apps

FOTO Unsplash / rawpixel.com

Hieroor praat mense

Deel van ’n WhatsApp-groep? Pasop!

Dat jy moet oppas vir wat jy op sosiale media kwytraak, is vir niemand nuus nie. Maar het jy geweet WhatsApp-groepe kan net so gevaarlik wees? Veral vir die persoon wat die groep begin het.

As jy al ooit deel van ’n WhatsApp-groep was, weet jy hoe vinnig boodskappe heen en weer kan vlieg as almal eers hul mening oor ’n onderwerp wil lug. Dalk deel hulle ook prente, foto’s of video’s, maar jy kyk skaars daarna. Jy wis nie die groep uit nie, hoewel die boodskappe nie vir jou snaaks is nie, jy nie hul menings deel nie, en die groep dalk nie eens meer sy doel dien nie. Geen haan sal dalk ooit daarna kraai nie, tot dié boodskappe verder versprei …

Bertie Grobbelaar, direkteur by Van Velden-Duffey Prokureurs, waarsku mense moet versigtig wees met WhatsApp-groepe, veral as jy die stigter (sogenaamde admin) is.

In 2016 is die eienaar van ’n Facebook-blad deur die Noord-Gautengse Hooggeregshof skuldig bevind aan naamskending nadat ’n lasterlike inskrywing op die blad verskyn het. Die hof het bevind selfs al het jy die inskrywing nie self gemaak nie, is jy skuldig aan naamskending indien jy dit nie onmiddellik verwyder nie. Deur die inskrywing daar te laat vereenselwig jy jou met die boodskap.

Hierdie regsbeginsel kan ook op WhatsApp-boodskappe van toepassing wees.

“Die skep van groepe op WhatsApp beteken dit word ’n openbare platform. Boodskappe tussen lede van sulke groepe is lankal nie meer private gesprekke nie. Buiten dat die plasing van ’n boodskap reeds binne die groepverband aan die elemente van laster kan voldoen, kan die boodskap ook soos ’n veldbrand versprei met die potensiaal om geweldige skade te veroorsaak,” het Grobbelaar aan SARIE.com gesê.

Die uiteindelike verantwoordelikheid vir wat in die groep gedeel word, rus op die administrateur van die groep en so ’n persoon kan persoonlik aanspreeklik gehou word vir skade.

Wat kan jy, as admin, doen?

• Administrateurs van groepe moet deeglik besin oor wie in die groep toegelaat word.
• Die groep moet ingelig wees oor die beleid vir wat aanvaarbaar is en wat nie. Deel hierdie reëls gereeld – veral as daar ’n nuweling in die groep is.
• Verbied kommentaar wat diskrimineer (ten opsigte van ras, etnisiteit, geslag, seksuele oriëntasie, geloof, ens.) en tree onmiddellik op indien die reëls oortree word.
• Vra jouself af: As die inhoud (foto’s, kommentaar, video’s, ens.) buite die groep gedeel word, sal iemand in moeilikheid beland?
• Lede wat nie die reëls gehoorsaam nie, moet uitgeskop word.
• As jy ’n groep geskep het vir ’n spesifieke doel, dag of geleentheid en dit nie meer hierdie doel dien nie, wis die groep uit.

BRON: Van Velden-Duffy Prokureurs

Lees nou

WhatsApp het ’n nuwe funksie

Kyk wat kan WhatsApp nóg doen!

4 wenke: Kikker só jou WhatsApp-chemie op!