Hieroor praat mense

Alles wat blink wink

Koeke met blinkers en borrelende goue vonkelwyn, rooikoper-kandelare, ’n glinsterende rok vol kristalle – álles blink deesdae. Want bling laat ons beter voel. 

Soek jy “bling” op Google, is daar by die 67 miljoen trefslae. Ure se vermaak wag vir jou op visuele sosiale media soos Pinterest: “Big hair, bling & boots – it’s in our roots” is maar een van die vele sêgoed wat die oog tref.

Maar wat mense soms as flambojant beleef – dikwels vanweë hul behoefte om te ontsnap van die werklikheid – is eintlik vals, sê Chris.

“In tye van resessie wil mense na die blink dinge in die lewe gryp, om te vergeet van swaar. Ons wil vir ’n oomblik ’n bietjie ryk voel, selfs al is dit met klatergoud.”

As dit goed gaan, het mense nie so ’n groot behoefte om vertonerig te wees nie en hulle leef meer subtiel stylvol. Dán sal vroue liefs ’n onderbeklemtoonde Birkin-handsak van Hermès kies. “Nóú wil sy met haar metaalkleurige of silwer handsak aan die arm pronk,” vertel Jackie Burger, modekurator van die opskiet- stylsalon Salon 58 op Stellenbosch.

Volgens die Bloemfonteinse ontwerper Casper Bosman het baie mense in die 80’s en 90’s gedink bling is common, maar dis ’n kuns en jy moet slim wees om dit reg te gebruik. “Jy moet ’n driedimensionele effek skep deur onder meer verskillende soorte kristalle op die regte manier te plaas om skadu te skep.” Hy sê Suid-Afrikaners wat bling met styl dra, is onder andere ons eie Mej. Wêreld, Rolene Strauss, wie se wenuitrusting hy vir dié kompetisie ontwerp het, die voormalige Mej. Suid- Afrika Melinda Bam en die sangeres Karlien van Jaarsveld.

[...]

“Dit gaan oor die weerkaatsing van lig,” reken Annemarie Meintjes, kreatiewe direkteur van die dekortydskrif Visi. “Koper, metaal, yster en staal is gewilde dekoraksente omdat die meeste huise te organies, minimalisties en vaal geword het. Net soos ’n mooi koper-juwelierstuk ’n rok opkikker, skep koper glamour in die huis.”

Vertonerigheid is ’n lééfwyse. Op sosiale media deel ons mildelik foto’s en inligting van wat ons eet en drink. Dit speel ook ’n rol in waarom ons sekere weelderige drankies kies, meen Nicolette Waterford, ’n Kaapse wynkenner.

Met al hierdie blink om jou, wonder jy dalk wat sou die sielkundige verklaring vir ons liefde vir bling wees?

Lourentia de Kock, ’n voorligting- sielkundige van Pretoria, meen: “Elkeen het ’n inherente begeerte na lig, goud, blink en diamante, wat die lig van
die ewigheid weerkaats. Die mens is geskape met die soeke na lig en kleur. Blink goed weerkaats hoop en lig en laat die meeste mense beter voel.”

Of jy dus hou van net ’n bietjie glans of baie, dit doen tog iets vir jou.

Bling-aritkels

*Hierdie is ’n uittreksel uit die Mei-uitgawe van SARIE. Dié uitgawe is ongelukkig nie meer op die rak nie, maar kan HIER digitaal afgelaai word.