FOTO www.annefrank.org

FOTO www.annefrank.org

Hieroor praat mense

Anne Frank nou in die Kaap

Anne Frank: A History for Today

Nelson Mandela Gateway, V&A Waterfront tot 21 Julie. Oop van 07:30 tot 18:00, Maandae tot Sondae.

In hierdie internasionale rondgaande tentoonstelling word die Frank-familie se storie vertel teen die agtergrond van wêreldgebeure voor, tydens en ná die opkoms van Hitler en die Nazi-party. Dié tentoonstelling stel hom ten doel om ’n groter begrip vir demokrasie, positiewe burgerskap, diversiteit en gemeenskaplikheid en die verskriklike menslike gevolge van vervolging en oorlog.

Die dagboek, wat Anne op haar dertiende verjaardag ontvang het, beskryf haar lewensverhaal van 12 Junie 1942 tot 1 Augustus 1944. Dit is reeds in baie ander tale vertaal en is een van die wêreld se mees gelese boeke, asook die basis vir verskeie rolprente en toneelstukke. Sy is een van die bekendste en mees bespreekte slagoffers van die Joodse volksmoord.

FOTO www.annefrank.org

FOTO www.annefrank.org

Sy is op 12 Junie 1929 as Annelies Marie Frank gebore in Frankfurt, Duitsland. Die Frank-gesin was liberale Jode wat in ’n geassimileerde gemeenskap van Jode en nie-Jode gewoon het: hulle kinders het saam met Rooms-Katolieke, Protestantse en Joodse maats grootgeword. Die gesin het ook nie al die gewoontes en tradisies van Judaïsme nageleef nie. Met die opkoms van Hitler verhuis hulle na Amsterdam, maar gedurende die Duitse besetting van Nederland is hulle daar vasgevang. Die familie het in Julie 1942 begin wegkruip in ’n versteekte kamer in haar pa se kantoorgebou. Ná twee jaar is hulle, saam met ander mense wat ook daar geskuil het, verraai en vervoer na ’n konsentrasiekamp.

5 Anne Frank-feite

1) Anne Frank het op 12 Junie 1942 ’n dagboek vir haar dertiende verjaardag ontvang. Dit was eintlik ’n handtekeningboek (sien foto hierbo) wat sy vroeër vir haar pa gewys het in ’n boekwinkel. Dit is gebind met rooi-en-groen geruite wolstof met ’n klein slot op die voorkant, maar Anne het besluit om dit as ’n dagboek te gebruik en byna onmiddellik haar eerste inskrywing gemaak.

2) Toe die familie vlug, moes Moortjie, Anne se geliefde kat noodgedwonge agtergelaat word. “Ek mis Moortjie elke oomblik van die dag – niemand weet hoe baie ek aan haar dink nie. Wanneer ek aan haar dink, kry ek trane in my oë. Moortjie is so ’n skat, ek is so lief vir haar. Ek droom van allerhande planne om haar terug te kry,” skryf sy in die dagboek op 12 Julie 1942.

3) Haar dagboek is uit die oorspronklike Nederlands deur Lina Spies vertaal en vir die eerste keer in 2007 in Afrikaans uitgegee as Die Agterhuis.

Die agterhuis Lina Spies

4) Anne het daarvan gedroom om ’n aktrise te word. Sy was mal oor rolprente, maar Nederlandse Jode is toegang tot fliekteaters in 1941 verbied.

5) In Maart 1945 sterf Anne in die Bergen Belsen-konsentrasiekamp – maar nie in die gaskamers nie. ’n Paar weke voor die kamp bevry is deur Britse troepe verloor die uitgeteerde Anne die stryd teen tifus, dieselfde siekte wat ook haar suster se lewe geëis het. 

Bron: Wikipedia & www.annefrank.org

Lees nou

Uitbranding, stres en depressie oorheers ons wêreld

RSG se Martelize skryf resepteboek