beatles
Hieroor praat mense

‘Love, love me do …’ & 10 lekker Beatles-feite

Saterdag is Internasionale Beatles-dag! Die “Fab Four” wat uit John Lennon, Ringo Starr, George Harrison en Paul McCartney bestaan het, het in 1960 afgeskop as The Beatles en in 1970 opgebreek. 

Dit is verbysterend om te dink dat die Beatles net 10 jaar as ’n groep bestaan het, maar tog ken soveel mense nog hul musiek en word dit steeds gespeel!

SARIE se redakteur, Michélle van Breda, deel haar herinneringe oor dié ikoniese groep:

Die Beatles was nie my era nie. Tog was Beatlemania iets waaroor ek met nuuskierigheid en verwondering gelees het – hoe die vier jong manne van Liverpool, Paul, John, George en Ringo, die wêreld oorwin het. Hoe jong vroue by hul konserte flou geval het, van die omstrede goed wat hulle kwytgeraak het, hoe die groep binne net 10 jaar hul ewige merk op die wêreld van musiek en die 60’s gelaat het.

Vir seker was g’n garage-paartie op skool vir ons moontlik sonder die “Fab Four” nie. Dit kón net nie! Ook op universiteit was liedjies soos “Love Me Do”, “A Hard Day’s Night”, “Help!” en “Yellow Submarine” oorbekend en sou almal dansvloer toe storm met daardie eerste bekende note. En vir my, “Michelle”, my “eie” Beatle-liedjie – die liefdesballade wat in 1967 ’n Grammy vir Liedjie van die Jaar gewen het.

Het ek ooit gedink ek sou die Beatles êrens in lewende lywe sien? Nooit! Onmoontlik!

Op ’n reëndag in 1997 bevind ek my in Parys. Stella McCartney, oud-Beatle Paul se dogter, stel haar eerste modereeks bekend in die manjifieke Parys Opera. Die wêreld se media is daar – die Vogues, die Harper’s Bazaars, Vanity Fair, die TV-kanale … en SARIE. Regop sit ons op ons vergulde stoele, wêreldbekende fotograaf Mario Testino sit reg oorkant my, Vogue se Anna Wintour ’n paar stoele verder. Vars langsteel-rose bedek die vloere.

En ons wag. Meteens is daar ’n groot geskarrel en helder ligte. ’n Groep mense beweeg vinnig en reguit in my rigting. Kamera- en TV-manne struikel en strompel om by te hou. Ek kyk op, vas in die gesigte van Paul en Ringo. Hier staan die Beatles rég voor my. Bietjie ouer, ja, maar steeds fab. Ek voel hoe die bloed uit my kop vloei – nou wil ék flou word. Help! wil ek skree uit pure oorweldiging.

Saam met Stella, wat daardie dag as nuweling die modewêreld oorrompel het, was dié drie Beatles weer wêreldnuus. Dit was alles nog daar – die charisma, die speelsheid, die jeugdigheid. Sterre soos die wêreld nie maklik weer sal sien nie.

Oktober 2015 en ek is in Toronto, Kanada. Eers vir werk, toe vir vakansie. My man, Dewald, tel in die plaaslike koerant op “Ringo’s in town!” Ek vat nie nee vir ’n antwoord toe ons hotel laat weet alle kaartjies is lankal uitverkoop nie. Ons stap na Massey Hall; die deur is toe, maar ek stoot hom oop en sien ’n vrou agter die toonbank. Jy’s gelukkig, sê sy, twee kaartjies is so pas gekanselleer. Dis ál, daar’s nie meer plek vir ’n muis nie. Toe Ringo daardie aand op die verhoog ophardloop (ja, op 75!), is dit die ou Ringo, die Beatles se tromspeler wat die tydskrif Rolling Stone lys as een van die wêreld se top-5. ’n Storm bars los met sy eerste klanke en bedaar vir meer as twee uur nie. Ek hóór die Beatles, ervaar unieke Ringo agter sy tromme en sing hard saam met “Yellow Submarine”, “I Wanna Be Your Man” en “With a Little Help from My Friends”.

Ek kan nie glo wat ek hoor nie. Waar ek my bevind nie. Dis ’n bietjie Beatle-manie, ’n stukkie van die ou dae. Sou ek geglo het dit sou my pad kruis? Nooit!

10 feite oor die Beatles

1.  “Hey Jude” was oorspronklik “Hey Jules” en was opgedra aan Lennon se 5-jarige seun, Julian. (Buzzfeed)

2. John Lennon, die laaste wat die kontrak onderteken het vir die amptelike ontbinding van die groep, het dit gedoen toe hy met vakansie in Disney World was.
(Huffington Post)

3. Ringo Starr het die groep eintlik eerste verlaat toe hulle White Album in Augustus 1968 gemaak het. Hy het in September teruggekeer. Sy tromstel was met blomme versier en die woorde “Welcome Back Ringo” het hom begroet. (Ultimate Classic Rock)

4. Die liedjie “Michelle” is geïnspireer deur Paul se manier om meisies by partytjies te kry. Blykbaar het hy en George dikwels “uit” gevoel by die boho-partytjies waarheen hulle as tieners gegaan het, terwyl John wat ouer was met gemak oor kuns kon gesels. Hy het toe swart begin aantrek na die partytjies, in ’n hoek gaan sit met sy kitaar en liedjies in opgemaakte Frans gesing. John Lennon het voorgestel dat hy hierdie manier van meisies ontmoet, in ’n liedjie omskep. (Mentalfloss)

5. Daar word baie gepraat oor of hulle The Beatles of net Beatles is. Glo dit of nie, maar hierdie gesprek hou selfs die Wall Street Journal besig.

6. In September 2016 word die nuutste dokumentêr oor hulle, The Beatles: Eight Days a Week, The Touring Years, bekend gestel. Kyk die lokprent hier:

7. “Fame” is seker een van David Bowie se bekendste treffers, maar het jy geweet hierdie liedjie is deur John Lennon en Paul McCartney geskryf? (Visit Britain Shop)

8. John en Paul het The Rolling Stones se eerste groot treffer, “I Wanna Be Your Man”, geskryf. Dit was blykbaar nadat The Rolling Stones gekla het dat hulle geen trefferliedjies het nie. (NME)

9. Wat dink jy het die Beatles en die Spice Girls gemeen? Hulle hou albei die rekord vir die meeste nr. 1-Kerstreffers: 3! (NME)

10. Die straatnaamborde van Penny Lane en Abbey Road raak gereeld weg as gevolg van die kenmerkende Abbey Road-voorblad waar die Beatles by  ’n sebrastreep oor die pad stap. Penny Lane in Liverpool het so erg deurgeloop, dat tekens later nie meer vervang is nie. (NME)

Lees nou

Meryl Streep leer om vals te sing

Deure van Diana en Coco Chanel se Ritz-hotel weer oop

Nóg ’n bekende deel van die 27-klub

  • LBS

    Dankie, dit was interessant ☺