Hieroor praat mense

Dít was groot in 2013

Ons koop, ons fliek, ons eet. En neem foto’s van onsself terwyl ons koop, fliek en eet. Hier’s 4 tendense wat ons vanjaar op hol gehad het.

Die mensdom vóór die internet se koms. En daarna. Die sprong is waarskynlik net so groot as toe ons besef het die aarde is, o gaats, rond! Die internet is dan ook die plek vir twee gewilde tendense vanjaar: Aanlyn-inkopies het die manier hóé ons koop verander. Elke jakkals kan nou ook sy eie stert prys met selfies, daardie foto’s wat jy met ’n uitgestrekte arm van jouself neem. En waar Afrikaanssprekendes is, is kos. Of ons nou feesvier, of rou. Boonop bewys die opbloei in die Afrikaanse filmbedryf: Afrikaans ís die taal van ons hart.

1. Afrikaans, hartstaal

sr1301cover8Donnalee Roberts is binnekort in Pad na jou hart*, een van talle Afrikaanse flieks wat vanjaar gemaak is.

Afrikaanse flieks word die afgelope sowat drie jaar uitgeryg. Vyftien, die meeste nog, het vanjaar die lig gesien. Heel bo is Liefling (wat sowat R13 miljoen by die kaartjieskantoor verdien het), wie se wenkombinasie van musiek en nostalgie dit die grootste Afrikaanse fliek nog maak. Goeie dramatiese flieks soos Roepman en Verraaiers het van R2,2 miljoen tot R2,6 miljoen verdien, en Katinka Heyns se Die Wonderwerker R5,8 miljoen. Maar dis nie asof almal sakke vol geld maak nie. Alle Afrikaanse flieks is nie groot nie, waarsku Helen Kuun, uitvoerende hoof van die fliekverspreider Indigenous Film Distribution. Afrikaanse flieks verdien enigiets van R250 000 tot R13 miljoen. Tog gaan dit nie soseer oor rolprente nie, maar oor Afrikaans, sê Helen. Afrikaanssprekendes is lojaal teenoor die taal. Kyk maar hoe sterk bly kunstefeeste soos Aardklop en die KKNK, en hoe groei kykNET. En musiekextravaganzas, soos Huisgenoot Skouspel en Afrikaans is Groot trek jaarliks derduisende mense. Groot Afrikaanse sangers lag al die pad bank toe.

Die plaaslike fliekbedryf blom hoofsaaklik vanweë die geldelike aansporingsmaatreëls wat die departement van handel en nywerheid in 2008 daarvoor ingestel het, sê Anel Alexander, vervaardiger van Semi-Soet, wat sowat R9 miljoen ingeoes het by die kaartjieskantoor. “Daarsonder sou dit byna onmoontlik wees om flieks in SA te maak, dis te duur en ons mark te klein.” Vyftien flieks per jaar is ’n bietjie baie en dit kan versadigingspunt in teaters bereik, volgens Helen. Maar daar is talle digitale platforms (soos DVD’s betaaltelevisie en DStv se box office). En hul dors is groot.

kykNET wil stories vertel wat aanklank vind by en relevant is vir Afrikaanssprekendes, sê Karen Meiring, hoof van dié kanaal, onder wie se vaandel die Silwerskerm-fees vanjaar die tweede keer aangebied is. En daar is ’n Afrikaanse fliek vir elke bui en smaak. Volgens
Karen is een van kykNET se doelwitte om die maak van goeie prente aan te moedig. En wees gerus: Solank daar mense is wat die taal praat, sal daar ’n behoefte aan Afrikaanse stories en flieks wees, sê sy.

*SARIE is die mediavennoot van Pad na jou hart, wat volgende jaar op Valentynsdag uitgereik word. ’n Gelyknamige roman verskyn vandeesmaand. Hou SARIE.com dop vir  eerste nuus oor Pad na jou hart.

