donkerte van die nag met net die maan as lig. Sy het telkens net geskree: “Avinash” en dan het Avinash (die stuurman) die bootjie sywaarts gedraai sodat die golf ons nie voluit moes tref nie. Almal het bakkies gehad waarmee die water uit die lekkende bootjie geskep moes word; ek het net gesit en bid. Dit was ‘n baie spannende ervaring: ek kan nie goed swem nie, en kon ook niks sien wat om my gebeur nie.

My woonplek. Kyk hoe lekker maer was ek!
 Die enigste pad aan die linkerkant van die eiland.  Die uitkykpunt met die Kanacea-eiland op die horison.
  • Nicolene

    Hemel en hel, alles in een! Wat ‘n wonderlike, onvergeetlike ondervinding!

  • saki marais

    gits tjaart, hoekom verlaat enigiemand so ‘n plek? en so ‘n huis? dit lyk idillies, soos ‘n droomwereld (myne, in elk geval :)

  • Tjaart Herbst

    Wel Saki, die eienaars vir wie ek gewerk het, het nie hul deel van die kontrak nagekom nie en moes ek noodgedwonge bedank. Ek is daar weg sonder ‘n pennie op my naam! So nie so idillies as wat mense dink nie, maar wel sorgeloos

  • Corrie Cohen

    Tjaart ek het saam met jou gewerk in die Pretoria poskantoor in die 80,s Kontak my asb Corrie Cohen 082 801 3596 ek verlang my vrek en soek jou al so lankl al. toe ek jou foto sien toe weet ek dit is jy my ou pel