1Life-feature-image
Hieroor praat mense

VIDEO: Groot bederf ná Yvette kanker-monster klop

“Ek is ’n oorwinnaar”

Yvette Bhagwandin het met alles in haar bly vasklou aan hoop en só die kanker-monster uitoorlê. Nou wil sy haar hoop met die wêreld deel.

Op ’n Maandagoggend is die meeste mense in Johannesburg op pad werk toe, maar nie skoonsusters Yvette and Cathy Bhagwandin nie. As die wenners van 1Life se #strongertogether-veldtog is hulle op pad lughawe toe vir ’n onvergeetlike wegbreek na die Moederstad. Wat volg, is ’n naweek van pure genot vir dié twee met fotosessies, spabehandelings, lekker rondloop in die winkels … en ’n smullekker koek.

Yvette (42) het ’n seldsame tipe kanker bekend as drievoudige negatiewe borskanker oorleef. “Ek was vreesbevange toe ek in Julie 2014 uitvind ek het kanker. Al wat ek kon doen, was om my 19-jarige dogter te bel en oor die foon te huil. Maar toe besef ek ek moet dit oorleef. Nie net vir my familie nie, maar vir myself.”

Selfs wanneer chemoterapie se aaklige naarheid haar by die werk oorval het, het Yvette geweier om moed op te gee. “My baas het gelukkig empatie gehad en kon ek eenkant gaan sit tot ek beter voel en verder kan werk.”

Cathy het gesien hoe vasberade sy is en het Yvette benoem vir die #strongertogether-veldtog wat mense met kanker vereer vir hul dapperheid en positiewe ingesteldheid. “Al het sy ’n mastektomie gehad, bly sy sterk van binne en lyk mooier as ooit tevore,” sê Cathy.

Yvette is reeds ’n jaar lank in remissie, ’n wonderwerk waarvoor sy elke dag dankbaar is. Maar selfs al het hierdie nederige, sterk vrou reggekry het wat baie gedink het onmoontlik is, is daar iets wat sy nog nooit gedoen het nie – sy het nog nooit gevlieg nie. Die naweek in Kaapstad was daarom vir haar vol eerstes!

Met hul voete veilig op die aarde (turbulensie en al) en hul tasse afgelaai by die Protea Hotel Fire & Ice, het die twee die winkels ingevaar om die perfekte uitrustings vir hul fotosessie te kry.

“Ek het die mooiste klere gekoop!” Yvette was veral opgewonde oor die fotosessie. Die fotograaf se uitroepe van “pragtig!” en “fantasties” het haar nog breër laat glimlag.

“Toe is ons na die spa by die 12 Apostles Hotel om ons naels te laat doen,” vertel Yvette. Daar gekom, het hulle, steeds uitgevat in spoggerige jeans en vleiende, nousluitende hemde, ’n middag se bederf geniet.

“Die soutwater-flotasiepoel was die kersie op die koek,” vertel Cathy, wat elke oomblik van Yvette se vrolikheid geniet het nadat sy haar skoonsus bygestaan het deur die 18 moeilikste maande van haar lewe.

Die volgende oggend was dit tyd vir hul laaste afspraak. Een van Yvette se stokperdjies is om koek te bak en versier. Wat kan dus beter wees as ’n private koekbaksessie by die beroemde Charly’s Bakery om die naweek mee af te sluit?

“Ek wil ’n boodskap van hoop met hierdie koek uitdra. Jy kan enigiets, selfs kanker, oorleef, solank jy nie hoop verloor nie,” sê Yvette. “Ek het al gesien hoe mense die stryd verloor omdat hulle moed opgegee het. Ek wil hê almal moet weet van my storie sodat dit hulle kan help om sterk te staan te midde van hul eie stryd.”

Yvette was aanvanklik skaam om haar koek te uitspattig te versier, maar die bakkery se leuse wat sê “meer is meer” het haar gou van plan laat verander. Sy het so te sê tot agter haar ore geglimlag toe sy die woorde “Ek is ’n oorwinnaar” met versiersuiker daarop geskryf het. Beide Yvette en Cathy se trots was tasbaar en almal in die kombuis het spontaan begin hande klap.

’n Paar dae ná die uitstappie het Yvette rekonstruktiewe chirurgie ondergaan, ’n uitdagende operasie wat normaalweg 10 uur duur, maar wat in Yvette se geval 14 geneem het. Dit gaan nou goed met Yvette en sy herstel mooi.

1Life se #SterkerSaam-veldtog is verlede jaar September bekend gestel met die doel om mense te motiveer om hul stories te deel oor hoe kanker hul lewens verander het. Deur ’n platform vir mense te skep waar hulle bemagtigende stories kan deel, het die veldtog werklik lewens verander. Die veldtog het ook Suid-Afrikaners aangemoedig om bewus te wees van die gevare van kanker en watter beskerming hulle nodig het om die kankerstryd te veg. Vir meer inligting, kliek hier.