FOTO The Mother

FOTO The Mother

Hieroor praat mense

Anna-Mart word ‘ma’

Anna-Mart omarm oudword – “want dit verg moed om dit te aanvaar’’.

“En ja, ons verander al in die baarmoeder, maar ná 50 herinner die veranderingsproses ons dalk meer aan ‘einde se kant toe’ staan. En hierdie einde-storie is ’n misterie, daarin lê die spanning en terugverlang na dit wat was.”

Maar sy bly braaf en hou aan ontdek en aanvaar.

Soos sy opnuut in haar rol as Anne in The Mother* by the Fugard-teater bewys.

Depressie, leënessindroom, menopouse, alkohol- en medikasiemisbruik – dit is gróót temas in die toneelstuk uit die pen van die meesterlike Franse toneelskrywer Florian Zeller, in Engels vertaal deur Christopher Hampton.

“Anne is kompleks en werk deur ’n uiters verweefde sielkundige lewensfase. Ek gaan probeer om met kwiksilwer in my hande die vaste elemente daarvan vas te vang,” sê Anna-Mart.

Sy het deeglik navorsing gedoen deur oor hooftemas in die teks na te lees.

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO Leana Clunies-Ross

Die stuk volg op Zeller se The Father, wat einde verlede jaar opgevoer is met Marius Weyers in die rol van ’n ou man met demensie. Kaartjies was elke aand uitverkoop.

Anna-Mart is ewe bekend vir haar TV- en rolprentwerk as verhoogoptredes. Einde verlede jaar was sy briljant as jong vrou in die apartheidsera en later verbitterde mens met die totstandkoming van die demokratiese Suid-Afrika in Athol Fugard se The Painted Rocks at Revolver Creek. Ons ken haar van die sepie 7de Laan (SABC2) en films soos Die storie van Klara VIljee en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom – die lys is te lank om op te noem.

Oor The Mother se bekroonde regisseur, Janice Honeyman (veral bekend vir haar pantomimes), sê sy: “Sy het my geleer die pad na ’n karakter se waarheid lê in die vreeslose soeke na waar hart en kop ontmoet.” Haar en Honeyman se saamwerk strek oor meer as ’n dekade met onder meer klassieke stukke soos Oom Wanja/Uncle Vanya (2004), Twaalfde Nag (2005) en die pantomime Cinderella (2011).

Wie sal aanklank vind by die stuk? “Die hele gesin. Almal wat al ’n pad saam met hul ma geloop het. ’n Man saam met sy vrou, ’n ma saam met haar man en kinders en haarself,’’ meen Anna-Mart.

Anna-Mart speel baie graag (ook) in Afrikaans toneel. “Ek is mal vir Afrikaans, my moedertaal. Dit is deel van my gene, my ritme en grein. My emosie en taal is een, elke woord is ewe mooi of lelik, soos hulle my van klip tot klip laat spring oor die malle rivier binne my wat ek ’n stem probeer gee. Afrikaans kan nog veel langer stap dan net ’n honderd jaar. Ek is ewig dankbaar dat ek dit mag gebruik.”

anna-mart

Anna-Mart van der Merwe. FOTO Morne van Zyl

En daarom is sy ook mal en dankbaar oor kunstefeeste. “Hopelik sal ons Afrikaans daar ook meer in haar omvattende Suid-Afrikaanse en Afrika-konteks plaas. Niemand ‘besit’ ’n taal nie. Só lê jy ’n baba dood. Die toekoms van Afrikaans sal bepaal word deur hoe eerlik ons met onsself is en ons vrese en agterdog omswaai in positiewe, konstruktiewe energie.’’

Sy is opgewonde oor vanjaar se KKNK waar sy in Tertius Kapp se nuwe stuk, Liewer, speel. Die bekroonde regisseur Jaco Bouwer behartig die regie.

* THE MOTHER word van 7 Februarie tot 4 Maart in die Fugard-teater in die Ou Distrik Ses in Kaapstad opgevoer.

Navrae: 021 461 4554 (afslag van 15% vir lede van die Fugard-teater)

Kaartjies: R130 tot R160, klik hier.

Lees nou

Leandie du Randt se besige 2017

Dekor trends vir 2017

Bobby en Kurt albei 6 jaar getroud