anna-mart

Anna-Mart en Marita. FOTO Willem Lourens

Hieroor praat mense

Anna-Mart in Marita se fliek

Die een ons gewildste voorbladgesig, die ander ’n geliefde SARIE-rubriekskrywer. 

En nou sien Anna-Mart en Marita uit na hul grootste avontuur saam: die rolprent Dis koue kos, skat.

Marita van der Vyver het Anna-Mart van der Merwe byna drie dekades gelede in een van haar heel eerste professionele rolle op die verhoog gesien – as ’n arm plaasmeisie wat in die Depressiejare kaalvoet Johannesburg toe stap – en sedertdien het die skrywer en die aktrise ’n lang pad saam afgelê. “Darem nie kaalvoet nie,” spot Marita, “maar Anna- Mart voel deesdae vir my soos ’n soort glamorous alter ego.”

Anna-Mart vertolk die hoofrol in ’n rolprent gegrond op Marita se roman Dis koue kos, skat, wat Marita self as draaiboek verwerk het saam met die bekroonde jong regisseur Etienne Fourie (Die Windpomp en Strikdas). Deon Meyer is die vervaardiger, en Deon Lotz, Elzabé Zietsman en Frank Opperman speel belangrike rolle. Almal groot name, maar die rolprent word gedra deur Anna-Mart, wat in byna elke toneel verskyn.

“Ek het die rol van Clara Brand vir Anna-Mart geskryf,” sê Marita, “en ek is dankbaar en verheug dat sy dadelik die uitdaging aanvaar het.”

Hulle praat ewe vinnig – veral as hulle opgewonde raak oor ’n onderwerp – en daar is baie waaroor hulle saam opgewonde kan word. Albei is lief vir reis en lees, lekker kos en sterk swart koffie, en albei het geluk gevind in ’n tweede huwelik met ’n buitelandse man wat uit ’n bedryf buite die kunswêreld kom. Anna-Mart se George Ware is ’n Zimbabwiese sakeman, Marita se Alain Claisse ’n Fransman wat met gestremde kinders werk. Albei woon deesdae weg van die stadsgeraas, nader aan die natuur, maar soek steeds nuwe professionele uitdagings.

Anna-Mart werk vir radio en TV, in rolprente en op die verhoog; Marita skryf vir alle ouderdomme, rubrieke en romans, kortverhale en kosboeke, en het voorverlede jaar ’n eerste radiodrama, Bagasie, aangedurf, waarmee die regisseur Margot Luyt ’n ATKV-Veertjie gewen het vir beste radiodrama. Die twee veelsydige vroue het kort voor die verfilming van Dis koue kos, skat in Kaapstad oor ’n bord (warm) kos gesels.

anna-mart

Anna-Mart van der Merwe. FOTO Morné van Zyl

Marita En dan is daar die emosionele reise wat jy moet aflê om ’n karakter te vertolk. Dis koue kos, skat is wat die Amerikaners ’n rom-com [romantiese komedie] sou noem. Is dit makliker om komedie te speel?

Anna-Mart Dis nie maklik om met volle oorgawe op die verhoog te huil nie, maar dis miskien selfs moeiliker om heeltemal natuurlik te lag en vrolik te wees. Wat van jou? Is dit makliker om iets te skryf wat lesers laat lag eerder as huil?

Marita Dis betreklik maklik om lesers te laat huil, hoewel jy heeltyd moet waak teen sentimentaliteit, maar lag is baie harde werk.

Anna-Mart Hoewel ’n rol soos Clara Brand natuurlik nie net komedie is nie. Sy gaan deur ’n volle spektrum van emosies oor ’n hele paar jaar. Van patetiese selfbejammering en woede en jaloesie – wat soms bitter snaaks is – tot kommer oor haar kinders en onsekerheid oor haar voorkoms en ’n nuwe romanse.

Marita Dis waarom ons ’n aktrise nodig het wat enigiets van komedie tot tragedie kan speel. En wie sou dit beter kon doen as ons eie Afrikaanse Meryl Streep?

Kyk Dis koue kos, skat se lokprent hier

Dis koue kos, skat is Vrydag, 26 Augustus landswyd te sien by alle fliekteaters!

Lees nou

Die 1ste liedjie van Sy Klink Soos Lente is hier!

Kyk! Sy Klink Soos Lente-lokprent