Jacob (regs) en sy twee jonger broers Dylan (middel) en Gavin. SKERMGREEP WXYZ-TV Detroit | Channel 7

Hieroor praat mense

10-jarige red boetie – danksy The Rock!

Dis nie net Batman, Superman, Wonder Woman – of The Rock – wat superhelde is nie. Ook ’n 10-jarige seuntjie kan een wees. Soos Jacob O’Connor van Roseville, Michigan, wat sy tweejarige boetie, Dylan, uit hul swembad gered het, berig The Washington Post

Net ’n week voor hierdie voorval het Jacob weer na sy gunsteling-fliek, San Andreas, met Dwayne (The Rock) Johnson in die hoofrol gekyk. In die fliek red sy karakter, Ray, sy dogter Blake (Alexandra Daddario) uit die swembad en begin onmiddellik mond-tot-mond-asemhaling toepas. Ná ’n minuut van hel begin sy dogter uiteindelik weer asemhaal.

’n Week later het Jacob sy bababoetie Dylan in hul swembad sien dryf. Dylan het ongesiens die skuifdeur oopgestoot en ’n ent verder in die swembad beland.

“Die fliek het net in my kop gekom. Ek het net aan daardie toneel gedink,” het hy aan The Washington Post gesê.

Hy het dadelik sy boetie uit die swembad getrek, op die kant geplaas en begin mond-tot-mond-asemhaling toepas. Ná ’n eindelose minuut het Dylan die water uitgehoes en na asem gesnak. Eers toe het Jacob gehardloop om sy ouma, Ellen Viau, te gaan haal. Sy het dadelik die nooddienste gebel en Dylan is hospitaal toe gejaag.

’n Maand later en Dylan is perdfris en gesond danksy ouboet Jacob. Hul ma, Christa, wat daai dag huise skoongemaak het, het die storie verlede week met die plaaslike koerant C&G Newspapers gedeel. Dit het talle harte geraak, die media het daaroor berig en The Rock het daarvan te hore gekom.

Hy het onmiddellik daaroor getwiet:

The Rock het Jacob en sy gesin genooi om vir hom op die stel van sy nuwe fliek, The Skyscraper, te kom kuier.

Hier’s ’n video van hoe jy mond-tot-mond-asemhaling toepas: