spaar

FOTO Unsplash / Flaunter .com

Hieroor praat mense

11 maklike geldspaar-wenke

Die meeste van ons het onsself plegtig belowe om vanjaar meer geld te spaar. Maar ai, Januarie is reeds verby, Februarie vlieg om en jy het nog nie ’n sent weggesit nie. Dis nóú die tyd om na jou uitgawes te kyk, anders is die kans goed dat jy nooit daarby gaan uitkom nie.

Die geld-app 22seven gee slim en nuttige wenke oor hoe jy meer kan spaar. En raai-raai, jy hoef nie vir jouself te preek as jy by die kasregister kom nie.

Probeer gerus die wenke!

1. Kom sonder jou kar klaar

Met opsies soos treine, saamryklubs, busse en fietse is ’n motor beslis nie meer die enigste vervoermiddel tot jou beskikking nie. Probeer hierdie alternatiewe vir een maand en jy sal sien hoeveel jy spaar. Onthou, dis nie net petrol wat jou geld kos nie, maar ook dinge soos motorversekering en gereelde dienste.

Ons het ook al geskryf oor apps wat die admin van saamrygeleenthede makliker maak. Of dit nou ’n kollega of een van jou bure is, as julle in dieselfde rigting ry, ry saam in een voertuig.

2. Goedkoper karversekering

Maak seker jou motorversekering pas jou sak en voldoen in jou behoeftes. Kry kwotasies en vergelyk al die moontlike opsies.

3. Kyk na jou uitgawes

Spandeer jy genoeg tyd in die gimnasium om die maandelikse uitgawe te regverdig? Hoeveel data gebruik jy maandeliks met jou onbeperkte toegang tot Wi-Fi? Miskien kan jy liewer by ’n onafhanklike oefengroep aansluit. Of jy kan ’n WiFi-verbinding met iemand in jou woonstelblok deel.

4. Selfoon: kontrak of voorafbetaal?

Gaan vergelyk die twee opsies noukeurig. Indien jy op kontrak is, kyk hoeveel data jy maandeliks ekstra moet koop en hoeveel van die voordele jy werklik gebruik. Sal dit nie vir jou goedkoper uitwerk om oor te skakel na die voorafbetaalde opsie nie?

5. Maak jou eie koffie en etes by die werk

’n Gekoopte koffie hier en toebroodjie daar kan jou salaris baie vinnig opvreet. Jy sal sien hoe jy die sente kan omdraai as jy jou eie koffie en middagete werk toe neem. Hier is ’n paar idees vir jou 2017-kosblik vir werk.

6. Verkoop of gee weg 

Sorteer jou huis kamer vir kamer uit en verkoop alles wat jy nie meer nodig het nie. Kyk na webtuistes soos Gumtree en Letgo of adverteer sommer in jou woonstelblok, die naaste winkelsentrum, of onder jou vriende.

7. Soek gratis aktiwiteite

Dit maak nie saak waar jy woon nie, daar is altyd iets gratis om te doen – al is dit net ’n oggendstappie of om met die honde by die plaaslike hondeherberg te gaan speel.

8. Beursie toe op Sondae

Dis ’n lekker een! Probeer om in die reël op Sondae geen geld uit te gee nie, sê 22seven. Gebruik volgende Sondag om te kook, te lees, te oefen en te gesels. Vergelyk dit dan met hoeveel jy die vorige Sondag spandeer het.

9. Uitgaan

Neem die bedrag wat jy wil spandeer, in kontant saam met jou. Los jou bankkaarte by die huis.

10. Sit al jou kleingeld weg

Ons het al geskryf oor kreatiewe maniere om te spaar soos ’n millenniër.

Refinery29 vertel van ’n 28-jarige wat ná elke dag al die kleingeld wat sy in haar beursie het, wegsit. Haar plan werk so: Sodra sy smiddae by die huis kom, maak sy haar beursie oop en sit al die kleingeld in haar beursie in ’n blikkie of ’n sakkie in haar motor se paneelkissie. Sodra sy by $100 kom, ry sy bank toe en deponeer dit.

Doen dit self: Jy kan dieselfde doen deur bloot die ou spaarbussie in jou slaapkamer in te span. Die geheim is net dat dit ’n gewoonte moet word.

11. Betaal jouself eerste

Sit die geld wat jy spaar of belê eerste weg elke maand. Gebruik hierdie spaarplan om R13 780 aan die einde van die jaar te hê!

BRON: 22seven

Lees nou

Selfoon-skoonmaaktyd! Vee hierdie apps uit

Kook slim en spaar tyd – nr. 6 gaan jou lewe verander!

5 truuks om petrol te spaar!