2. Spieëltjie, spieëltjie

selfie11Meld aan op Twitter, tik #selfies in … en ’n string foto-skakels verskyn. As jy nie weet wat selfies is nie (dalk is jy ’n besoeker van Mars?): Dis ’n foto wat jy van jouself neem en op Facebook, Instagram of ’n ander sosiale netwerk laai. Samsung, wat onder meer slimfone vervaardig, het in ’n opname gevind selfies maak sowat 30% uit van alle foto’s wat jongmense tussen 18 tot 24 neem. Maar volwassenes klik deesdae ewe lekker saam. Tydens Barack Obama se tweede inhuldiging as Amerikaanse president, het die “koninklike” dogters, Sasha en Malia, hulself vermaak deur gesigte voor ’n slimfoon te trek. Hoewel selfies al lank bestaan, het dit eers die afgelope jaar of twee alledaags geraak. Time Magazine het dit as gonswoord geëien en nou word dit oorweeg vir insluiting in die aanlyn- Oxford English Dictionary. Die aantrekkingskrag lê daarin dat dit maklik is om te doen en te deel, sê Wikipedia.com. Jy het ook beheer oor hoe jy op die foto wil lyk.

selfie2Die samelewing is verdeel in twee kampe: Dié wat selfies sien as onskuldige pret, en diegene wat dit beskou as ’n ekstreme vorm van narsisme Dis ek … ek … ek op steroïede, sê Dion Chang, stigter van Flux Trends (fluxtrends.co.za), wat nuwe tendense navors. “Dit spreek boekdele hoeveel mense selfies plaas op Instagram [’n sosiale netwerk waar jy jou foto’s deel].” En die gier gaan net groei. Daar spring selfs produkte rondom dit op. Die Japanse maatskappy Sunpole het al ’n staander ontwerp waarop jy jou selfoon of tablet vir selfies kan staanmaak. Dié staander is op skilderagtige plekke in die stad Fujisawa opgerig. ’n Nuwe hotel in Sydney, Australië, is deur Instagram geïnspireer. By die 1888-hotel is elke hoekie ’n Instagram-foto werd. Dion sê ons beweeg na ’n ultra-visuele samelewing en jy sien dit op sosiale platforms. Instagram, wat verlede jaar vir $1 miljard deur Facebook se Mark Zuckerberg gekoop is, het sowat 100 miljoen maandelikse aktiewe gebruikers.

photo[6]Snapchat (8 miljoen gebruikers) word veral deur tieners vir onder meer sexting gebruik. Jy stuur vir iemand ’n (dalk stout) foto, bepaal ’n tyd (gewoonlik 10 sekondes ná dit oopgemaak is) en daarna verdwyn dit. Hy voorspel selfies gaan van foto’s na kort kortvideo’s beweeg. (Op Instagram kan jy byvoorbeeld 15 sekonde lange video’s laai.) En siedaar: Jy is die ster van jou eie kort “fliek” wat jy in jou etenstyd gemaak het.

 

3. Ons kóóp so lekker

Lank, lank gelede moes jy die winkels met hul dolle gedrang vir jou Kersinkopies aandurf. Nou kan jy sommer jou vingers die loopwerk laat doen. Sowat 1,5 miljoen mense, of 3% van Suid-Afrikaners, koop aanlyn, sê Louna Lohann, algemene bestuurder van mode, aankope, produksie & kreatiewe ateljee by spree, Media24 se aanlynwinkel, waarvan SARIE.com deel is.

CD’s en boeke was voorheen die topverkopers; nou groei klereverkope die vinnigste. Namate internet-verbindings verbeter en die koste daarvan daal, gaan al hoe meer mense aanlyn koop. Ook selfone gaan toenemend daarvoor gebruik word. Aanlyn-aankope sal na verwagting jaarliks met sowat 30% groei, teenoor die tradisionele kleinhandel se sowat 10%, sê sy. En terwyl ons al hoe meer in die kuberruim koop, verhoog dit die druk op gewone winkels. Kopers soek opwinding, nuwigheid, ’n verrassingselement. En sogenaamde pop-up shops het dit alles, sê Dion Chang. Dis ’n tydelike winkel wat ’n dag, weke of maande bestaan. En dan weer verdwyn. Nou hier, dan weg. Soos die sirkus wat jare gelede dorpe besoek het. Dié winkels het ontstaan in die resessie se donker dae toe daar baie leë winkels was.

