Alexa Strachen
Hieroor praat mense

Alexa Strachan se nuwe rol: Feesbestuurder

Haar foon het sedert gister nie ophou lui nie, want Alexa Strachan het groot nuus gekry. Sy is aangewys as die feesbestuurder van die Potchefstroom-kunstefees. En as vervaardiger, skrywer en regisseur glo Alexa dat sy nou iets anders na die tafel kan bring.

“Ek is verskriklik opgewonde. Ek glo dat ek nou in die posisie is om uit die oogpunt van organiseerder sowel as kunstenaar na ’n kunstefees te kan kyk,” het Alexa aan SARIE.com gesê.

Die Aardklop-stigting het in Maart aangekondig dat die fees ná 18 jaar gestaak gaan word. Dis vanjaar die eerste keer dat die Potchefstroom-kunstefees gehou word.

Met alle oë op Alexa voel sy geensins onveilig nie.

“Daar’s geweldige ondersteuning onder die verskillende feeste. Hulle is hier vir raad, hulp en ondersteuning. Ek is werklik opgewonde oor die pad wat voorlê.”

– Die fees vind vanjaar van 4 Oktober tot 9 Oktober plaas. ONTHOU: Kunstenaars en stalletjie-eienaars moet weer aansoek doen indien hulle nog op die ou Aardklop-stelsel was. Aansoeke is oop en kan gestuur word na potchfeesprogram@gmail.com of potchfeesstalletjies@gmail.com.