Hieroor praat mense

2009 kan maar kom!

En die nuwe jaar? ’n Plat beursie, ja, maar daar’s ook magic in die lug – soos ons Bokke wat weer koning kraai!

Maak vas die gordels – 2009 is hier! En kan dit méér deurmekaar as 2008 wees? Sowat van hobbels in die pad het ons lanklaas beleef – van die ekonomie tot die politiek tot die werkplek. SARIE het by kenners kers opgesteek, en hulle stem saam: 2009 gaan ’n jaar vol uitdagings wees, maar daar’s ook báie om na uit te sien. Nuwe moontlikhede en geleenthede, hoop en goeie tye wat wag.
Lees wat sê hulle. Evita Bezuidenhout, leier van Evita’s People’s Party (EPP), gooi ook haar stuiwer in die armbeurs.

Sokker-manie

Die Bokke het Engeland onlangs hul grootste pak slae óóit op hul tuisveld, Twickenham, gegee, en nou is die opwinding aan’t oplaai oor 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi in SA. Teen middel 2009, wanneer die Konfederasiebeker in SA aangebied word, gaan ons dit behoorlik begin voel, sê JP Landman, politieke en neiging-analis.

Dié toernooi gaan ons ook ’n idee gee van hoe gereed ons is om die Wêreldbeker aan te bied. Ons kan nie die magic ontken wat die land gaan tref nie!

Evita sê: “As 2010 werk, sal dit vir almal wonderlik wees. Dink net: ’n Gautrein, mooi paaie, Tafelberg met ’n skoon kleed en geen vrees. Ek stel voor: Herbou die stadions by die internasionale lughawens. Dan sal almal invlieg, sokker kyk en uitvlieg sonder om ’n handsak of ’n beursie te verloor!”

Jy en jou beursie

Goeie nuus, volgens JP: Rentekoerse en inflasie gaan moontlik in 2009 daal, maar waarskynlik eers in die tweede helfte van die jaar. Die minder goeie nuus: Ons ekonomie kan in 2009 die stadigste groei in die laaste vier jaar – waarskynlik met ’n bietjie meer as 2%. Sakeondernemings gaan onder druk wees omdat mense minder geld bestee. Die mededinging tussen ondernemings gaan ook al hoe strawwer word. As jy ’n entrepreneur is, kan dit finansieel ’n moeilike jaar wees. As jy ’n salaris verdien, sal jy wel deur die driffie kom – solank jy jou werk behou. Jy sal weliswaar met minder luukses moet klaarkom. Die goue reël geld nou meer as ooit: Probeer jou skuld verminder en moenie bo jou inkomste leef nie. Stygende kospryse wêreldwyd gaan ’n ál groter uitdaging word. Almal moet die gordel stywer trek – nie net in SA nie. Dis ook nie net kos wat duurder raak nie: In Noord-Amerika is mediese dekking plek-plek só duur dat onderwysers, byvoorbeeld, dit nie kan bekostig nie.

Evita sê: “Die wêreld en die finansiële heelal smelt albei deur agterlosigheid en gulsigheid. Die enigste ware ekonomie is om in jouself en jou familie te belê. Geld is vanoggend hier en vanaand weg. Kinders is die toekoms.”

Bly of gly?

Die golf van mense wat die land verlaat gaan in 2009 voortrol, meen JP. Elkeen se redes is persoonlik. Vir sommiges kan dit die regte ding wees, veral as hulle ter wille van ’n werkgeleentheid oorsee gaan. Ons woon in ’n globale wêreld en emigrasie is onvermydelik.
“Ék bly hier, want ek hou van die weer en die ruimte,”vertel JP. “Ook omdat dit weer beter sal gaan met die ekonomie. Selfs teen die huidige swak koerse groei ons ekonomie vinniger as die bevolking – daar is wél vordering.”

Evita sê: “My familie bly in Jan Tuisbly se woonwa – hulle gaan nêrens. Al wat ons hier in SA moet doen, is optimisties wees. Laat ons glas halfvol bly, nooit halfleeg nie. Soos onlangs: Laat die land halfbelig en nie halfdonker wees nie, dan kom almal terug – dit blý die beste plek ter wêreld.”

Jy en jou werk

“Sosiale kapitaal” raak al hoe belangriker in die soeke na werk – wie jy ken, jou vermoë om te netwerk en hoe bedrywig jy is om nuwe geleenthede te ontgin, sê JP. Omdat werk ál skaarser word, is dit belangrik om jouself van die res te onderskei – om die regte kwalifikasies te hê en jou eie geleenthede te skep. As jy reeds in ’n beroep staan, moet jy aanhou om jou vaardighede te ontwikkel en nuwes aan te leer om te oorleef en te vorder. As jy jonk is, kan jy verwag om drie of vier verskillende loopbane in jou leeftyd te hê. Moenie te gemaklik raak nie.

Evita sê: “Wórd jou werk. Hou op kla oor goed wat jou terughou. Almal het unieke talente. Soek joune.”

Die volgende Zimbabwe?

Daar’s meer verskille as ooreenkomste tussen SA en Zimbabwe, sê JP. Ons het nie hul inflasiekoers nie. Ook nie ’n president wat weier om te loop as hy gevra word om dit te doen nie. Én ons ekonomie is sterker. “Mense wat sê ons is die volgende Zim wil nie hê SA moet ’n suksesverhaal wees nie.” SA bestee baie geld aan die verbetering van infrastruktuur: Ons werk aan paaie, lê telefoonkabels aan en herbou lughawens. Dit gaan lank neem voor ons sekere verskille sien, maar ander sal gouer sigbaar wees. “SA is besig met ’n reis van ’n tradisionele na ’n moderne samelewing. Ontwikkeling gaan gewoonlik met worsteling gepaard. Dis nodig vir langtermynsukses en dis die moeite werd om daardeur te gaan,” sê JP.

Evita se boodskap: “Stem in vanjaar se algemene verkiesing!”

JP Landman, politieke en neiging-analis. JP Landman

Politiek, polemiek

Met die algemene verkiesing gaan almal politiek praat. ’n Wegbreekparty kan nét positief wees, meen JP. Dit maak nie saak of dié party ’n sterk alternatief vir die ANC gaan wees of gaan sukkel om sy stempel af te druk nie. Dit gaan die politiek “losser” maak, met vars debatte en nuwe idees en maniere van dink. Slordigheid binne die politiek is soms nodig vir vordering, solank dié chaos binne perke is. Prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom, sê ’n verkiesing bring altyd ’n mate van onstabiliteit mee, soveel te meer in 2009 vanweë die wegbreekparty. “Dit gaan die politieke klimaat in SA heeltemal verander. ’n Nuwe party beteken groter kompetisie, veral as die party koalisiemagte met ander partye vorm. En dit is goed vir enige demokrasie,” sê André.
Wie ook al president word ná dié verkiesing sal binne die raamwerk van die ANC se besluite werk, soos om dienslewering te verbeter, armes op te hef en werk te skep. Die verkiesing van Barack Obama as Amerikaanse president het wêreldwyd nuwe hoop meegebring. Mense is opgewonde oor Obama omdat hy sake waarskynlik anders sal aanpak as George W. Bush, sê André.

“Obama sal met lande kompromieë probeer aangaan, eerder as om oorlog te maak. Hy sal waarskynlik ook probeer om ’n goeie verhouding met Oosterse lande aan te knoop. Vir Afrika spesifiek is dit positief dat hy Afro-Amerikaans is. Dit sal makliker wees om ’n goeie verhouding met Afrika-lande te bou omdat daar nie ’n rassemuur is om te oorkom nie. Suid-Afrika en ander Afrikalande kan baie uit die Obama-administrasie put indien daar ’n goeie verhouding ontstaan, soos ekonomiese samewerking en Amerikaanse ontwikkelingshulp.”

Evita sê: “Laat die mense lei – die politici kan volg. Die politiek moet vir óns werk, nie ons vir die politiek nie. Wees ingelig – hoe meer jy politiek praat, hoe kleiner raak jou vrees daarvoor. Verkiesings verander alles. Kyk na die Obamarama. Ons 14 jaar oue demokrasie se stem het nog nie eens gebreek nie. Maak dinge reg met toewyding – en ’n mening.”

Wat van misdaad?