Twee jaar gelede was hy in Parys, Frankryk, by ’n Michelin-ster-restaurant. (Dus die toppunt van gourmetkos.) Dié restaurant, in skeepsvraghouers, se bemarkingstrategie: Dit gaan net twee jaar bestaan. In Manhattan is ’n winkel wat elke maand met nuwe produkte spog. Dié maand skoonheidsmiddels, volgende maand klere. Dis nuttig om te toets hoe verbruikers op ’n sekere produk reageer. Dion self was plaaslik al in ’n soort leefstyl emporium, ’n eindevan- die-seisoen-pakhuis-uitverkoping met van klere tot huisdekor. Maar dis dié soort kosplekke wat plaaslik die vinnigste groei, sê hy. Dis dikwels ’n manier vir sjefs om met geregte te eksperimenteer.

trend_terugblik22Jade de Waal se kookboek, Food Jamming with Jade (Human & Rousseau, 2013), is gebaseer op haar opskietetes landwyd. Kaapstad het ’n opwindende opskiet-restaurant kultuur, sê sy. Jy weet tot op die laaste oomblik nie waar dit gaan wees nie. Dit word mondeling oorgedra en op die sosiale media geadverteer. Sy het al sulke etes gehou op van die wynplaas Spier se stoep (geen kombuis in sig nie), tot ’n klein woonstel in ’n ou pakhuis in Johannesburg. By haar etes maak jy self kos. En selfs al ken jy niemand nie, is kos die gemene deler, sê sy.

4. Ouma se kos

Kos is gewis op die punt van almal se tong – dis die nuwe mode. Met celeb-sjefs, TVkookprogramme, resepteboeke, kos-blogs en kosmarkte. Jy hoor nie meer net by vyfster-hotelle se elegante restaurante woorde soos coulis (vrugtesous), jus (afgekookte bruin vleissous) en sommelier (wynkenner) nie. Dit word sommer by voorstedelike huispartytjies gebruik.

sk1006bak3Daar was vanjaar nie minder nie as ses plaaslike kosreekse op kykNET: Die Nataniël Tafel, Kêrels wat kook, Ilse kook, Jan Braai en 5 Sterre met Reuben Riffel. Ook Kokkedoor, wat so gewild was dat iemand soos “Tannie” Poppie Coetzer ’n celeb geword het en nou vir SARIE KOS skryf. TV-kosprogramme is nie nuut nie, maar Afrikaanse gehalteproduksies wel, sê Errieda du Toit, Kaapse kosskrywer en aanbieder van radiostasie RSG se Huiskok Glanskok. “Kos het algemene vermaak geword, die nuwe sepie. Sonder dat jy hoef saam te kook.” En kyk, ons kook Afrikaanse kos. Slaphakskeentjies, sousbone, pampoen-poffers … Want landelike kos is in, sê sy. Dis deel van ’n wêreldwye tendens: ’n Verlange na “Ouma se kos”.

Woolworths se Kersfees-kosreeks bevat o.m. outydse mosterd soos ’n “Afrikaanse ouma dit sou maak”. By vanjaar se Kaapse Good Food & Wine Show was daar die eerste keer ’n stalletjie met Afrikaanse kos, Tafelpraatjies. Naomi Herselman, eienaar van Searle’s Trading Post op Greyton, wat vir dié kosteater verantwoordelik was, sê mense het na die stalletjie toe gekom net agter die kosreuk aan. “Ons ruik Afrikaanse kos.” Daar was ook ’n kosteater-stalletjie van Kokkedoor by die Good Food & Wine Show in Johannesburg. Boerekos is so gewild, want dis so lekker. Dit laat jou gekoester voel. Dis nie sommer enige kos wat jy by enige plek kan koop nie, dit word spesiaal vir jou gemaak, sê Dine van Zyl, skrywer van Die groot Boerekosboek 1 en 2. (Bestel by www.dinevanzyl.co.za.)

IMG_6443Maar dit het ’n moderne kinkel. Ons het minder tyd en volg kortpad-metodes. Ons is ook bewus van ons gesondheid en sny byvoorbeeld sigbare vet van die vleis af. Kos gaan al groter raak, voorspel Sanet Olivier, regisseur van Kokkedoor (die tweede reeks word nou verfilm.) Ons gaan minder restaurante besoek, meer tuis kook. Ons moet slim raak met kos weens die ekonomiese knyp. Verwag dus vanjaar slaphakskeentjies op die familie se Kerstafel!