FOTO SARIE redaksie

Hieroor praat mense

2016 – dié grotes groet ons

Aan die einde van 2016 sal die wêreld oor één ding saamstem: Vanjaar het daar voorwaar reuse geval – en hul finale buiging gemaak.

Net in Desember het legendariese sterre in verskeie genres geval:

Hollywood-koninklikes Debbie Reynolds (1 April 1932 – 28 December 2016)  en haar dogter, Carrie Fisher (21 October 1956 – 27 December 2016)

Debbie het bekendheid verwerf toe sy as 19-jarige teenoor Gene Kelly in Singin’ in the Rain (1952) gespeel het. Hierna het sy nog vele suksesse gehad op die silwerskerm en ook op die verhoog. Sy is onder meer benoem vir ’n Oscar, Golden Globe én ’n Tony.

Debbie word beskou as een van die min aktrises wat die skuif van ou-Hollywood musiekfilms na ’n suksesvolle TV- en filmloopbaan gemaak het.

Sy trou in 1955 met die sanger Eddie Fisher en uit dié huwelik word Carrie en Todd Fisher gebore. Carrie word later ’n aktrise in eie reg en Todd is ’n sakeman, maar werk ook agter die skerms by films.

Debbie en Eddie skei in 1959 ná Eddie ’n verhouding met Debbie se goeie vriendin Elizabeth Taylor aanknoop. Die Eddie Fisher-Elizabeth Taylor-verhouding was ’n groot skandaal wat vir Eddie op die einde sy eie TV-reeks gekos het.

Sy het weer twee maal getrou, eers met die miljoenêr sakeman Harry Karl (1960 – 1973) en daarna met die eiendomsmagnaat Richard Hamlett (1984 – 1996).

Dogter Carrie het in haar ma se voetspore gevolg en ’n aktrise geword. Haar bekendste rol was as Star Wars se Princess Leia. Sy het ook in Shampoo (1975), The Blues Brothers (1980), Hannah and Her Sisters (1986), The ‘Burbs (1989), en When Harry Met Sally… (1989) gespeel.

Carrie was met die sanger Paul Simon getroud en verloof aan akteur Dan Aykroyd. Carrie het vanjaar in haar outobiografie The Princess Diarist bekend gemaak dat sy in 1976 met Harrison Ford ’n verhouding gehad het terwyl hulle Star Wars geskiet het.

Sy en die agent Bryan Lourd het uitgegaan en uit dié verhouding is Billie Lourd gebore. Billie is ook ’n aktrise en speel in die TV-reeks Scream Queens.

Op 23 Desember vanjaar het Carrie ’n hartaanval op ’n vliegtuig gehad wat van Londen onderweg was na Los Angeles. Sy is gehospitaliseer en is op 27 Desember in die ouderdom van 60 oorlede. Die volgende dag is haar ma, Debbie, gehospitaliseer ná ’n beroerte en op dieselfde dag oorlede.

Todd Fisher sê sy ma se laaste woorde was dat sy saam met Carrie wou wees, berig E! News.

FOTO: Debbie en Carrie in 2015

Skrywer Richard Adams wat die bekende kinderboek Watership Down geskryf het (9 May 1920 – 24 December 2016).

Sanger George Michael was deel van die sanggroep Wham! en het daarna sy suksesvolle sololoopbaan begin (25 June 1963 – 25 December 2016).

Ikoon Zsa Zsa Gabor, wat die Kim Kardashian van haar tyd genoem is (6 Februarie 1917 – 18 Desember 2016).

Modewêreld: China Machado, die grensverskuiwende model en moderedakteur (25 Desember 1929 – 18 Desember 2016).

TV: Akteur Alan Thicke, veral bekend vir sy rol in die TV-reeks Growing Pains (1 Maart 1947 – 13 Desember 2016).

TV: Joseph Mascolo bekend vir sy rol as Days of Our Lives se booswig Stefano DiMera (13 Maart 1929 – 7 Desember 2016).

November was veral vir die Afrikaanse kultuurwêreld ’n hartseer maand. Die skrywer Dot Serfontein is in die ouderdom van 91 (30 April 1925 – 4 November 2016) in haar slaap oorlede. As skrywer van kortverhale, vervolgverhale, essays, romans en ’n familieboek het Dot haar merk in die letterkundige wêreld gemaak. Die digter en skrywer Antjie Krog is haar dogter.

Screen Shot 2016-11-04 at 9.57.08 AM

In die jare 50’s tot 70’s het sy talle kortverhale, sketse en ses vervolgverhale vir SARIE, toe SARIE MARAIS, geskryf.

“My goed het in die Sarie Marais verskyn. Almal het dáár begin – by die Sarie Marais.”

– Dot Serfontein in By (Die Burger) n.a.v. haar jongste boek, Vrypas.

Vroeër dieselfde week het regisseur Jans Rautenbach, (22 Februarie 1936 – 2 November 2016) in die ouderdom van 80 gesterf.

