FOTO Unsplash / Ben White

Hieroor praat mense

Affairs: Só lyk die 4 tipe mans wat verneuk

Die een ná die ander buite-egtelike verhouding is deesdae in die nuus. Ná ’n tragiese brand buite Wellington word daar daagliks berig oor ’n gerugte affair tussen die oorlede vrou en ’n plaaslike skoolhoof. Sosiale media het verlede week behoorlik gegons nadat Jay Z sy ontrouheid teenoor Beyonce erken het. 

Waarom het mans en vrouens affairs? Is daar rolspelers of tipes wat mens kan identifiseer? In ’n nuwe boek, The Affair, vertel skrywers Sue Hickey en Philippa Sklaar watter mans rondloop – en watter vroue vir hulle val. Hulle onderskei vier soorte egbrekers: die narsis, romans-verslaafde, opportunis en seksuele roofdier.

1. DIE SEKSUELE ROOFDIER

Hy moet vroue oorwin nie net vir seks nie, maar ook omdat dit sy eiewaarde voed. Dus is dit ’n teken van sy eie onsekerheid.

Hy hunker aanmekaar na seks en is nie tevrede met ’n “gewone” sekslewe nie. Niks minder as ’n skouspelagtige vertoning of “anderster seks” vervul sy konstante honger nie. Hy voel sy manlikheid is direk gekoppel aan die hoeveelheid en soort seks wat hy het.

Vroue is ook seksuele roofdiere. Sy voel gereeld aangetrokke tot mans wat nie beskikbaar is nie. Of skynbaar gelukkig is saam met ’n ander vrou wat sy as haar mindere beskou.

Hý gebruik geld as aas, sý haar vaardigheid in die bed. Ander vroue sien deur haar en hou nie van haar nie. Sy glo hulle is bloot jaloers op haar. Die manlike roofdier het min of geen respek vir vroue nie, wat hy as opportuniste sien. Terwyl hý eintlik die opportunis is.

Die vrou wat vir hom val

Sue Hickey sê: Baie vroue is ontvanklik vir hom. Maar jy is meer weerloos as jy nie ’n sterk vaderfiguur gehad het nie. Jy is deur ’n enkelma grootgemaak, jou pa was emosioneel afwesig, of jou ma het hom oorheers.

2. DIE NARSISTIESE RONDLOPER

Hy (of sy) soek aanmekaar die soort aandag kenmerkend van ’n nuwe verhouding, wat nie op lang termyn volhoubaar is nie. Hy gee nie erkenning aan ander mense se behoeftes en verwagtinge nie. Dis deel van sy onvermoë om empaties te wees. Getrou aan een vrou wees? Daardie reël geld nie die narsis nie. Sy behoeftes kom altyd eerste.

Dis natuurlik nie wat jy sien as jy hom ontmoet nie. Hy is dikwels welsprekend, innemend en fassinerend. Sosiale geleenthede is ’n kans om ander te beïndruk, te verower en die applous te kry waarna hy hunker. Hy gesels met jou, deel komplimente uit en streel jou ego net genoeg sodat jy vir hom val. Hy is dikwels die middelpunt van die geselskap en bewonderaars omring hom. Nabetragting van sosiale geleenthede is besaai met aanmerkings oor hoe onaanvaarbaar of onvanpas ander mense en perfek en in die kol jy is. Luister goed – dis wenke van wat hy later van jou gaan verwag.

Hy hunker aanmekaar na nuwe dinge. Is die verhouding verby die wittebroodfase, raak hy ontgogel. Sy verveeldheid word jou fout, ’n refleksie van jou ontoereikendheid. Eers kon jy nie ’n voet verkeerd sit nie, nou kan jy niks reg doen nie. Hy verneuk jou en verkwalik jóú daarvoor. Dis jou skuld dat sy behoeftes nie bevredig word nie. Nou buig jy agteroor om weer die betowering van daardie eerste dae te herskep. Jy wil nie loop nie, want wat as hy die volgende vrou op die hande dra, soos eers vir jou?

Die vrou wat vir hom val

Sue sê: As een van jou ouers ’n narsis is, is jy gewoond aan ’n gebrek aan empatie wat so tipies van dié man is. Jy vlei en prys hom, want is dit nie hoe jy geleer het om met ’n narsistiese ouer te oorleef nie?