Die regering se syfers wys misdaad is besig om af te neem, maar dit gaan nie oornag verdwyn nie. As jy persoonlik deur misdaad geraak is, maak hierdie syfers nie vir jou saak nie, sê JP. SA het doeltreffende polisiëring nodig om regtig ’n verskil te maak. “Vergelyk dit met die belastinggaarder: As hy jou gaan kortvat omdat jy nie jou belasting betaal nie, gáán jou gedrag verander.”
JP dink wel die bekamping van misdaad gaan in die toekoms verbeter. Of misdaad minder gewelddadig gaan raak, sal afhang van hoe doeltreffend die strafregstelsel is.

Evita sê: “Begin by die huis. As Pa ’n koekie steel voor hy gaan slaap, laat hy verduidelik hoekom en ’n boete betaal. Hou altyd jou oë oop. En, skatties, neem ’n bord koeksisters vir jou bure. Eet saam, lag saam en beskerm mekaar saam.”

Vinniger, vinniger

Tegnologie dryf verandering en laat alles steeds vinniger gebeur. JP glo verandering gaan voortaan op ’n gereelder grondslag gebeur, met korter tye van stabiliteit tussenin. Elkeen van ons moet hierby aanpas.
Dion Chang van Flux Trends, ’n maatskappy wat neigings ontleed, meen die vinnige pas wat ons handhaaf vanweë veral die vooruitgang in tegnologie gaan ons in 2009 dwing om meer gebalanseerd te leef.

“Meditasie raak ’n ál groter neiging. Alles voel deesdae asof dit dringend is, elke SMS, e-pos, élke boodskap . . . Mense gaan hulself al hoe meer afvra waaraan hulle onmiddellik moet aandag gee en watter dinge kan wag.”

Sosiale netwerke soos Facebook en MXit gaan toenemend gebruik word vir “mobilisering” eerder as om bloot kontak met mense te behou. Mense sal bv. op Facebook aangemoedig word om in die verkiesing te stem. Ervarings soos ’n vakansie saam met jou gesin of ’n naweek-wegbreek saam met vriende gaan vir ons belangriker word. Ons gaan geld bestee aan dinge wat ons laat goed voel, eerder as aan materiële besittings (ook weens die baie inbrake in SA).

Evita sê: “My kleinkinders is my grootste ontspanning. Hulle is vol hoop en energie en vra my uit oor alles. En ek vertel hulle, want ons moet weet waarvandaan ons kom sodat ons die toekoms saam kan vier.”

Gaan ons vrolik wees in 2009?

Die politiek gaan baie van ons onrustig maak en finansieel gaan ons onder druk wees, sê JP. “Dis moeilik om te sê wat Suid-Afrikaners se instelling in 2009 gaan wees – dit hang af hoe goed ons sportspanne presteer! Dít help altyd om ons gemoed te lig.” Ons beleef nou maer jare, maar ons weet daarna kom die vet jare. Hoe gouer ons deur die maer jare kom, hoe gouer kan dit weer voorspoedig gaan. Verandering vind deurlopend plaas – en dis nodig. Jóú ingesteldheid gaan die verskil maak. Aanvaar wat met die ekonomie gebeur. As jy die jaar met ’n negatiewe gemoed binnegaan, gaan 2009 vir jou sleg wees. Kuier saam met vriende, doen dinge wat vir jou lekker is. Probeer om nie soos ’n slagoffer te voel nie. Jy kan nie jou uiterlike realiteit verander nie. Jy het wél beheer oor jou innerlike wêreld.

Evita sê: “’n Boer maak ’n plan! Al die veld is vrolik, al die voëltjies sing, al die kriekies kriek daarbuite, elke sprinkaan spring! Staan kaal voor die spieël elke oggend – jy kan nie help om te lag nie!”

  • http://ikofxryvfurj.com/ tqwqkm

    tNW7L8 zskqxypirvxo, [url=http://sxcwebmiqpce.com/]sxcwebmiqpce[/url], [link=http://momncecskrur.com/]momncecskrur[/link], http://zdcmgdvkqfyv.com/

  • ydktgzjkht

    gQ1Qem qzvlkdanfgdl, [url=http://yikwhcdilnet.com/]yikwhcdilnet[/url], [link=http://wwqixojtnnaa.com/]wwqixojtnnaa[/link], http://xkdxgyevliww.com/