FOTO: verskaf

Boeke

Herman Lensing oor sy liefde vir kos en sy eerste kookboek

Elke maand is Herman Lensing se kosblaaie prentjiemooi in SARIE. Dis gewoonlik die eerste ding waarna ek kyk, voordat ek deur die res van die tydskrif blaai.

Eerstens omdat dit so mooi is en tweedens omdat Herman se kos my altyd honger maak, en derdens omdat ek van eet hou. Ek was baie opgewonde om te hoor hy gaan ‘n kookboek saamstel. Ek weet nie wie was meer opgewonde oor sy kookboek nie – Herman of ek!

herman voorskoot

Herman Lensing – Voorskoot (FOTO: verskaf)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Uiteindelik is Voorskoot: 30-Minute-spyskaarte vir elke seisoen (Human & Rousseau, R225) hier. Die boek word verdeel volgens die vier seisoene met gepaste spyskaarte vir elke seisoen. Die resepte is tipies van Herman se resepte – sonder fieterjasies en maklik om voor te berei. En dit neem ook nie ure om die geregte te maak nie. Ek kan nie wag om uit my boek te begin kook nie.

Waar kom jou liefde en passie vir kos en kosmaak vandaan?
Ek dink ek is gebore met kosmaak in my bloed. Van ek kan onthou, het ek nog altyd van kos gehou. My ma het gekook vir elke moontlike geleentheid of gebeurtenis. As iemand happy was, het sy gekook. As ons baklei, dan was daar kos. My ma sê tot vandag toe nog: maak nie saak wat gebeur nie, solank ons almal om ‘n tafel kan gaan sit en lekker kos eet, sal alles okei wees op die einde. Ek glo saam met haar: goeie kos, voorberei met liefde, is die een manier hoe ons die wêreld kan verander.

Kan jy onthou wat die heel eerste gereg was wat jy gekook het en wanneer dit was?
Nie eintlik nie, ek kan onthou hoe baie ek in die kombuis gehelp het. Ek kon skaars bo die kombuistoonbank uitsien, maar help wou ek help. Die eerste eetgoed wat ek op my eie gebak het was hawermoutkoekies. Dit was die lekkerste ding wat ek self gedoen het. Die kombuis het wel gelyk asof ons deur ‘n bom aangeval is, maar my ma se gesig het gespreek van liefde toe sy die eerste gebrande koekie in warm tee doop. EK kon sien sy is happy!

Is daar in jou familie nog mense wat kook?
My ma en ouma is die beste kokke wat ek ken. By hulle het ek baie geleer!

Jy was baie jonk toe jy by SARIE aangestel is as kosredakteur. Hoe het jy gegroei in hierdie tyd?
Ek weet nou meer as ooit wie ons mark is. Dis ongelooflik om terug te kyk na my werk van toe ek begin het tot nou. Dis asof my werk ook volwasse geraak het met tyd, soos ek gegroei het. Ek besef ook nou dat mense op soek is na gerief, maar steeds baie lekker kos!

Jy het ook al ‘n hele klompie pryse gewen. Wat beteken dit vir jou as kosredakteur?
Ek werk nie vir pryse nie – ek werk vir my lesers. As ‘n prys verby kom, is dit ‘n bonus. Dit is lekker om erkenning te kry vir dit wat jy doen. Maar die grootste prys is wanneer ek oproepe van my lesers kry om te sê hoe lekker iets smaak en hoeveel vreugde dit aan hulle verskaf het.

Jou eerste kookboek, hoe voel dit?
Onwerklik! Ek blaai elke halfuur daar deur en ruik die bladsye. Papier is ongelooflik lekker om tussen jou vingers te voel. Dis baie lekker om te weet jy gaan iets agterlaat wat mense kan gebruik. Die boek is ‘n kosdroom wat waar word, maar dis nie net my droom nie. Dis baie mense wat saam met my geglo het en my kans gegee het om die droom te kan laat lewe!

Is daar ‘n groot verskil tussen die geregte wat jy ingesluit het in jou kookboek en die resepte wat jy vir SARIE ontwikkel?
Nee, my kosfilosofie is dieselfde in alles wat ek doen: toeganklik en altyd baie lekker. Kos hoef nie ure te vat om lekker te wees nie Jy kan met min bestanddele lekker kos maak en so mense se lewe verander. Die heel belangrikste bestanddeel in my kos is liefde. Jy moet lus wees om te kook en dit met oorgawe doen. Jou gesin gaan dit eet en in hulle liggame sit. As jy dit met liefde doen, soveel beter!

Bak of kook?
Ek hou baie van kook. Dis soos skilder. Jy kan net begin en goed by mekaar gooi – jy hoef nie altyd presies te werk nie. Proe hier, gooi nog by, en so groei jou gereg.

Ek hoor jy het ‘n versameling van props wat jy gebruik vir jou kosfoto’s. Waar kry jy al jou props?
Ek het ‘n liefde vir iets oud. Dit kan stories vertel. Ek het letterlik ‘n kamer buite my huis met rakke van bo tot onder gepak met allerhande kakkeraai. Daar is iets van alles. Ek shop op al wat ‘n vintage mark is en by elke pawnshop. Sit iets oud voor my en ek raak laf!

Wat is jou absolute gunsteling foto en gereg uit jou kookboek?
Dis moeilik, daar is 120 fotos in die boek waarvan ek elkeen self gestyle en die gereg gekook het. Dis moeilik, maar die knoffelbrood oor die kole is een van my gunstelinge asook die vonkelwyntoring by die ‘fees vier’-spyskaart. Daar is te veel om te noem, maar almal is beeldskoon!

As jy net af voel op ‘n dag, wat is die een kosding wat onmiddellik jou gees weer krag gee?
My ma se melkkos. Ek kan bakke vol daarvan opeet. Met lepels kaneelsuiker en baie heuning.

Waarmee bederf jy die geliefdes in jou lewe?
Met kos. Ek kook heeltyd vir almal. Ek het onlangs my huis gerestoureer en my kombuis is letterlik in die middel van my leefarea. Dis amper soos my verhoog en as my vriende kom kuier dan kook ek terwyl hulle kyk! Ek wil hulle lewe verryk met goeie kos.

Is daar ooit dae wat jy voel jy kan kos nie in die oë staar nie?
Nee, ek is velief op kos. Min dinge maak my so liries en opgewonde soos vars groente, mooi vleis en ongelooflike speserye. Al skiet ek heel dag en al kook ek heel dag as ek vanaand by die huis kom, kook ek steeds. Dis vir my ontspanning en ‘n manier om aan nuwe idees vir die volgende shoot en boek te dink.

KOOP Voorskoot op Kalahari.com