Foto's deur Donna Lewis

Hieroor praat mense

10 redes waarom heuning jou lewe sal verander

Die mensdom gebruik heuning al vir eeue – dis ’n bestanddeel in kos, drankies, teenmiddels, salf en selfs simbolies in geloof. Die webblad Uncover Discover gee 10 redes waarom heuning ’n “superkos” is.

1. Dis antibakteries en antisepties

Heuning kan wonde en brandplekke help genees, want dit bevat baie antibakteriese en antiseptiese komponente, asook sommige “goeie” bakterieë. Daarom is dit dikwels ’n bestanddeel in salf wat wonde behandel.

2. Dit beveg lugweginfeksie

Mense gee al vir jare die raad dat jy ’n teelepel heuning eet of in tee of suurlemoensap drink om jou seer keel en hoes te behandel. Nuwe navorsing het bevind dat heuning infeksie in jou boonste lugweë behandel omdat dit anti-inflammatories is.

3. Energie, energie, energie

Heuning is ’n goeie plaasvervanger vir koolhidrate. Dit gee jou ekstra energie voordat jy begin oefen, en as jy ’n klein hoeveelheid daarvan by jou drinkwater gooi, sal dit ook jou spiere gesond hou. As jou bloedsuiker ná jou oefensessie effens laag is, sal heuning ook dié probleem oplos.

4. ’n Sterker immuunstelsel

Omdat heuning teenliggaampies soos witbloedselle versterk, kan dit ook infeksie en virusse en bakterieë wat jou liggaam aanval, doodmaak. Sodoende versterk dit jou immuunstelsel.

5. Dit bevog

Heuning het selfs velsorgvoordele! Aangesien dit ryk aan vitamien E sowel as ander vitamienes en minerale is, bevat lipsalf, gesigroom en lyfroom dikwels heuning. Nie net sal dit jou vel bevog en gladder laat vertoon nie, danksy dié produk se anti-inflammatoriese eienskappe help dit ook aknee verlig.

Meer oor heuning in skoonheid

6. Dit hou jou tande sterk

’n Bietjie heuning, opgelos in jou drinkwater of tee, kan die bakterieë in jou mond wat jou tande vrot maak, doodmaak. Dis danksy die antibakteriese agense in heuning.

Resep: mosbolletjies met heuningsous

7. Ryk in antioksidante

Heuning is ryk in antioksidante, wat beteken dat dit voordelig is vir jou bloedvate en jou hart. Volgens nuwe navorsing kan dit selfs die effek van dikdermontsteking verminder.

8. Sê tot siens vir spysverteringsprobleme

Gastro-intestinale en spysverteringsprobleme kan verlig word deur die gebruik van heuning danksy kalium, sure en fruktose.

9. Meer slaap, minder spanning

Heuning in jou tee of in warm melk het ’n kalmerende effek op jou. Daarom laat dit jou nie net lekker slaap nie, maar dit help ook om jou spanning te verminder.

Slaap só beter

10. Dit kan jou hoofpyn verlig

Hoofpyn het verskillende oorsake. As jou kop egter seer word as gevolg van ’n magnesiumtekort, te min voedingswaarde in jou koolhidrate of te min proteïene in jou dieet, sal heuning kan help om jou pyn te verlig.

*Al die gebruike van heuning is nog nie deur wetenskaplike navorsing bewys nie.

BRON: Uncover Discover