FOTO Twitter / KKNK

FOTO Twitter / KKNK

As dromer, baanbreker en outeur het hy verskeie rolprente gemaak, soos Die Kandidaat (1968), Katrina (1969), Jannie Totsiens (1970), Pappa Lap (1971). In 2014 het hy begin verfilm aan sy laaste rolprent, ’n storie na aan sy hart, Abraham.

Dié roerende verhaal oor ’n kunstenaar, Abraham, en dromer wat oom Jans en sy vrou, Almeri, se pad gekruis het, is op sy geliefde plaas Oulap en die omgewing van De Rust in die Klein Karoo geskiet. Oulap was sedert 1971 sy tuiste.

Abraham is verlede jaar uitgereik.

Twee reuse, Jans Rautenbach (links) en Nico Carstens (regs). FOTO SARIE

Twee reuse, Jans Rautenbach (links) en Nico Carstens (regs).
FOTO SARIE

Dinsdag, 1 November, is Nico Carstens in die ouderdom van 90 in Kaapstad oorlede. As meesterlike komponis en trekklavierspeler het hy liedjie na liedjie opgetower. Een van hulle was sy wêreldtreffer “Zambesi”.

Volgens Netwerk24 weet mense veral die volgende oor Nico:

“.. dat hy lief was vir mooi motors (veral Cadillacs), dat hy sewe keer getroud was, en dat hy dit gehaat het as mense na hom verwys het as die ‘Koning van boeremusiek’.”

In SARIE se April 2000-uitgawe het SARIE se redakteur, Michélle van Breda, met Nico gesels. Hier volg ’n uittreksel:

Altesame 56 orkeste het “Zambesi” opgeneem. Ook groot name soos James Last, The Shadows en later Jean Michel Jarre het opnames gemaak. Het jy nie jou talent in SA weggegooi nie?

Internasionaal was daar druk op my om te gaan. Ek hét oorsee gaan speel, maar nooit my heil permanent daar gaan soek nie. Hoekom, weet ek nie. Dalk het ek iets belangrikers gehad om te doen. Dalk wou ek ’n blonde in my Cadilac Durban toe vat. Wie weet? Ek was nog nooit maklik met die kollig nie. Ek meng nie maklik nie. By partytjies het ek dikwels alleen in ’n hoek gesit. Ek’s gemakliker met ’n kollig op die verhoog – só dat ek nie die gehoor se oë kan sien nie. En geld? Geld het nooit my lewe beheer nie.

Dié bekendes het ook vanjaar gegroet

David Bowie, sanger en akteur (8 Januarie 1947 – 10 Januarie 2016)

Brian Bedford, Britse akteur en stem van Robin Hood in Disney se Robin Hood (16 Februarie 1935 – 13 Januarie 2016)

René Angélil, Celine Dion se man en bestuurder (16 Januarie 1942 – 14 Januarie 2016)

Alan Rickman, Britse akteur (21 Februarie 1946 – 14 Januarie 2016)

Glenn Frey, ’n stigterslid van die Eagles (6 November 1948 – 18 Januarie 2016)

Abe Vigoda, Amerikaanse akteur (24 Februarie – 26 Januarie 2016)

Harper Lee, Amerikaanse skrywer (28 April 1926 – 19 Februarie 2016)

George Martin, bestuurder van The Beatles (3 Januarie 1926 – 8 Maart 2016)

Frank Sinatra jnr, sanger en seun van Frank Sinatra (10 Januarie 1944 – 16 Maart 2016)

Earl Hamner jnr, skrywer van The Twilight Zone en The Waltons (10 Julie 1923 – 24 Maart 2016)

Doris Roberts, ster van Everybody Loves Raymond (4 November 1924 – 17 April 2016)

Guy Hamilton, regisseur van vier James Bond-flieks, insluitend Goldfinger (16 September 1922 – 20 April 2016)

Prince, Grammy- en Oscar-wenner (7 Junie 1958 – 21 April 2016)

Muhammad Ali, bokslegende (17 Januarie 1942 – 3 Junie 2016)

Anton Yelchin, Amerikaanse akteur (11 Maart 1989 – 19 Junie 2016)

Gene Wilder, Amerikaanse akteur (11 Junie 1933 – 29 Augustus 2016)

Charmian Carr, Liesl in die rolprent The Sound of Music (27 Desember 1942 – 17 September 2016)

Mandoza, Kwaito sanger (17 Januarie 1978 – 18 September 2016)

FOTO Facebook

FOTO Facebook

Jim Delligatti, die skepper van die Big Mac (2 Augustus 1918 – 28 November 2016). Jy ken dalk nie sy naam nie, maar die meeste van ons het al sy ontwerp geëet! Hy het byna 50 jaar gelede die Big Mac met sy kenmerkende 2 patties en 3 snytjies brood geskep. Volgens sy seun het hy elke week ’n Big Mac geëet.

Lees nou

Wat laat “die wêreld se lelikste vrou” mooi voel?

Pat is lief vir rugby, sê vroulief Kate