Hieroor praat mense

Bekendstelling van die Innibos-feesprogram 2015

Die program van die twaalfde Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees, wat van 1 tot 5 Julie plaasvind, is Vrydagaand (15 Mei) tydens die gratis loodkonsert in Nelspruit bekendgestel en behoort feesgangers se harte te laat warm klop oor die wye verskeidenheid vermaak wat deur die sowat 350 topkunstenaars aangebied gaan word.

Vanjaar se tema is “Fees met hart” en om dit gestand te doen, is daar ’n uitreiking- en bewusmakingsveldtog om die kunstefees ook toeganklik te maak vir Dowes. Só sal ’n tolk tydens een van die gewilde aandkonserte op die Standard Bank-verhoog die vertoning in Gebaretaal weergee.

Dié feesterreinkonserte saans is immergewild. Kunstenaars wat gaan optree, sluit in Laurika Rauch, Bok van Blerk, Riana Nel en Elvis Blue, om maar ’n handvol te noem. Nog talle kunstenaars, waaronder Mathys Roets, PJ Powers en Pieter Smith sal daagliks by die vier gratis verhoë op die feesterrein optree, terwyl diegene met jeukende voete lekker kan riel op die dansvloer voor die kykNET-verhoog in die Bosmôl. Vir die jongeres van gees is daar ook die rock-verhoog waar onder andere Gerald Clark, Monark, Francois van Coke en Bittereinder die kitare sal slaan.

Vanjaar se toneelproduksies bied eweneens ’n verskeidenheid te kus en keur. Die debuut-toneelproduksie Die dag is bros uit die pen van die oud-Laevelder Wessel Pretorius het ’n stewige rolverdeling met Sandra Prinsloo, Nicole Holm, Ben Albertyn en Dean Smith. Familie, vergifnis en herinneringe kom aan die bod. Dit beloof om ’n stuk te wees wat aan die hart sal gryp.

Ander toneelproduksies is Elsie se nommers met Gys de Villiers; Die Waarsêer met David Rees, Hannes Brümmer, André Stolz en Heidie Mollentze; Frats met die Fiësta-genomineerde Francois Jacobs en Viljé Martitz, en Feeskatte met Elsabé Daneel, Joanie Combrink en Susanne Beyers. Daneel is ook te sien in die eenvrou-drama Bittersoet deur Deon Opperman.

’n Lekker en ligte dosis komedie is vanjaar op die planke. Die buite-egtelike oupa deur Nico Luwes is ’n prettige gesinskomedie wat vol sale getrek het by die KKNK en Vryfees, terwyl die behoudende waardes so swaar weeg soos die kuns van piekel in Schalk Schoombie se drama Gepiekel met onder andere Henriëtta Gryffenberg en Altus Theart. Nog ’n kosstorie is Net ’n chill burger en chips, asseblief! met Leon Kruger en Waldemar Schultz. Neels van Jaarsveld staan sy man in Innie rof oor ’n man so algemeen soos margarine en aartappelslaai… totdat hy begin gholf speel.

In Die Woema en ʼn Windgat Wyfie gaan Shaleen Surtie-Richards die lagtrane laat loop, terwyl almal nou reeds weet wat hulle te wagte kan wees in die ligte My Boetie se Boetie se Boetie se Baba.

Die kinders word nie afgeskeep nie – hoewel die ouers dit dalk net meer kan geniet as die kleinspan – met die pantomime Liewe Hekse: Flower Power. Margit Meyer-Rödenbeck en ’n stewige span akteurs zoesh vir Heksie in ’n splinternuwe gedaante op. Jy sál lag, gewaarborg.

Aan die musiekfront is ’n hoogtepunt Hart en see met Laurika Rauch en Elvis Blue tesame met die pianis Janine Neethling en geregisseer deur Deon Opperman. Drie van die bestes met Mathys Roets, Danie Niehaus en Kevin Leo is soos altyd ’n gedugte en talentvolle driemanskap, en Ses Snare is ná twee jaar weer terug by Innibos in Die Beste van Ses Snare.

In die Meridian Karino Innibos Koorfees onder die bekende koorleier Michael Barrett van die Universiteit van Pretoria tree verskeie skoolkore van elders in die land sowel as plaaslike gemeenskapskole saam op ná gesamentlike werksessies asook meesterklasse vir koorleiers. Brenden Ledwaba van Idols-faam en Burgerd en Zita tree saam met die kore op.

Die La Vita Klassieke Keur het die afgelope paar jaar groot aftrek gekry. Kunstenaars Rouel Beukes, Wouter Kellerman, Jaunelle Celaire en Ockie Vermeulen tree op met gaskunstenaar Kevin Leo vir die gala-aand. Kos en musiek uit die boonste rakke.

Die kykNET Kos-crawl word vanjaar vir die tweede keer aangebied en feesgangers sal nie gras onder hul voete moet laat groei vir dié kaartjies nie. Dit is ’n allegaartjie-program met kosdemonstrasies, musiek en stories deur onder andere Niël Stemmet (sout+peper), Cordon Broers Lochner de Kock en Jannie du Toit, Jak de Priester en Seline van der Wat en Kokkedoor- en Makietie-aanbieders Tiaan Langenegger en Mynhardt Joubert.

Die stewige boekprogram se hoogtepunt is ongetwyfeld Woorde Innituin met bekroonde digter Antjie Krog wat in die Laeveld kom kuier en voorlees uit haar nuutste bundel Medewete. Saam met haar sal die Sotho-digter Mannini Mokhuto optree. Gerald Clark sal getoonsette gedigte speel, en kunswerke deur Ilona Petzer, Annalie Odendaal, Erica Schoeman, Celeste Higgs en Mariana Zwaan de Bruin sal die woordkuns visueel vergestalt.

Ander boekproduksies by Boeke OppiStoep sluit in gesprekke met Karin Brynard (Plaasmoord, Onse Vaders), Kerneels Breytenbach (Piekniek by Hangklip, Ester), Leon van Nierop (Ballade vir ’n enkeling) en Marthie Maré (Die legkaart van jou gesig).

Vanjaar se feeskuntenaar is die konseptuele kunstenaar Willem Boshoff wat in ’n wye verskeidenheid materiale werk wat wissel van hout, graniet, sand en optelgoed.

Om asem te skep tussen dié talle aanbiedings kan feesgangers gerus ’n draai maak in die Boma Kuierteater waar gratis en kort toneelstukke opgevoer en kort onderhoude gehou word. Vir fliekvlooie is daar die gratis Bosbioskoop waar die Silwerskerm-wenners se flieks gewys word, en vir die kleinspan is daar deurentyd vermaak by die oppasdiens Apies-in-die-Bos. Die Bosmôl is weer die koopmekka met talle stalletjies.

Die volledige program is beskikbaar by www.innibos.co.za. Kaartjies vir die feesterrein en teaterproduksies is te koop by www.innibos.co.za of Computicket. Navrae 013 741 5294.

Blaai deur die foto-galery vir foto’s van die kunstenaars

Bobby van Jaarsveld

Shaleen Surtie-Richards

My boetie se boetie se boetie se baba

Kurt Darren

Elvis Blue

Die buite-egtelike oupa

Dewald Wasserfall

Nicholis Louw en Elizma Theron