3. DIE ROMANSE-VERSLAAFDE

Hy soek nie ’n volwasse verhouding met al die eise daaraan verbonde nie. Die inspanning van eggenoot wees en ’n gesin grootmaak, dáárvan wil hy ontsnap. Die ideale liefdesverhouding, so glo hy, is ’n samesmelting van twee siele. Watwou gesonde grense, julle is een!

Sy liefde, die pyn van verlange is allesverterend. Elke oomblik weg van jou is ’n foltering. Dalk glo hy die ongeoorloofde verhouding is onskuldig omdat hy nie seks met die objek van sy begeerte het nie, Dis mos ’n spirituele verbintenis, ’n sielsgenoot. ’n Totale vreemdeling verstaan hom heeltemal!

Hy kan homself as martelaar sien wat ware liefde opoffer. Hy voel gegrief deur sy vrou en kinders wat nie begrip het vir die omvang van sy opoffering nie, nie erkenning gee aan wat dit hom kos nie. Hy (of sy) is gedoem tot ’n lewe van sikliese teleurstellings. Die werklikheid gaan onvermydelik sy droomlewe binnedring en die gevolg is diep wanhoop omdat die liefde hom (weer eens) versaak het.

Die vrou wat vir hom val

Sue sê: Jy is baie romanties en ’n klein bietjie onvolwasse. Jy het ’n diep, soms onbewuste begeerte om die verantwoordelikhede van die volwasse lewe af te skud, wat jou rol as ma insluit.

4. DIE OPPORTUNIS

Die geleentheid is daar en enige gevolge, as hy daaraan dink, lyk hoogs onwaarskynlik. Dalk blameer hy die tekortkominge in sy maat/huwelik vir die misstap. Mans kla seks is nie meer so dikwels of opwindend nie. Hy mis die vonk en dringendheid van seks in die verhouding se beginstadium.

Vroue is weer geneig om ’n gebrek aan emosionele intimiteit die skuld te gee. Sy wil meer aandag hê, bevestiging dat hy omgee.

Die opportunis is nie verslaaf aan romanse nie. Hy wil nie hunker nie, maar bevredig word. Hy is nie ’n seksuele roofdier nie – hy vat bloot onverskillig die kans wat opduik. ’n

Nuwe verhouding bied die geleentheid om daardie eerste fase van ’n verhouding, van intense seks en malkop-verliefdheid, te herleef. Anders as die vorige soorte, is dit onwaarskynlik dat hy een affair na die ander sal hê.

Dis nie ’n persoonlikheidsafwyking nie, eerder ’n gebrek aan toewyding, om deur dik en dun by jou huweliksmaat te staan. Ook wanneer die gras oorkant die draad groener lyk. Min van ons gaan ’n leeftyd saam met een maat wees sonder om ooit in die versoeking te kom.

Skuldgevoelens kom gewoonlik in verskillende grade voor. Dalk redeneer hy dis te moeilik of onnatuurlik om sy lewe lank aan een mens getrou te bly. Miskien probeer hy sy lojaliteit wys deur in gloeiende terme van sy huweliksmaat te praat, of glad nie. Die laaste ding wat hy egter wil hê, is ’n egskeiding.

Sy grootste fout is sy hoop (waan?) dat as hy oor die tou trap, dit nie enige gevolge gaan hê nie. Dat die affair tot ’n einde sal kom sonder dat ’n haan daarna kraai. Dit voel dalk soos ’n vakansie weg van die gewone lewe af. Dit was nooit sy aanvanklike bedoeling om sy huwelik in gevaar te stel, of sy gesinslewe te bedreig nie. Hy het waarskynlik vinnig die gedagte uit sy kop gesit dat hy “gevang” kan word. Of dat die affair in iets diepers kan ontwikkel.

Sy kortsigtigheid is baie gerieflik. Dit laat hom toe om ’n onmiddellike behoefte te bevredig, teenoor ’n ver verwyderde gevolg. Anders as die vorige groepe, wéét hy dat hy oortree.

Die vrou wat vir hom val

Sue sê: Dis enigeen wat nie juis toegewy is aan haar lewensbesluite nie. Mense met ’n sterk en duidelike waardestelsel oor die huwelik en verbintenis, het nie sommer affairs nie. Jou besluitnemingsvaardighede is waarskynlik swak.

*Hierdie artikel het oorspronklik in SARIE se Januarie 2017-uitgawe verskyn. 

The Affair: Recovery From Illicit Sex, Lies and Betrayal (MFBook, 2016) deur Suid-Afrikaanse sielkundige Sue Hickey, en Philippa Sklaar, ’n voormalige kliënt wat al aan albei kante van die draad gestaan het.